Regstellende aksie dalk gou onwettig in VSA

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Die federale hooggeregshof in die VSA sal later vandeesmaand twee sake aanhoor wat, indien die hof in die guns van die klaers sou beslis, ʼn einde aan regstellende aksie en rassekwotas in die VSA kan bring. Albei sake handel oor rassekwotas by universiteite en die vraag oor of dit grondwetlik is.

Verskeie sake oor die grondwetlikheid van regstellende aksie en rassekwotas het die afgelope sestig jaar voor die hof gedien. In 2003 het die hof, toe nog met ʼn meerderheid liberale regters, in die saak van Grutter teen Bollinger beslis dat rassediskriminasie, in die regstelling van die historiese benadeling van minderhede, geregverdig kan word.

Nadat president John F Kennedy in 1961 en president Lyndon B Johnson in 1965 uitvoerende bevele uitgevaardig het wat regstellende aksie − veral op federale regeringsvlak − begin afdwing het, was daar in verskillende sektore van die VSA prosesse om diversiteit deur regstellende aksie en selfs rassekwotas te bevorder.

Sedertdien het die Amerikaanse arbeidsmark sodanig ontwikkel dat regstellende aksie grootliks oorbodig geraak het met minderhede, soos swart Amerikaners, wat dikwels in regeringsdepartemente oorverteenwoordig is. Baie Amerikaanse universiteite het egter aangehou om rassekwotas deel van hulle keuringsbeleid te maak, wat veral veroorsaak dat swart studente met wesenlike swakker prestasie op skool baie makliker as wit Amerikaners en Amerikaners van Asiatiese afkoms toegang tot universiteite kry.

In 1978 het die federale hooggeregshof reeds beslis dat ras slegs ter wille van algemene diversiteit by universiteite gebruik mag word en dat dit nie tot nuwe uitsluiting moes lei nie. Regter John Paul Stevens het in sy eie opinie in die 1978-saak gesê dat die Amerikaanse grondwet juis alle diskriminasie op grond van ras verbied en dat daar geen grondwetlike beskerming vir regstellende aksie en rassekwotas is nie, aangesien dit in wese ʼn nuwe vorm van rassediskriminasie daarstel.

Regstellende aksie is die afgelope paar jaar, onder andere, deur referendums en wetgewing in deelstate se wetgewers reeds deur nege van die VSA se vyftig deelstate verbied. As deel van die saak wat later hierdie maand deur die federale hooggeregshof aangehoor sal word, het die Universiteit van Oklahoma ʼn verslag ingedien wat daarop dui dat die getal studente uit minderheidsgemeenskappe wat aan dié universiteit studeer, selfs toegeneem het nadat Oklahoma in 2012 regstellende aksie verbied het.

Volgens ʼn peiling wat vroeër vanjaar deur die Pew Navorsingsentrum in die VSA gedoen is, is 74% van Amerikaners teen rassekwotas by universiteite gekant. Met die federale hooggeregshof wat tans uit ses konserwatiewe en drie liberale regters bestaan, is daar ʼn goeie kans dat die hof ʼn algemene beslissing teen regstellende aksie kan maak.

Hoofregter John Roberts het homself al in vorige hofuitsprake sterk teen die verdeling van Amerikaners volgens ras uitgespreek. Regter Clarence Thomas het regstellende aksie as vernederend vir alle Amerikaners beskryf.

Die groot vraag is of ʼn meerderheid van die regters bereid sal wees om ʼn streep deur vorige beslissings van die hof te trek en alle vorme van regstellende aksie en rassekwotas ongrondwetlik te verklaar. Dit lyk tans of daar ʼn goeie kans is dat presies dit kan gebeur en dat regstellende aksie in die VSA daarmee finaal tot ʼn einde kan kom.

  • Hierdie nuuskommentaar is deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eden ·

Ek twyfel sterk of dit sal gebeur. Daar is so elke 10 jaar sulke sprake, maar dan verdwyn dit weer. Inteendeel, as die tendens tans voorduur, gaan regstellende aksie verder gedy in die VSA (met gevolge soos in SA). Ook in Europa word dit meer en meer toegepas. Ek wil so ver gaan om te sê dat selfs al word dit verwyder op die wetboeke, maatskappye en politieke druk om dit verder uit te brei, erg gaan toeneem.

Nee wat, regstellende aksie het nou eers opgewarm.

Hendrik ·

Ons warm ook op en sal klein besighede stig onder 10 mense om AA te vermy. Dit is klaar besig om te gebeur.

Di ·

Wens dit wil hier by ons gebeur. Die ANC regering het HOPELOOS OORBOORD gegaan met hierdie ras snert wat hulle in almal se kele afdruk! Kyk hoe het die land verval in totale riool vandat hierdie beleid in plek gesit is. Meeste wat aangestel is in poste en die wat op universiteite sit is onbevoeg om die werk te doen en meeste slaag nie hulle vakke op universiteit nie. Met hierdie wet is dit SLEGS die Swartes wat bevoordeel word, selfs die Indier en Kleurlinge is nog steeds uitgesluit binne hierdie wet. Dis SWART of niks. Staatsdiens is huidiglik 99 persent swart!

Manie ·

Hoekom moet daar in die eerste plek in die liberale land regstellende aksie wees, spog hulle nie gereeld met die beste grondwet nie?

Schalk ·

Ek verstaan nie hoekom moet ‘n groep mense wat tradisioneel glo aan baie kinders en in baie gevalle nie verandwoordelikheid wil aanvaar vir die kinders nie,dan in die samelewing bevoordeel word met werksverskapping.

Sterling ·

Om ‘n beleid in plek te stel wat een groep bevoordeel, benadeel dan automaties ‘n ander groep. Die grootste probleem is egter dat ‘n beleid nie bydra tot menswaardigheid nie. Inteendeel, die beleid het juis die teenoorgestelde tot gevolg.

Draai bietjie die beeld om – as jy aangestel word in ‘n pos net omdat jy ‘wit’ is – nie omdat jy goed presteer het nie, hoe voel jy? Die kort termyn antwoord sal dalk wees ek voel goed, want ek het ‘n werk, maar op die lang termyn sal die idiologiese vraagstuk weer na vore kom. Veral as jy besef, jou harde werk word glad nie in ag geneem nie, aldus meriette of bevoegdheid ook nie. Jy is slegs ‘n pion stuk in ‘n politieke spel.

Daar moet ‘n sperdatum vir enige beleid gestel word. Kyk hoe werk dit vir die volgende 5jaar, dan moet dit herevalueer word. Die huidige ‘skoon’ tjek wat die quislinge aan die ANC gegee het, ontneem ander van hul menswaardigheid en was dalk ‘n kort termyn oplossing, maar gaan nie deug in die lang termyn van die land nie

Vrijburger ·

Spesifiek in die VSA sal die agenda steeds gedryf word deur maatskappye se opsessie met diversiteit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.