Universiteit Stellenbosch: Eksamen uitgestel; kommissie kom

universiteit-stellenbosch

Universiteit Stellenbosch. (Foto: Facebook)

Die Universiteit Stellenbosch (US) het besluit om sy eksamentydperk vir die eerste semester met een week uit te stel na afloop van die afgelope ruk se gebeure.

“Die afgelope week was baie moeilik en traumaties vir ons Universiteit Stellenbosch-gemeenskap. Ons is hartseer en ontsteld oor die voorvalle op ons kampus,” het prof. Deresh Ramjugernath, viserektor: leer en onderrig, gesê.

Die semestereksamen sal dus nie eerskomende week begin soos beplan nie, maar eers op Maandag 30 Mei. Die sperdatums vir assesserings wat dié week ingedien moes word, word óók met ’n week uitgestel. Die hele eksamenrooster skuif met ’n week aan, en die reses begin op 4 Julie. Dit het egter geen invloed op die aanvang van die tweede semester nie, wat steeds op 18 Julie begin.

Die universiteit was die afgelope week in die kollig na twee voorvalle wat wye reaksie uitgelok het. ’n Student is geskors nadat hy glo verlede naweek op ʼn ander student se besittings in een van die manskoshuise geürineer het. Die beweerde oortreder is uit Huis Marais geskop en die student wie se besittings beskadig is, het ook ʼn strafsaak teen die betrokke student gemaak. Die Menseregtekommissie (MRK) het ook intussen bevestig dat hy klagtes rakende die voorval ontvang het en nou die saak ondersoek.

“Ons veroordeel nogmaals ten sterkste wat by Huis Marais gebeur het, en verseker julle dat hierdie tipe gedrag nie geduld kán of sál word nie.”

Kort na die voorval het dit aan die lig gekom dat ’n beweerde verkragting op die kampus plaasgevind het. Die slagoffer het Woensdag ʼn saak teen die beweerde oortreder gemaak en die polisie het die verdagte kort daarna in hegtenis geneem. “Ons het in albei gevalle dadelik opgetree wat betref ondersteuning aan die slagoffers, ondersoeke en dissiplinêre prosesse.”

Eksterne onafhanklike kommissie van ondersoek aangestel

stellenbosch

Die Universiteit Stellenbosch.

Volgens die US volg hy ʼn benadering van geen verdraagsaamheid tot rassisme op kampus nie en is hy as deel van hierdie verbintenis besig om ’n eksterne onafhanklike kommissie van ondersoek na voorvalle van rassisme en teistering by die universiteit onder leiding van ’n gerespekteerde regter in te stel.

“Ons beoog ook ’n ondersoek na die algehele kampuskultuur, tesame met ’n hersiening en oudit van ons beleide, bedryfsprosedures en reaksies. Daarbenewens skep die US ’n aanmeldingsblitslyn vir studente en personeel om voorvalle van diskriminasie of skending van regte, waaronder enige vorme van rassisme, geslagsgebaseerde geweld en teistering, aan te meld,” het die universiteit in ’n verklaring gesê.

“Die universiteit heg groot waarde aan respek, deernis, billikheid, verantwoordbaarheid en uitnemendheid in alle interaksies en optrede. Die Universiteit Stellenbosch bly verbind daartoe om ’n leeromgewing te skep wat vry is van kwessies soos rassisme en diskriminasie, en waar almal veilig is. Ons moet streng waak oor die reputasie en statuur van ons instelling, as ’n wêreldklassentrum van akademiese uitnemendheid waar ons die allerbestes uit ál ons gemeenskappe in Suid-Afrika en verder verwelkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.