Skoonheid pak avontuur by Monument aan

Dr. Thato Mosehle, tweede prinses van vanjaar se Mej. Supranasionale-skoonheidskompetisie, het ‘n avontuur op die Voortrekkermonument se terrein aangepak. (Foto: Verskaf)

Die 26-jarige dr. Thato Mosehle skroom nie vir ’n avontuur nie.

Sy het vroeër die week vir die eerste keer ’n avontuur op ’n vierwielmotorfiets by Adventure Zone op die Voortrekkermonument-terrein in Pretoria aangedurf.

Mosehle is in die 2020 Mej. Suid-Afrika-kompetisie as eerste prinses aangewys en het in Augustus die titel van tweede prinses verower by die internasionale Mej. Supranasionaal-skoonheidskompetisie.

Mosehle kon nie ophou glimlag soos wat sy Dinsdag op die terrein rondkerjakker het nie.

“Dit is die eerste keer wat ek op ’n vierwielmotorfiets ry. Ek het dit ongelooflik baie geniet. Vir my was die lekkerste om al die diere te sien soos wat jy ry. Dit is ’n avontuur, maar daar is ook ’n rustigheid wat ʼn mens kry.

“Met Covid-19 en alles is dit ’n wonderlike uitstappie om te kom doen. Jy is in die buitelug. Ek sal dit enige tyd weer kom doen en ek gaan my vriende en familie beslis bring,” sê sy.

Mosehle woon in Johannesburg, maar verhuis binnekort na haar tuisdorp, Klerksdorp, in Noordwes, waar sy as mediese dokter by die Klerksdorp Tshepong-hospitaal gaan werk.

“Ek het nou in Johannesburg gebly vir die kompetisie, maar ek gaan terug Klerksdorp toe en as gemeenskapsdokter werk. Ek kan nie wag om weer te begin werk en mense te kan help nie.

“Daar is baie mense wat hulp nodig het en ek kan help. So dit voel vir my dis my plig om, in die moeilike tye waarin ons leef, my bydrae te lewer,” sê Mosehle.

Dr. Thato Mosehle geniet die buitelig op die Voortrekkermonumet se terrein. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

JohanR ·

Ek was ook al op ‘n avontuur op ‘n vierwielmotorfiets, en ek het nie op Maroela verskyn nie!!!!!!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.