Thuli Madonsela aanvaar leerstoel by US

Adv. Thuli Madonsela. Argieffoto: Universiteit Stellenbosch (US)

Adv. Thuli Madonsela. Argieffoto: Universiteit Stellenbosch (US)

Adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, het ʼn aanbod aanvaar om ʼn leerstoel in sosiale geregtigheid in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch (US) te beklee.

Die universiteit het Donderdag in ʼn verklaring gesê adv. Madonsela het reeds haar betrokkenheid in die fakulteit bevestig.

“Adv. Madonsela sal, as bekleër van die leerstoel, steeds krities omgaan met die tematiek wat sinoniem geword het met haar ampstermyn as Suid-Afrika se derde openbare beskermer. Dit sluit in etiese bestuur in openbare instellings asook die realisering van die grondwetlike visie vir openbare administrasie gerig op mense se behoeftes, wat verantwoordbaar en deursigtig is en wat die voordelige, ekonomiese en doeltreffende aanwending van hulpbronne bevorder, soos uiteengesit in artikel 195,” het prof. Sonia Human, dekaan van die fakulteit, gesê.

Benewens haar onderrig- en navorsingstake sal Madonsela ook voortgaan met haar betrokkenheid by inisiatiewe vanuit die burgerlike samelewing as deel van die leerstoel se aktiwiteite.

Human beskryf Madonsela se besluit om by die fakulteit aan te sluit as ʼn geweldige eer vir die fakulteit. Volgens haar sal die aanstelling ʼn betekenisvolle bydrae maak tot die fakulteit se voortgesette verbintenis tot die realisering van die grondwetlike visie vir die Suid-Afrikaanse samelewing.

Sy sal dié pos in 2018 ná afloop van ʼn jaar sabbatsverlof inneem. Die leerstoel sal breedweg op kwessies van sosiale geregtigheid, insluitend administratiewe geregtigheid, fokus.

Madonsela het in ʼn aanvaardingsbrief aan die universiteit gesê: “Dit is werklik ʼn groot eer om hierdie leerstoel in sosiale geregtigheid deur die Universiteit Stellenbosch aangebied te word. Ek hoop om saam met my kollegas in die regsfakulteit te werk om die tempo ter bereiking van die grondwetlike belofte van ʼn inklusiewe samelewing gegrond op maatskaplike geregtigheid, gedeelde voorspoed, vriendskap en vrede, ter versnel. Ek sien ook daarna uit om saam met jong mense by die universiteit verder oor hierdie kwessies te werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Sarah ·

Lieflik! Beste nuus die dag – ek hoop Thuli het nog baie kanse om ‘n positiewe verskil te maak.

Griet ·

Hierdie vrou is ‘n rots! Suid Afrika sal beslis baat by nog ‘n paar wat van haar stoffasie gemaak is……

Jakobus ·

Kom ons kyk eers hoe sy met haar vrye denke buite die raamwerk en mandaad van die OB gaan vaar. Dalk skaar sy haar by die OpenStellenbosch groep se aktivisme. Sy het al klaar geluide op Wits gemaak.

Dup du Plessis ·

……is haar dogter nie ‘n EFF lid wat onlangs kliphard teen Afrikaans te velde getrek het by universiteite nie?….sy kan dalk nou gratis by US gaan studeer en leiding neem van een of ander #SomethingMustFall veldtog……vir ons Afrikaanses gaan sy egter nie veel tafel toe bring by ‘n baie ou gewese Afrikaanse universiteit nie.

Attie ·

Goeie genugtig het die beginsel van geregtigheid so ver geval dat regsfakulteite by universiteite al ruimte het vir die bog bekend as “sosiale geregtigheid” ? Onder daardie term word alles verdraai, jy kan die term sosiaal seker voor enige woord plaas maar jy kan dit dan nie as iets anders behandel nie. Daar is slegs geregtigheid punt. Miskien moet regsfakulteite eerder weer gaan leer wat natuurlike geregtigheid is en probeer besin hoe ver ons regstelsels daarvan afgedwaal het.

John ·

Wat is Sosiale Geregtigheid? Is dit die vakgebied waar jou kleur gaan bepaal of jy verontreg mag voel of nie?

wortels ·

Mooi man. Sy sal ou Wim wys waar David die wortels begrawe het.

Gwen ·

“Sosiale geregtigheid” is ’n term wat deesdae toenemend gebruik word om blankes as sleg uit te beeld. En wat de joos is administratiewe geregtigheid. US buig ver agteroor om polities korrek te wees.

Johann Venter ·

Genugtig, sommige mense kan ook maar net ‘n spul sinnelose kommentaar lewer. Sterkte, adv. Madonsela!

Zirk ·

Sosiale en administratiewe geregtigheid. Nuwe gonswoorde wat uitgedink en ontwerp word om BEE en transformasie in stand te hou tot en met die Wederkoms. En tot dan, sal onreg, spanning en rassisme in SA voortduur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.