Polisie aangemoedig om gevaarlike misdadigers te skiet

Argieffoto Foto: SAPS, Facebook

Argieffoto Foto: SAPS, Facebook

Die polisie van die Oos-Kaap is oor die naweek aangemoedig om kriminele te skiet wat ʼn gevaar vir polisiebeamptes inhou, het The New Age Maandag berig.

“Jy moet skiet as kriminele jou lewe in gevaar stel,” het adjunk-polisiekommissaris genl.maj.  Zamuthango Mki gesê. “Ons kan nie voortgaan om begrafnisse by te woon van polisiebeamptes wat deur kriminele vermoor word nie.” Mki het polisiebeamptes Saterdag tydens die begrafnis van sers. Thembile Gulwa by die Ngcwazi nedersetting in Ngqamakhwe toegespreek.

Gulwa is in Februarie in Kinkelbos, Port Elizabeth, doodgeskiet tydens ʼn voorval waarby sewe verdagtes betrokke was.

ʼn 37-jarige man is ná die voorval vir Gulwa se moord in hegtenis geneem. Ses verdagtes is nog soek.

Mki het aan die gemeenskap gesê hulle moet ophou om kriminele te beskerm. “Wanneer ʼn mens dít doen, dra ʼn mens by tot misdaad in die gebied.”

Bheki Cele, die voormalige nasionale polisiekommissaris, het in 2009 gesê hy wil die wet verander om die polisie toe te laat om kriminele “te skiet om dood te maak sonder om bekommerd te wees oor die nagevolge”.

Die parlement het in 2012 die Strafproseswysigingswetsontwerp goedgekeur. Dit gee riglyne oor wanneer en hoe dodelike geweld mag gebruik word om ‘n inhegtenisname uit te voer. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jasper ·

Jou volgende meningsverskil met n polisiebeampte kan van jou n gevaarlike misdadiger maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.