Riana Nel deel gebed vir ma’s met skuldgevoelens

(Foto: Maroela Media)

Jou geduld is by die venster uit na jou kleuter geweier het om die wortelstokkies te eet, wat jy liefdevol gisteraand om 23:00 nog gestaan en voorberei het. Hy soek visvingers, hy eet net visvingers vir ontbyt, middag- en aandete.

Jou baba het ʼn kneusplek op die voorkop, want jy het net jou rug vir ʼn minuut op haar gedraai en jou oudste is veels te koud aangetrek skool toe vanoggend. Almal in die huis spandeer heeltemal te veel tyd voor die skerms. Jou baas blaas in jou nek want jou werk sloer … jy moes al weer tyd afvat om jou siek kind op te pas.

As jy ʼn mamma is sal hierdie tafereel maar net te bekend klink. Voor jy jouself kan kry, bekruip die skuldgevoelens jou om 03:00 die oggend en kom lê soos ʼn ystergreep om jou keel.

Die sangeres Riana Nel, ook ʼn ma van vier, en het juis Dinsdag ʼn video op Facebook gedeel waar sy erken sy ly aan ʼn ernstige klomp skuldgevoelens, of “mom guilt” soos daar soms na dit verwys word.

“Ek weet nie, is daar iemand wat raad het? Ek weet ek moet perspektief hou, maar ek weet net partykeer nie hoe om balans te vind en alles bymekaar te hou nie.”

Die video is reeds meer as 31 000 keer gekyk en ʼn honderde mense het kommentaar gelewer. Baie het erken hulle is maar net te goed vertroud met dié soort skuldgevoelens en bely hulle vra God om daaglikse leiding.

Kyk hier na Riana Nel se gebed vir mammas met skuldgevoelens:

JESUS HELP???????? #momguilt

Posted by RIANA NEL on Tuesday, July 11, 2023

 

Hoe gemaak as jy met dié soort skuldgevoelens stoei? Dr. Melissa Young, ʼn sielkundige verbonde aan die Cleveland Clinic, sê die gevoelens duik dikwels op as jy jouself aan ander ouers of ʼn gemeenskap se voorgeneemde standaarde vir ouerskap begin meet. En ja, pappas kan ook aan “mom guilt” lei.

(Foto: Daria Obymaha/Pexels)

Hier is wenke om met daardie skuldgevoelens klaar te speel:

Besin oor jou en jou gesin se waardes

As jy en wederhelf ʼn raamwerk skep vir wat dit behels om ʼn “goeie ouer” te wees, kan dit reeds help om jou skuldgevoelens te verlig.

Wanneer jy weet wat jou waardes is, kan jy jou ouerskapskeuses met selfvertroue maak en jou geestestoestand beskerm. Jy gaan waarskynlik nie so skuldig voel as jy weet jy volg dit waarin jy glo nie, sê Amy Webb van PsychCentral.

Selfsorg

As jy te veel onttrekkings uit jou rekening maak, gaan jou bankbalans iewers vorentoe vinnig in die rooi draai. Dieselfde beginsel geld vir jou emosionele welstand ook. Wanneer jy nie tyd vir jouself maak nie, gaan jou gevoelens van spanning en weersin ophoop.

Die eindresultaat is dat jy prikkelbaar en angstig word, en skree, wat beteken jy het selfs nog meer skuldgevoelens omdat jy nie die perfekte ouer is nie.

Selfsorg kan beteken dat jy iets so eenvoudig doen soos om tien minute saam met jou Skepper in Bybelstudie te spandeer. Dit kan ook ʼn bad met Engelse sout wees, of ʼn gesprek met ʼn goeie vriendin. Oorweeg dit om om die blok te gaan stap, ʼn boek te lees of jou gunstelingprogram te kyk.

Die punt is om jou emosionele tenk vol te maak sodat jy weer daar kan wees vir jou gesin, maar gee jouself toestemming om ʼn klein bietjie tyd daagliks vir jouself opsy te sit.

Stop en haal asem

Asemhaling is iets wat ons dikwels net as vanselfsprekend aanvaar, maar jy kan dit inspan om van jou vleg-of-vlug-modus te ontkoppel as die spanning jou gryp.

As skuldgevoelens of stres jou pak kan jy die vyfvinger-asemhalingstegniek probeer om jou denke te herstel:

  • Trek jou asem in terwyl jy jou een vinger gebruik om jou teenoorgestelde duim stadig van die basis tot by die punt te volg.
  • Asem uit terwyl jy jou vinger oor die agterkant van jou duim se punt na die basis trek.
  • Herhaal die asemhalingsoefening met elke vinger: trek jou asem in terwyl jy optrek en asem uit as jy jou vinger aftrek.
  • Wanneer jy die onderkant van jou pinkie berei, kan jy omdraai en die oefening herhaal.

Wenk: Die asemhalingstegniek werk ook uitstekend vir kinders en jy kan hulle gerus aanmoedig om die tegniek te gebruik om hulle eie spanning te reguleer.

Vermy die vergelykings

Ons almal wil die beste wees, maar om onmoontlike, onbereikbare doelwitte te stel is niks anders as ʼn resep vir mislukking en skuldgevoelens nie.

As jy eers begin vergelyk met die medewerker wat ʼn multimiljoen-rand beleggingsportefeulje foutloos bestuur terwyl sy nooit ʼn wedstryd, balletvoordrag, swembyeenkoms of skooluitstappie mis nie, of aanhou kyk na daardie perfekte ouers se raad op sosialemediaplatforms, gaan jy ongelukkig wees.

Onthou, jy ken nooit die volle storie nie, want mense deel selde die hele prentjie. Mense kyk ook party dae na jou en dink dat jy alles perfek doen. Dit is alles net ʼn kwessie van persepsie.

Jy is nie perfek nie en hulle ook nie. Dit is dalk moeilik om nie te vergelyk nie, maar as jy dit kan vermy, sal dit jou help om jou verwagtinge vir wat jy wel kan bereik, op ʼn meer hanteerbare vlak te hou.

Praat dit uit

“Om uit te reik na ’n goeie vriend of om jou skuldgevoelens met ’n maat of vertroude individu te deel, kan help om jou te herinner dat jy nie alleen is nie,” sê dr. Young.

As skuldgevoelens en stres jou vermoë om ’n vol lewe te geniet, beïnvloed, of as dit ’n uitwerking op jou fisieke welstand het, is dit tyd om met ’n professionele persoon daaroor te praat.

“Mom guilt” is natuurlik, maar dit beteken nie dat jy dit bloot net moet verdra nie. Neem tyd vir jouself en hou jou verwagtinge redelik. Jy hoef nie ’n superheld te wees nie. Doen net jou beste as ouer, want die kans is goed dat jy baie goeie werk doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.