Springs-gruwelhuis: Applous toe hof nee sê vir borgtog

Die man wat daarvan verdink word dat hy sy vrou en vyf kinders in die Springs-gruwelhuis aangehou en mishandel het. Foto: Werner Beukes / SAPA

Die man wat daarvan verdink word dat hy sy vrou en vyf kinders in die Springs-gruwelhuis aangehou en mishandel het. Foto: Werner Beukes / SAPA

Die Springs-landdroshof het Donderdag borgtog geweier vir die pa wat glo sy vrou en vyf kinders jare lank in ʼn huis in Springs aangerand en aangehou het.

Die man, wie se naam nie genoem mag word nie om die identiteit van die kinders te beskerm, het Woensdag in die hof aansoek gedoen om borgtog ná hy op 23 Mei in hegtenis geneem is nadat sy 11-jarige seun vroeër daardie week uit die huis kon ontsnap en by die bure om hulp gaan aanklop het.

Hofgangers het handegeklap toe die aansoek om borgtog afgekeur is. Landdros Roy le Roux het bevind dat die verdagte nie die hof oortuig het dat dit in die belang van geregtigheid is dat hy op borgtog vrygelaat moet word nie. Die hof bevind dat die verdagte ‘n vals verklaring afgelê het toe hy beweer het sy seun is vermis. Hy kan moontlik van meineed aangekla word.

“Die staat het ‘n sterk saak rakende die klag van poging tot moord,” het Le Roux in sy uitspraak gesê. Hy het verwys na ‘n mediese verslag oor een van die man se kinders, ‘n 11-jarige seun wat verskeie kneusplekke en letsels op sy lyf het. Die seun het ook ‘n letsel waar hy glo met ‘n knopkierie geslaan is.

Die hof het ook in ag geneem dat die verdagte leed aangedoen kan word indien hy op borg vrygelaat word. Die saak is tot 12 Junie uitgestel vir die man om aansoek te doen vir regshulp.

Maroela Media het Woensdag berig die hof het skokkende getuienis aangehoor tydens die aansoek om borgtog en dat snikke vanuit die publieke galery gehoor kon word toe daar oor die kinders se beserings getuig is.

Gerhard Labuschagne, ‘n forensiese kenner vir die staat, het getuig dat die pa dinge aan die kinders gedoen het wat “gelykstaande is aan marteling”. Hy het Dinsdag vlugtig met die beskuldigde vergader. “Indien hy op borgtog vrygelaat word, kan hy getuies verhoed om vorendag te kom,” het Labuschagne toe gesê. Op ‘n vraag of die beskuldigde moontlik geestesongesteld is, het Labuschagne gesê daar het nie enige “rooi vlaggies” opgegaan nie.

Ao. Rudolf Jansen, die saak se ondersoekbeampte, het ook vroeër namens die staat getuig. Hy het aan die hof verduidelik in watter haglike omstandighede die kinders gewoon het. Hy het gesê daar was rotte en rotmis in die kombuis. Die kinders, tussen twee en 16 jaar oud, het nie skoolgegaan nie. Jansen het gesê ondanks die bewerings dat die pa die kinders erg aangerand het, het die 11-jarige seun en sy 16-jarige suster tog aangedui dat hulle lief is vir hulle pa. Volgens Jansen het die seun beweer onder andere dat sy pa hom vir twee dae lank met ʼn tou om sy polse laat hang het. Toe hy gepleit het dat sy pa hom moet los maak, het sy pa glo traangas op hom gespuit en hom aangerand. Jansen het ook die seun se mediese verslag aan die hof voorgehou en verduidelik watter kneusplekke en letsels die seun opgedoen het. Die kind het glo ʼn letsel op sy kop nadat hy met ʼn knopkierie geslaan is.

