Vergewe die intellektuele, want hulle weet nie wat hulle doen nie

Deur Du Preez de Villiers

Du Preez de Villiers. (Foto: Verskaf.)

An intellectual is a man who takes more words than necessary to tell more than he knows – Dwight D. Eisenhower

Dit is nie maklik om sout-van-die-aarde-mense vir ’n lang tyd met ’n politieke leuen ’n rat voor die oë te draai nie. Dit is nog moeiliker om te verwag dat hulle by ’n twyfelagtige idee moet inkoop. Miskien is dit omdat hulle nie die vermoë het om kognitiewe dissonansie, of ’n vorm van verstandelike dualisme te ontwikkel nie. Dit kan ook wees dat hulle nie in die hoë esjelons van die samelewing beweeg waar jou aansien, vergoeding, bevordering en sosiale sekuriteit daarvan afhanklik is dat jy die hoofstroommening moet eerbiedig nie. Gewone mense voel ekonomiese en politieke aanslae vinniger aan hul lywe en reageer ook baie vinniger op die harde werklikheid as die mense “daar bo” wat beter daarteen verskans is.

Die Afrikanervolk straal ’n beeld uit van goeie, gewone, sout-van-die-aarde-mense, maar ons dra swaar aan die juk van intellektuele leunstoelfilosowe. Dit sluit nou linkse joernaliste, skrywers, politici, politieke meningsvormers en kunstenaars in. Hierdie mense vergestalt byderwetsheid en progressie, en skets deurlopend vir ons ’n prentjie van ’n vredevolle en beter toekoms. Hulle kry dit reg om baie van ons mee te sleur met hul woorde en werke in koerante, podsendings, webjoernale, tydens kunstefeeste en in flieks.

Hierdie gerekende intellektueles kom slim voor en het baie te vertelle oor die geskiedenis, huidige omstandighede en toekoms van die Afrikaner. Hul stories is gewoonlik baie “objektief’ en fokus besonder baie op die tekortkominge van ons mense. Dit is goed en wel, maar dit is ongelukkig ook ’n geslepe agenda wat poog om die Afrikaner se wilskrag te verlam in hierdie tyd wat ons nie kan bekostig om nie sterk en saam te staan nie. Alle aanduiders wys dat ons dieper as kniediep in die moeilikheid is en hulle wil nie hê ons moet daarop fokus nie. Dit sal hul agenda van onvoorwaardelike vrede en gelykheid baie skade aandoen. Loop lig as ’n meningsvormer Afrikaners oor ’n fyner kam as die res skeer, ’n groot ophef van ’n onbeduidende insident maak, waterskeiding-gevalle doodswyg, hulle skuldig maak aan dubbele standaarde, of morele relatiwiteit begin predik.

Die voorval by Senekal het hierdie leuenprofete weer duidelik ontbloot. Dit is eenvoudig vermetel om die kollig op ’n enkele, alleenstaande geval te plaas waar die boere ’n polisiebakkie omgekeer het, terwyl daar net in die algemeen (of bitter min) oor die honderde gevalle gepraat word waar ander groeperinge van ons samelewing soortgelyke of selfs baie erger dinge doen. Om plaasmoorde as gewone misdaad af te maak, is nog een. Gevalle waar slagoffers onbekend aan die aanvallers is en sonder uitlokking gemartel en verkrag word, kom nêrens in die wêreld voor behalwe in konfliksituasies en waar mense doelbewus geïntimideer word om ’n bepaalde politieke doel te bereik nie.

Gepraat van ’n politieke doel. Wanneer politieke leiers openlik en subtiel hierdie vorm van terreur aanhits, kan dit nie anders as ’n vorm van volksmoord geklassifiseer word nie. En nee, die bendegeweld op die Kaapse vlakte is ’n totale ander scenario. ’n Laerskoolkind sal die verskille kan uitwys.

Mens kan aanvoer dat intellektuele ’n burgeroorlog sien aankom en die “logiese” manier om dit te verhoed, is om onmin te beveg deur ten alle koste ’n boodskap te versprei dat daar geen dubbele standaarde is nie en dat alle rassegroepe eintlik gelyk behandel word. Jy kan nie meer stiksienig as dit wees nie, want jy skop net die bal al verder in die pad af. Hierdie sneeubal word al hoe groter en bou ’n vernietigende momentum op. Ons het ’n vinnige blik van Afrikaners se magtelose woede in Senekal gesien…

Die enigste oplossing is om Suid-Afrika se ongerieflike werklikhede in die oë te kyk en mekaar se verskille te erken, sonder om doekies om te draai. Dit is hoe volwasse mense konflik hanteer. Die intellektuele se menings en blindekolle oor Senekal peul nou oral uit en ons moet al weer kommentaar lewer op skade wat reeds gedoen is. Daar rus ’n groot taak op Afrikaners om die regte boodskap op openbare platforms te versprei.

