RSG bring hulde aan Chris Barnard

Chris Barnard. Foto: Litnet

Chris Barnard. Foto: Litnet

RSG bring op 12 Mei hulde aan die bekroonde skrywer Chris Barnard wanneer sy klassieke radiodrama, Die rebellie van Lafras Verwey, in Radioteater uitgesaai word.

Barnard is op 28 Desember 2015 in die ouderdom van 76 jaar oorlede. Kobus Burger, RSG se uitvoerende hoof van drama, sê dié radiodrama word as baanbrekerswerk beskou.

Die rebellie van Lafras Verwey is ’n klankervaring wat min ander skrywers tot nog toe kon ewenaar,” het hy gesê.

Die storie word vertel rondom Lafras, ’n regte Jan Alleman, wat vasgevang is in ’n burokratiese stelsel. Hy is ’n dromer en begin mettertyd lugkastele bou om van die sleurwerk te ontsnap. By die werk word hy gespot en hy sluit uiteindelik by ’n groep ondergrondse rebelle aan. Hy vervaardig vir hulle plofstof en smokkel wapens vir ʼn rewolusie wat kom.

Wanneer Lafras op sy fiets ry of selfs die badkamer besoek, marsjeer hy saam met die rebelle en staar die vyand in die gesig.

Hy ontmoet later vir Petra, ’n reeds swanger meisie, wat hy op sy fiets hospitaal toe neem vir haar bevalling, maar wanneer hy terugkeer huis toe, neem sy lewe ’n skielike wending.

Die rebellie van Lafras Verwey is op 5 Maart 1971 onder spelleiding van Cor Nortjé opgeneem. Wyle Joey de Koker vertolk die rol van Petra en van die ander spelers sluit in Dana Niehaus, André Walters en Hennie Smit,” het Burger gesê.

Die stuk is reeds in 1970 met die eerste prys bekroon in ’n hoorspel-kompetisie deur die Belgische Radio en Televisie in samewerking met die SAUK. “Josef van Hoeck se Vlaamse vertaling van die radiodrama is sowat ’n jaar later in België uitgesaai. Dit is later ook in Nederlands, Engels, Frans, Italiaans en Sloweens vertaal en deur verskeie Europese radiostasies uitgesaai.”

Barnard was ook die skrywer van romans soos Mahala en Boendoe, TV-reekse soos Onder draai die duiwel rond, en die draaiboek van die fliek Die wonderwerker. Van sy ander bekroonde radiodramas sluit in Blindemol en Uitnoding tot die dans.

Radioteater word elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

Die rebellie van Lafras Verwey gaan op 12 Mei op RSG uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Daleen ·

Ek sal sekerlik weer na Chris Barnard se storie luister. Hy het nou regtig geweet hoe om te skryf. In my lewe is ek gek na 2 skrywers-: C.F Beyers-Boshoff en dan natuurlik Chris Barnard. Ek wonder nou, hy lyk so streng op die fotos was hy regtig so streng? :D

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.