Roman oor verlies en weer vol word

Die kinders van Spookwerwe deur Lize Albertyn-du Toit word uitgegee deur Human & Rousseau Uitgewers.

My geliefde skoonpa is onlangs baie skielik en onverwags oorlede. Ek weet maar te goed hoe bevoorreg ek was om so ’n spesiale mens soos hy te kon ken. Hy het nooit geskroom om te sê: “Ek is lief vir jou, ou Louisie” nie. Ek sal hom nooit vergeet nie en gaan baie verlang.

Ek het in hierdie hartseer tyd Lize Albertyn-du Toit se Die kinders van Spookwerwe gelees. Sy skryf die volgende oor die dood op bladsy 27:  “Die dood is ’n losloperding. Hy stap saam met jou op die werf, kyk vir jou met dowwe oë terug in die spieëltjie. Hy maak mense in die dorp nuuskierig. Saans klim hy met sy koue pote saam met jou in die kooi en kom steel jou slaap. Hy laat jou heelnag lank wakker lê. Die Kaliempies moes nuwe voetpaadjies begin uittrap so tussen die verliesplekke en brakkolle deur.”

Die lief en leed van die Karoo Kaliempies kom lê in jou derms. Mieta gee haar linge af aan die dood, en nou is Milano – die slim seun wat graag lees en vanaf die windpomp die wêreld doer ver onder hom dophou – haar en Hennerik se enigste vlaktekuiken. Milano wat, soos buurman Geelsuiker sê, bestem is om die grootpad te vat. Hy moet sy skoolloopbaan voltooi. “Moenie hom in ’n klein kampie ingekeer hou nie.” Die Kaliempies moet na die Swartland toe trek. Mieta is “heel gat oor kop geslat met dié ding”, want sy moet die “netjies versorgde graffie met met die wit en swart klippies” agterlaat, en hoe doen ’n ma dít? Maar Milano is ook haar klonkie en hy leef immers. Die lewe gaan aan.

Die flapteks dui kortliks aan dat dit ’n roman is “oor ma-wees, oor grootword, en oor verliese. Maar ook van weer vol word”. Tog is die storie soveel groter. Dis deurspek met onvergeetlike karakters wat eg méns is, eenvoudige maar treffende hartsdialoog wat jou laat regop sit en nadink, en van die mooiste beskrywings van die natuur wat jy in Afrikaans sal lees. “Die lente pronk. Mieta geniet dit om om in haar af tydjies in die bossiekop rond te stap en haar te verkyk aan die baie soorte blommetjies – rooi oranje piempiempies, geel en pers bobbejaantjies, oranje kalkoentjies. Surings gaan oop in pienk, appelkoos en geel kolle wanneer die son hulle soen, en die gousblomme staan dik in die blom in die weidingskampe.” Ook: “Dis nog relatief vroeg en die veld is lewendig. ’n Akkedis blits onder ’n bos in. ’n Lewerik triedelie vooruit van bos tot bos. Op ’n haak-en-steekbos maak die karoolangstertjie alarm: tjiek-tjiek, tjiek-tjiek. Ragfyn toktokkiespoortjies loop in die sand. Kapokbosdonsies lê onder graspolle ingewaai. Janfiskaal het sy sprinkaan op ’n driedoring se tak gespies.”

En ja, al gaan die storie oor verlies en die rimpeleffek daarvan, is dit nie ’n swaar stuk leeswerk nie. Daar is ook vrolikheid. “Bennetjies gooi vir hom sy wyerand-veldhoed, en die rieldans begin. Eers sleep-sleep, sleep-sleep Kootjie die stof uit met sy voete. Hy wink vir Sointjie en Poekie nader. Kamtig skaam lag hulle agter hulle hande en skarnier heen en weer op hul bolywe, maar word gou deur die grootmense aangemoedig tot op die dansvloer. Kootjie maak hulle die hof. Sleep-sleep weer sy voete, en dan stamp hy meteens hard dat die stof opplof. Skud dan weer vinnig sy voet asof hy rooimiere trap. Loop dan laag soos ’n bloukopkoggelmander, en die twee meisiekinders begin terugdans.”

Ek voel verryk nadat ek dié pragboek van 352 bladsye gelees het. In die woorde van boek-connoisseur Anschen Conradie: “Hierdie een gaan saam met my ouetehuis toe.” Ek sal ook weer nuwe voetpaadjies uittrap ter ere van Pa Piet – hy wat met soveel oorgawe mens gewees en geleef het.

Meer oor die skrywer: Lize Albertyn-du Toit voltooi haar honneurs in sielkunde by Stellenbosch. Sy en haar man boer saam op Vlakkerug naby Riebeek-Wes. Sy is ’n remediërende onderwyser by Riebeeck Vallei Spesiale Skool.

Skaf Die kinders van Spookwerwe hier aan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nonnie ·

Beslis werd om te lees. Kan amper nie glo dit is die skrywer se eerste boek nie – fantastiese beskrywings, baie humor! Ek is amper te bang om klaar te maak met die boek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.