Pringlebaai-inwoners moet vlug voor vlamme

‘n Waas hang oor die gebied waar die brande steeds voortwoed. (Foto: Overstrand Munisipaliteit)

Alle inwoners van Pringlebaai in die Wes-Kaap is Dinsdag opdrag gegee om na veiligheid te vlug nadat ʼn brand in die gebied blitsvinnig versprei het.

“Vir jou eie veiligheid moet jy jou huis dadelik verlaat,” het Dean O’ Neill, munisipale bestuurder by die Overstrand-munisipaliteit, teen 13:00 in ʼn verklaring gesê.

Die Kleinmond-dorpsaal is as die noodontruimingsentrum aangewys en mense – en hul troeteldiere – kan daar ʼn veilige hawe vind terwyl die brande in die gebied voortwoed.

Die munisipaliteit het vroeër lug- en grondspanne ontplooi om aktiewe brandonderdrukking in die berggebied te doen. Brandbestryders is ook aan die voet van die berg ontplooi.

Inwoners is Dinsdag aangesê om na veiligheid te vlug. (Foto: Verskaf)

Inwoners van Brodie Link in Pringlebaai is eerste opdrag gegee om die gebied te verlaat, terwyl alle ander inwoners gewaarsku is om op ʼn gereedheidsgrondslag te bly sou hulle op kort kennisgewing moes vlug. Dié opdrag het kort ná die aanvanklike ontruimingsopdrag gekom.

Sogenaamde “ramptoeriste” is ook gemaan om nie gebiede binne te gaan waar brandbestrydingsbeamptes werk nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.