Taaldag: Afrikaans mag nie as politieke speelbal gebruik word nie

Afrikaanse Taalmonument (Foto: Maroela Media)

Die VF Plus vier met vanjaar se Afrikaanse Taaldag diegene wat die taal praat en bevorder.

“Afrikaans, die hartstaal van soveel Suid-Afrikaners, moet gekoester, bewaar en uitgebou word en vele sprekers en organisasies beywer hulself juis daarvoor,” sê Heloïse Denner, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor kuns en kultuur.

“Daar is egter ook diegene wat Afrikaans as ʼn politieke speelbal gebruik. Terwyl die aanslag teen Afrikaans geweldig is, is daar politieke partye en organisasies wat die stryd om die beskerming van Afrikaans misbruik vir politieke gewin.”

Denner sê die ANC-regering loods gereeld aanvalle op Afrikaans as voertaal in die onderwys en andersins. “ʼn Voorbeeld is die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, wat geweier het om Afrikaans as inheemse taal van Suid-Afrika te erken en die minister van kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, se voorneme om die Afrikaanse Taalmonument se naam te verander. Hierdie is enkele voorbeelde van hoe die ANC openlik jag maak op Afrikaans om goedkoop politieke punte aan te teken.”

Sy meen ʼn direkte gevolg van die ANC se politiekery is dat miljoene Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners verstoot en gemarginaliseer voel omdat hul moedertaal nie na behore erken, waardeer en gerespekteer word nie.

“Dit druis in teen die sogenaamde nasiebou en sosiale kohesie-doelwitte wat in die Nasionale Ontwikkelingsplan van die ANC vervat is. Die onderdrukking van ʼn taal het egter meestal die teenoorgestelde uitwerking wat tot gevolg het dat sodanige taal floreer te danke aan sy sprekers.”

Sy sê die VF Plus vier dus vanjaar diegene wat Afrikaans ná aan die hart koester as moedertaal en spreektaal. Diegene en organisasies wat hulself beywer vir die uitbou en bewaring van Afrikaans, wat Afrikaans daagliks ook as akademiese en wetenskapstaal gebruik en bevorder en dié wat Afrikaans as moedertaal aan hul kinders oordra, sodat Afrikaans van geslag tot geslag van krag tot krag gaan.

“Die gees van Afrikaans is een van oorlewing en selfbeskikking. Daar waar die regering die taal wil onderdruk, floreer dit juis. Die VF Plus is verbind tot die bevordering van moedertaalonderrig en die beskerming van Afrikaans as ʼn amptelike taal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis 2022. Tye het verander en alternatiewe opsies moet oorweeg word. Die binnelanders en kusbewoners leef reeds in verskillende lande, al praat hulle soms dieselfde tale.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.