Rooibos-bra gaan geld vir borskankerbestryding insamel

ʼn Pragtige pienk bra, wat amper heeltemal uit gebruikte rooibosteesakkies gemaak is, word eersdaags by ʼn private geleentheid in Johannesburg opgeveil om Kansa se bewusmakingprogramme te ondersteun.

Dié besonderse bra is deur die Suid-Afrikaanse Rooibosraad (SARR) ontwerp en deur Storm in A-G Cup, ʼn Kaapse boetiek wat in fyn onderklere spesialiseer, gemaak om bewustheid oor borskanker te skep. Dié siekte affekteer omtrent een uit elke 27 vroue in Suid-Afrika.

Adele du Toit, woordvoerder van die SARR, sê die ondersteuning van die publiek, wat gebruikte en gedroogde rooibosteesakkies vir dié doel moes instuur, het hulle oorweldig.

“Daar is slegs 450 rooibosteesakkies in die finale ontwerp gebruik, maar omtrent al die ander geskenkte sakkies is gebruik om verskillende ontwerpe van die bra te maak. Ons het juis rooibostee gebruik omdat dit sterk anti-oksidante bevat wat ʼn teenvoeter teen inflammasie is en help om kanker te beveg.”

Die skoonheidsproduktevervaardiger, Annique, sê dat slegs rooibos aspalatien bevat – ʼn skaars anti-oksidant wat verskeie gesondheidsvoordele inhou. Groen rooibos het nog hoër vlakke van die anti-oksidant as wat gefermenteerde rooibos het.

“Die anti-oksidant in rooibos is kragtig genoeg om die anti-oksidantvlakke in jou bloedstroom te verhoog, wat dan ook jou liggaam se immuunstelsel ʼn hupstoot gee en jou help om siektes af te weer,” sê die instansie.

Rooibos vertraag ook die ontwikkeling van kankeragtige letsels op jou vel en kan moontlik kanker voorkom. “Die eienskappe van rooibos keer dat gesonde selle mutagenese ondergaan – omdat anti-oksidante vrye radikale met mekaar verbind en die lewer se kapasiteit om karsinogene te beveg, verhoog. Dit kan ook verhoed dat ʼn sel met beskadigde DNS in ʼn kankersel ontwikkel, en verhoed dat die kankerselle vermenigvuldig en ʼn gewas vorm.”

Die stellings is onlangs deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad gestaaf.

Isla Lovell, die eienaar van Storm in A-G Cup, sê daar is etlike ure agter ʼn naaldwerkmasjien deurgebring om die bra te maak, maar dat dié sakeonderneming nog nooit van ʼn uitdaging weggeskram het nie. “Ons wou onmiddellik inspring, want ons gebruik ook soms rooibostee om ons fyn onderklere mee te kleur. Ek was baie verbaas oor hoe veelsydig rooibos is – ons het met die blare en sakkies geëksperimenteer en het selfs krale uit die verpakking gemaak. Die besonderhede op die bra, soos die fyn rosie, is ook uit rooibosteesakkies gemaak.”

Lucy Balona, Kansa se woordvoerder, sê die bra dien ook as aanmaning dat vroue van alle ouderdomme gereeld vir ondersoeke moet gaan. “Hoe vinniger die borskanker opgespoor word, hoe hoër is die kanse op oorlewing. Gereelde ondersoeke en mammogramme speel ʼn belangrike rol om die aantal vroue wat deur die siekte geaffekteer word te help.”

Hoewel die organisasie nie kan sê hoeveel geld op die bra gebie gaan word nie, hoop hulle dat dit ʼn herhaling sal wees van ander ikoniese bra’s wat opgeveil is. ʼn Wit kantbra wat deur Marilyn Monroe gedra is, is vir sowat $20 000 verkoop, terwyl twee van Madonna se kegelbra’s bieërs $52 000 en $26 000 uit die sak gejaag het.

“Hierdie syfers is dalk hoog, maar ons glo dat bieërs hul hande diep in hul sakke sal steek vir die bra wat enig in sy soort is en boonop vir ʼn goeie doel ontwerp is,” sê Balona.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.