Regsadvies bekom oor kultuurerfenis in Lichtenburg

Buite die museumgebou staan hierdie trekker gestroop (Foto verskaf deur die FAK)

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) gaan regsadvies nader oor wat die volgende stap is om Ditsobotla-munisipaliteit tot aksie te dwing. Dit is rakende die skandelike afbreek aan die kosbare kultuurerfenis van Lichtenburg en sy museums.

“Dit is so ’n frustrasie om te sien hoe verantwoordelikhede rondgegooi word, want niemand wil verantwoordbaarheid aanvaar nie. As dit die swak bestuur is van die plaaslike regering, wat is die toekoms van die museum?” wil Barry Müller, kultuurkoördineerder van die FAK, weet.

Die FAK is al meer as drie maande in gesprek met die munisipaliteit nadat ’n brand in ’n lokomotief, wat deel uitmaak van die uitstalling by die Noordwes-landboumuseum, lig gewerp het oor die algehele stand van sake by dié museum.

Intussen het die FAK ook verneem van diefstal, vandalisme en blote wanbestuur, wat aan die orde van die dag is.

Die FAK het verskeie skrywes aan die munisipaliteit gerig in ’n poging om verdere skade te voorkom en eis terugvoer.

Die skuur na die onlangse inbraak (Foto verskaf deur die FAK)

“Daar word deurlopende nuwe waarnemende bestuurders by die munisipaliteit aangestel en dit is duidelik dat die stand van sake in die dorp nie op munisipale vlak bestuur kan word nie. Hoe kan hulle dan nog vir ons erfenis omgee? Dit is tyd om aksie te neem,” sê Müller.

Hierdie museum is kern aan die Suid-Afrikaanse identiteit en Lichtenburg was een van die eerste groot landboudistrikte. Talle kosbare erfenisskatte word in dié museum gehuisves en gaan tot niet.

Die FAK het ook ’n petisie van stapel gestuur vir die verskuiwing van die voorwerpe na ’n veilige hawe, totdat die munisipaliteit die strukture op die terrein kan opknap en die sekuriteit kan opskerp, sodat die veiligheid en voortbestaan van hierdie items gewaarborg kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.