Die verdagte se suster se skoonma het in sy guns getuig. Die bejaarde vrou het getuig dat sy van die man se inhegtenisneming te hore gekom het en dat sy besluit het om hom te kom help. Sy het aan die hof gesê dat sy vrou ook die kinders aangerand het. Sy beweer sy het gesien hoe die vrou die 16-jarige dogter aanrand en dat daar ‘n video daarvan bestaan. Die vrou het verder getuig dat die ma baie seksspeelgoed gehad het en dat sy baie tyd in haar slaapkamer deurgebring het.

Jansen het vroeër getuig dat daar baie pornografiese materiaal in die huis gevind is.

Die verdagte staar aanklagte van aanranding en ontvoering in die gesig. ʼn Bykomende aanklag van verkragting kan ook moontlik teen hom gebring word, ná bewerings dat hy glo sy vrou gedwing het om met hom seks te hê.

Lees ook:
Springs-gruwelhuis: Hof hoor ma rand ook kinders aan
Springs-gruwelhuis: Skokgetuienis oor marteling
Springs-gruwelhuis: Pa vra borgtog voor volgepakte hof
Springs-gruwelhuis: Pa weer in hof
Springs-gruwelhuis: Kinders, ma vir berading gestuur
Springs-gruwelhuis: Pa in hof

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jen ·

Definieer ‘leed aandoen’, verdien hy nie alles en meer wat hy aan sy kinders gedoen het nie.

Enid van Vollenstee ·

Die man bly in ‘n dubbel verdieping huis, verhuur verkeie woonstelle op sy eiendom en het sy eie besigheid. Dat jy snot en trane in die hof gehuil het, wie wil jy bluf? Die publiek of die hof? Nou wil jy op die belastingbetaler teer om jou hofonkostes te dek. Gmf…….. ek wens dat geen prokureur bereid sal wees om jou te steun nie.

Die arme kinders sal dalk nooit in die samelewing kan inpas weens geen skoolopleiding asook die jarelange mishandelinge op hulle nie. Hul lewe is geruineer deur jou, asook hul ma want ek is doodseker sy kon as sy regtig wou en ongeag die omstandighede, haar kinders teen jou beskerm het, al moes sy jou leed aangedoen het of vasgebind het terwyl jy geslaap het. Ek sou self bereid gewees het om jou gif in te gee sodat jy ‘n stadige dood kon sterf as ek in jou vrou se skoene gestaan het. Wens ek was daar dan was daar absoluut niks van jou oor nie!!! Julle tipe mans wat vrouens en kinders aanrand, is die soort wat self nie ‘n pak van iemand anders kan vat nie. En ek weet waarvan ek praat!

Boetie, ek hoop jy kry in die tronk wat jou toekom en ek bid dat die gevangenisse hulself op jou sal wreek tien duisend kere erger as wat jy jou gesin aangedoen het.

AmY ·

Dankie tog hy kan nog nie ‘los rondloop’ buitekant nie.

Moet hom nie borg gee nie. Hy moet voel hoe dit voel om opgesluit te wees.

Dis veiliger vir hom EN die kinders. Hy mag dalk probeer om met die kinders in aanraking te kom en hulle ‘af te pers.’ Dis die tipe man (monster) wat hy is.

En die prokureuer wat jou wil verteenwoordig, moet beslis ‘sy/haar kop laat lees.’

Theresa ·

Ek stem Enid. Besef die vark wat hy aan die kinders gedoen het. Sonder jare se regte hulp en leiding is daardie arme kinders verlore vir die lewe. En die familie wat nou so vir hom getuig en by hom staan. Gaan spring in die see. Julle is almal blind en idiote. Ek hoop julle almal wat van hierdie dinge geweet het word aangekla en voel dit erg wat na julle toe kom………….

Belinda ·

Wel ek glo nie hy sal ooit weer in sy lewe besigheid kan doen in Springs nie nou het hy sy polse gaan sny nou maak hy of hy mal is maar hy kan ook nie regtig normaal wees om dit aan n kind te doen nie………………kan so nie wag dat sy vrou ook is waar hy is nie!

Rudi ·

Ek hoop sy kinders gaan erens anders a beter lewe sien. My kinders is my lewe. My hart gaan uit vir hul.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.