Soorte resepte:

Spinasie-en-sampioen-ontbytgereg

Spinasie-en-sampioen-ontbytgereg. (Foto: The South African Mushroom Farmers’ Association)

Slaan hierdie lekker ontbyt in ʼn japtrap saam.

Lewer 4 porsies

Bestanddele

  • 5 mediumgrootte preie, in skywe gesny
  • 500 g portabellini-sampioene, in skywe gesny
  • 3 knoffelhuisies, fyngekap
  • 400 g babaspinasie
  • 2 e botter
  • 2 e meel
  • 350 ml melk
  • 2 t mosterd
  • knippie neutmuskaat
  • ½ koppie gerasperde parmesaankaas
  • 4 groot eiers
  • sout en peperkorrels
  • olyfolie

Metode

  1. Voorverhit oond tot 200 °C en berei 4 ramekin-bakkies op ʼn bakplaat voor.
  2. Blansjeer die spinasie deur dit in ʼn vergiettes in die wasbak te plaas. Gooi ʼn varsgekookte ketel water oor en spoel dan dadelik met koue water af. Druk al die water uit en hou eenkant.
  3. Soteer die sampioene oor hoë hitte in ʼn groot braaipan. Sit sampioene eenkant. Voeg 2 eetlepels botter, die preie en knoffel by in dieselfde pan en kook tot die preie sag is en die knoffel geurig is. Sprinkel die meel by en roer aanhoudend. Kook die meel vir ʼn paar minute. Gooi die melk by en roer tot glad. Bring tot kookpunt. Geur met sout, peper, mosterd en neutmuskaat. Sodra die mengsel dik is, verwyder van die hitte. Roer die sampioene, spinasie en parmesaankaas by.
  4. Verdeel mengsel tussen die ramekin-bakkies en maak ʼn holte in die middel van elkeen. Kraak ʼn eier in elke holte en bak vir 10-15 minute tot die eiers gaar is na jou smaak. Sprinkel ʼn paar fyngemaakte peperkorrels oor en bedien.

Bron: The South African Mushroom Farmers’ Association (SAMFA)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.