Trou

Jan FE Cilliers

Trou

Ek hou van ‘n man wat sy man kan staan,
ek hou van ‘n arm wat ‘n slag kan slaan,
‘n oog wat nie wyk, wat ‘n bars kan kyk
en ‘n wil wat so vas soos ‘n klipsteen staan!

Ek hou van ‘n man wat sy moeder eer,
in die taal uit haar vrome mond geleer,
die verraaiersgeslag in sy siel verag
wat, haar verstotend, homself kleineer.

Die oog wil ek sien wat ‘n traan nog ween
vir ‘n heldegeslag, in hul rus daarheen,
maar ‘n blits van trou in die traan van rou,
wat aan liefde weer gee wat haar bron is ontleen.

Vir my d’Afrikaner van durf en daad,
wat mammon’s eer en loon versmaad,
sy hoof en sy hand vir sy volk en sy land
en ‘n trap van sy voet vir laag verraad!

O, ‘k hou van ‘n man wat sy man kan staan;
ek hou van ‘n daad wat soos donder slaan,
‘n oog wat nie wyk, wat ‘n bars kan kyk
en ‘n wil wat so vas soos ‘n klipsteen staan!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.