Die SABC kon nie Woensdag ontken of bevestig dat Lulama Mokhobo, uitvoerende hoof van die openbare uitsaaier, bedank het nie.
“Ek is nie bewus van [haar bedanking nie] en kon dit nie met enigiemand by die SABC bevestig nie,” het Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SABC, gesê. “Ek kan nie sê ja of nee tot ek amptelik ingelig is nie.” Die City Press het vroeër berig dat die vakbond Bemawu Dinsdag getwiet het: “Lulama Mokhobo, SABC uitvoerende hoof, het bedank.” Toe City Press die vakbond vir kommentaar gekontak het, het hulle glo gesê “lede binne die gebou” het aan hulle gesê “daar is ʼn sterk onbevestigde gerug dat sy bedank het.” Die vakbond sê hy was onder die indruk dat die aankondiging reeds deur die openbare uitsaaier gemaak is.