Sorg só dat jou lokke lustig bly

Argieffoto. (Foto: Unsplash)

Warm krultange en versteilers is ongetwyfeld broodnodig om enige kapsel woema te gee, maar te veel hitte op die hare kan lei tot droogheid, dofheid, gesplete punte en selfs breekskade.

Voordat jy nou summier die stileerders in die laai bêre, oorweeg eers die volgende wenke:

Bevogtig jou hare

Die grootste nagevolge van oormatige hitte op die hare is uitdroging. Hitte – hetsy van die son se UV-strale, die water wat jy gebruik om te was, of as gevolg van jou gunstelingversteiler, kan jou hare uitdroog en dan bros, vaal hare tot gevolg hê.

Maak seker jy bevogtig jou hare met ʼn bevogtende sjampoe en opknapper en gebruik een keer per week ʼn diep-opknappingsmasker.

Gee jou hare ʼn blaaskans

Stileer jy elke dag jou hare? Oorweeg dit om ʼn breuk te neem en jou hare se natuurlike toestand te omarm. Volgende keer wanneer jy na die haardroeër wil gryp, dink daaraan om eerder ʼn inlaat-opknapper te gebruik wat jy deur klam haarpunte smeer en los jou hare om natuurlik droog te word of stileer dit in ʼn vlegsel of bolla.

Verlaag die hitte

Gebruik jou warm stileerders op die laagste verstelling moontlik wat jou steeds in staat stel om die gewenste effek op jou hare te kry. Haardroërs kan dikwels op hulle laagste hitte-verstelling steeds doeltreffend wees terwyl versteilers en krultange op ʼn matige (medium) hitte gestel kan word.

Moet ook nie die stileerder te lank op een plek in jou hare hou nie. Gaan eerder terug na daardie seksie van jou hare sodra dit afgekoel het. Moenie ʼn krultang vir langer as vyf tot tien sekondes in een seksie van jou hare los nie.

Hitte op nat hare? Nee!

Jou hare behoort onder geen omstandighede soos kos in ʼn pan te sis nie. As jy sisgeluide hoor terwyl jy jou hare stileer, beteken dit jou lokke is nie behoorlik droog nie en jy is moontlik besig om erge skade aan jou hare te berokken. Moet nooit stileerders gebruik wanneer jou hare nie heeltemal droog is nie.

Voordat jy enige warm stileerder in jou hare wil sit, gebruik eers ʼn hitte-beskermende produk deur jou hare. (Foto: Argieffoto/Unsplash)

Gebruik produkte wat beskerming bied

Om haardroërs, krultange en versteilers te gebruik op onbeskermde hare is ʼn groot oortreding. Voordat jy enige warm stileerder in jou hare wil sit, gebruik eers ʼn hitte-beskermende produk deur jou hare.

Talle van hierdie produkte help om ʼn beskermende laag om die haarvesel te skep wat die verlies van vog voorkom en die waarskynlikheid van dehidrasie verminder. Die produkte voeg ook volume en glans tot die hare en laat dit sag voel onder jou vingerpunte.

ʼn Hele rits beskermingsprodukte van verskillende handelsmerke is beskikbaar in winkels soos Clicks en aanlyn by Takealot en Superbalist.

Die pryse van dié produkte verskil van R69,95 vir Argan Oil se Heat Defence Leave-In Spray tot R550 vir Redken se Extreme Play Safe Heat Protecting Treatment.

Bykomende bron: garnierusa.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.