Sousvlugte vir afgetrede ministers nou heelwat minder

Die veranderings word aangedui in ʼn nuwe reisbeleid vir voormalige kabinetsministers wat die speaker verlede week bekend gestel het. (Argieffoto ter illustrasie: Unsplash)

ʼn Vermindering in die reisvoordele van afgetrede ministers, hul adjunkte en gesinne, gaan die belastingbetaler volgens die DA tot R39 miljoen per jaar spaar.

Dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, sê besigheidsklasvlugte is nou neusie verby en gratis vlugte is met 75% per jaar verminder. Die voordeel word voortaan ook tot vyf jaar beperk, pleks van die lewenslange voordeel wat tevore gegeld het.

“In die huidige klimaat, waar miljoene Suid-Afrikaners kwalik kan bekostig om brandstof te koop om by die werk te kom, is ons nie oortuig dat afgetrede ministers énige gratis vlugte behoort te kry nie, veral gegewe hul reusepensioenpakkette,” sê hy.

Schreiber het die veranderings nietemin as ʼn “geskiedkundige oorwinning” bestempel nadat die party twee jaar lank baklei het teen die “sousvliegtuig-voordele” van die oudministers, hul adjunkte en gesinne.

Die veranderings word aangedui in ʼn nuwe reisbeleid vir voormalige kabinetsministers wat die speaker verlede week bekend gestel het. Dit geld ook vir voormalige lede van die uitvoerende gesag. Schreiber sê dit vervang die vorige uitspattige voordele wat hulle vantevore ontvang het.

Ingevolge die nuwe reëls geld die volgende:

  • Die jaarlikse gratis vlugte vir afgetrede ministers (48 kaartjies) en hul gades (24) word besnoei van ʼn algehele totaal van 72 tot 12.
  • Begunstigdes is nou geregtig op ekonomieseklasvlugte, pleks van besigheidsklasvlugte.
  • Pleks van ʼn leeftyd se gratis vlugte kan begunstigdes nou vyf jaar lank ná aftrede van die voordeel gebruik maak, maar net as hulle minstens een volle termyn in die parlement gedien het.

Ingevolge die vorige regulasies sou ʼn afgetrede minister wat al sy jaarlikse kaartjies gebruik (48 kaartjies teen R8 000 per besigheidsklaskaartjie) die belastingbetaler R384 000 per jaar gekos het, terwyl die gade (24 kaartjies) die belastingbetaler ʼn bykomende R192 000 gekos het.

ʼn Adjunkminister wat sy volle toewysing van 36 kaartjies vir die jaar gebruik het, se rekening sou R288 000 beloop en hul gades se 18 kaartjies altesame R144 000.

Oor ʼn tydperk van 20 jaar sou ʼn afgetrede minister en sy gade se kaartjies R11,5 miljoen beloop het en dié van ʼn afgetrede adjunkminister en sy gade R8,6 miljoen.

Schreiber sê altesame 164 verskillende ministers, adjunkministers en hul gades het in 2018-’19 met die aftree-soustrein (oftewel sousvliegtuig) gevlieg en elke keer dat daar ʼn kabinetskommeling is, word nuwe name by die lys gevoeg.

Schreiber sê afgetrede ministers en lede van die uitvoerende gesag bestee sedert 1994 miljoene rande aan vliegkaartjies en dikwels jare nadat hulle ʼn amp beklee het. Tussen 2014 en 2020 het hierdie afgetrede ministers en afgetrede adjunkte die belastingbetaler meer as R45 miljoen gekos.

Volgens die DA is dit die eerste noemenswaardige vermindering in die ruim voordele wat senior afgetrede politici vantevore geniet het.

Hoewel die gewysigde beleid verwelkom is, sê Schreiber daar is egter steeds tekortkominge en die DA gaan nou werk om dit ook te pak. “Die grootste probleem is dat alle ministers, adjunkministers en hul gades wat vantevore ingevolge die ministeriële handboek vir gratis vlugte gekwalifiseer het, steeds tot 31 Maart 2027 daarvoor in aanmerking kom, selfs al is dit ingevolge die nuwe beperkings,” sê Schreiber.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jacobus ·

Die staatskas loop nou vinnig leeg, of sal ek se die soustrein se diesel is op en die wiele val af. Hoogtyd!!!!

Robert ·

Die lekkerste werk in Mzanzi, word ‘n Raadslid/Provinsale Raadslid/LP en na 5 jaar tree jy af met al die perks. Alle partye is skuldig hieraan terloops. Dit is die skande van politiek, uitbuiting van die publiek op alle vlakke.

Moedeloos ·

Lekker lewe die. As ek by my werkgewer klaar maak en op pensioen gaan verbeur ek alle voordele daarna. Wat maak hierdie mense anders

MrMagic ·

Skrap dit alles. Hulle kan ook betaal vir alle dienste soos ons almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.