Ons behoudende Afrikaners word nie juis as intellektueles gesien nie, maar ons ís baie intelligent. Ons staan nie vir die wêreld terug as dit by rewolusionêre idees, nuutskeppings en kuns kom nie. Ons is eerder doeners en produseerders as leunstoelfilosowe en praters. Dit is egter verblydend om te sien dat daar wel al hoe meer politieke meningsvormers en kunstenaars uit eie geledere na vore kom wat vir ons gepaste stof tot nadenke gee. Hulle verwerp politieke korrektheid en beskryf en beskilder die waarheid en werklikheid soos dit is.

Die Afrikaner is besig om op ’n filosofiese en beredenerende vlak te ontwaak en, alhoewel ons meer doeners as praters is, is ons beslis nie meer op ons bek geval nie.

  • Du Preez de Villiers is ‘n landboujoernalis wat ook graag sy neus in politieke sake steek.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Therese ·

Briljante en broodnodige kollig op hierdie brandende kwessie!
Verder, André Pienaar moet daadwerklik bygestaan en nie verwerp word na sy onoordeelkundige optrede nie. Kommerwekkende tekens dat dit reeds aan die gebeur is.
Dit sal ‘n kwade dag wees as die ANC-regering moet sien dat Afrikaners hul mense versaak.

Jacobus ·

Niemand verlaat hom nie , ek dink nie hulle sal helfte van die sake teen hom in die hof kan bewys nie

Dries ·

Wat n goeie en weldeurdagte skrywe. Ek voel al jare so maar kon dit nog nie so mooi verwoord nie. Ek het maar net gedink dat hierdie intellektuele profs en doktors wat meer nonsens praat as waarheid net op nander vlak is en die volle sirkel geloop het. Van slim reg rondom weer tot onnosel

Zombie ·

Mens moet oor redelike intellektuele vermoëns beskik om dit wat mens voel, mooi te kan verwoord. Is die sirkel-metafoor wat jy gebruik, net op ander van toepassing of geld dit vir jou ook?

Jacobus ·

Ek verstaan die sentiment maar die meningvormer is slordig geskryf. As ek mag vra op wat grond jy jou kennis en inligting? Die mense met PHD’s doen jare se navorsing om hulle opinies te vorm

Karel Kobus Kruger ·

Die beste is dat die intellektueles alles behalwe goeie kwalifikasies besit wat werklik n hoë IK benodig. Hulle almal het maar daai so-so grade op universiteit geswot. Bitter min, indien enige van hulle sal n graad in iets soos aktuariële wetenskap, medies of ingenieurswese kan bekom.

Derek ·

Enige persoon wat nie met hierdie mening en opinie saamstem besing sy eie lof, of te wel niks anders as n liberaal wie nog steeds ontken dat ons verskillend is soos ons geskep is. Dit is juis hulle wie die ras kaart trek omdat hulle dink dat n wettiese stelsel die oplossing is. Dit is juis die teenoorgestelde wat waar is. Die skeppers en die vernietigers kan nie saam werk en dit sien ons elke dag in SA, die 1994 droom is verkeerd bewys.

Jacobus ·

Jy klink soos ‘n institusionele rassis. Mense is letterlik almal dieselfde biologies behalwe vir melanin vlakke wat die enigste noemenswaardige verskil is, Kultuurverskille bestaan maar dis nie inherent nie Derek. Die meerderheid mense in SA werk saam dis net mense met die siening dat hulle inherent better is met wie hulle nie wil saamwerk nie

Kosie ·

Ek stem saam… Ek wil net die volgende byvoeg:
1) Kyk gerus wie befonds hierdie intellektuele. Baie van die intellektuele sit gerieflik op universiteite in geesteswetenskaplike rigtings en ry lekker op die belastingbetaler se rug terwyl hulle vir die gewone mens vertel hoe agterlik en onnosel hy is; ander word direk befonds deur die vyand.
2) As dit jou, meneer die intellektueel, nie direk raak nie, stel ek nie belang in jou mening nie. Dit is soos die proffies wat vir ons vertel hoe goed dit is dat die land toe gesluit is weens Covid-19, maar hulle kry nog hul salarisse.

Jacobus ·

Wel die professore het darem ‘n doktorsgraad in virologie of ‘n soortgelyke kwalifikasie. Hulle opinie word ingelig deur empiriese navorsing. Meeste professionele mense het hulle salaris behou deur die pandemie.

As jy vir my kan wys watter dosent by enige fakulteit gesê het dat “agterlik en onnosel is ” eet ek my hoed op

pompies ·

Baie goed gestel, maar net een probleem ons afrikaner mense trek nie saam aan die wa om hom deur die drif te kry nie. Elkeen trek in n ander rigting, nou hoe dan gemaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.