Stem-akteur groet gewilde videospeletjiekarakter ná 27 jaar

Charles Martinet, die stem agter die videospeletjiekarakter, Mario. (Foto: X/Charles Martinet)

Die videospeletjiereus Nintendo het Maandag aangekondig dat Charles Martinet, die stem agter hul gewilde karakter, Mario, ná 27 jaar gaan uittree.

Martinet (67) verleen sedert 1996 sy stem aan dié Italiaanse loodgieter in die Super Mario-videospeletjiereeks.

Nintendo het in ʼn plasing op X (voorheen bekend as Twitter) geskryf dat Martinet egter nou die rol van ʼn “Mario-ambassadeur” sal inneem en “sal voortgaan om deur die wêreld te reis, die vreugde van Mario te deel en met julle almal te ontmoet.”

Hoewel Martinet se stem deur die jare sinoniem met Mario geword het, was dit egter die Hollywood-akteur Chris Pratt wat vir dié beroemde karakter sy stem in die 2023 fliek, The Super Mario Bros. Movie, gegee het. Martinet het die stemme van Mario se broer en pa verskaf.

Ondanks dié lokettreffer se sukses, het die besluit om die rol van Mario aan Pratt te gee opslae onder aanhangers op sosiale media veroorsaak.

Die jongste speletjie met die heldhaftige Italianer, Super Mario Bros. Wonder, is vroeër vanjaar aangekondig en die lokprent het bespiegelings van sommige aanhangers laat ontstaan dat Martinet vervang is, berig die BBC.

Dit is tans onbekend wie Martinet gaan vervang, maar talle X-gebruikers het reeds teen die aankondiging uitgevaar, met party wat bespiegel dat Pratt moontlik Martinet se pos gaan oorneem.

Martinet het Nintendo se aankondiging op sy eie X-rekening gedeel en geskryf: “My nuwe avontuur begin! Julle is almal nommer een in my hart!”

Bronne: BBC, The Daily Mail.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.