Toekenning vereer onmiskenbare rol van onderwysers

Foto ter illustrasie. (Foto: Jeshoots.com/Pexels)

As iemand opgehemel moet word, dan is dit onderwysers. Hulle is die samelewing se helde.

Só sê die Amerikaanse bemarkingspesialis, skrywer en Silicon Valley-waagkapitalis Guy Kawasaki oor die onmiskenbare rol wat onderwysers in kinders en gevolglik die breër samelewing se lewe speel.

Daarom gee die vakbond Solidariteit se onderwysernetwerk vanjaar weer vir die skoolgemeenskap die geleentheid om aan hul onderwysers erkenning te gee deur die gesogte Onderwyser van die Jaar-toekenning aan te bied.

Volgens Anlia Archer, bedryfspesialis vir die onderrigsektor by Solidariteit, het die onderwysernetwerk ten doel om ʼn beroepsgemeenskap vir onderwysers in Afrikaanse skole te vorm waardeur die beroep beskerm en bevorder word.

“Ons wil Afrikaanse onderwysers bemagtig deur opleiding, maar hulle ook bystaan om die slaggate van die hedendaagse onderwyssektor te kan systap.”

Die netwerk takel onderwysaangeleenthede wat Afrikaanse onderwysers raak, waaronder diensvoorwaardes, behoud van beheerliggaamposte en die verlening van arbeidsregtelike raad en bystand. Die netwerk werk ook saam met die Skoleondersteuningsentrum (SOS) vir die ontwikkeling van vakverenigings.

Verder bied hulle ook geleenthede soos dié toekenning aan om onderwysers te vereer vir hul onbaatsugtige bydrae om die leiers van die toekoms te help vorm.

“Die kompetisie is in 2021 vir die eerste keer aangebied en was ʼn reusesukses met meer as 700 onderwysers wat genomineer is. Ons wou graag bou op daardie sukses en die kompetisie vanjaar ook verder uitbou,” verduidelik Archer.

Vanjaar kan laerskool-, hoërskool- én kleuterskoolonderwysers genomineer word en daar is groot pryse, waaronder kontant, op die spel. Danksy die kompetisie se nuwe stelsel sal onderwysers ook die geleentheid kry om hul nominasieboodskappe direk te ontvang en sodoende hul leerders of kollegas se motiverings te lees.

Inskrywings is gratis en die wenners word op grond van ʼn kombinasie van punte wat toegeken is in ʼn paneelbeslissing én deur lede van die publiek se stemme toegeken.

Carla Botha is as die laerskole se onderwyser van 2021 aangewys. (Foto: Verskaf)

Die nominasies kan vanaf 4 Julie tot 29 Julie 2022 om 17:00 ingestuur word, waarna ʼn siftingsproses sal volg. Die stemproses vir lede van die publiek, waartydens hulle vir kwalifiserende kandidate kan stem, open op 12 September 2022. Die finaliste sal daarna bekend gemaak en na Solidariteit se Sterre in die Gemeenskap-geleentheid op 6 Desember 2022 uitgenooi word.

Maroela Media het vroeër berig dat Carla Botha, ʼn gr. 1-onderwyseres aan Laerskool Skuilkrans in Pretoria, en Jacobus (Kosie) Smit, ʼn hoërskoolonderwyser in fisiese wetenskap in Despatch, verlede jaar dié gesogte toekenning ontvang het.

“Ek het reeds vroeg in my lewe besluit om ʼn onderwyser te word. Vir my is dit meer as stories lees en somme maak. Jy maak elke jaar jou hart vir ʼn nuwe groep kinders oop. Mag al my gr. 1’s altyd onthou hoe ek hulle laat voel het,” het Botha destyds aan Maroela Media gesê.

“Ek staan in die onderwys om ʼn verskil in kinders se lewe te maak. Ek geniet dit die meeste om klas te gee – nie net om feite aan die kinders oor te dra nie, maar ook lewenslesse, en om aktiwiteite saam met hulle te ervaar,” het Smit op sy beurt gesê.

Klik hier om ʼn onderwyser vir die kompetisie te nomineer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.