Vergiftigde aasvoëls weer vrygelaat

Witrugaasvoëls. (Foto: Verskaf)

Slegs ʼn klein getal aasvoëls wat in Augustus in ʼn beweerde stropingspoging in die Krugerwildtuin vergiftig is, het dié beproewing oorleef.

ʼn Moontlike motief vir die vergiftiging is intussen geïdentifiseer en vrese bestaan nou dat dié voorval nie die laaste gaan wees nie.

Maroela Media het vroeër berig dat altesaam 107 witrugaasvoëls en ʼn hiëna dood in die Punda Maria-gebied van die Krugerwildtuin aangetref is, nadat hulle vermoedelik aan ʼn vergiftigde karkas gevreet het.

Ná verskeie ingrypings om die voëls van ʼn nare dood te red, het slegs 23 oorleef. Hulle sterk nou in die natuur aan nadat hulle eindelik weer vrygelaat is.

Volgens dr. Gareth Tate, programbestuurder van roofvoëls by die Bedreigde Natuurlewe Trust, is hulle sowat twee weke gelede by die Moholoholo-rehabilitasiesentrum in Limpopo vrygelaat.

“Ons het die aasvoëls met opsporingseenhede toegerus en toe hulle eindelik vrygelaat is, het hulle doelgerig en sterk weggevlieg,” sê hy.

“Dit was opwindend om te sien dat die span se pogings nie heeltemal verniet was nie.”

Die Bedreigde Natuurlewe Trust, in samewerking met die Moholoholo-sentrum, monitor voortdurend die oorblywende aasvoëls se toestand, aangesien dit in hierdie stadium nog onduidelik is of die voëls enige langtermynskade weens die vergiftiging opgedoen het.

Die aasvoëls se moniteringstoestelle sal na verwagting sowat drie tot vier jaar werk, voordat dit tot niet gaan. Dit gee die span darem genoeg tyd om ʼn volledige ontleding van moontlike newe-effekte aan te teken.

“Die laaste wat ons gesien het, lyk dit asof hulle terug veld toe is. Hulle kan reeds ver afstande aflê, so dit is klaar ʼn goeie teken,” sê Tate.

“Die uitkoms hiervan beklemtoon opnuut die belangrikheid daarvan om vinnig op voorvalle van vergiftiging op te tree.”

Motief van vergiftiging bekend

Van die aasvoëls wat in die veld gevrek het, is glo sonder pote en koppe aangetref.

“Dit is moontlik dat die motief vir die vergiftiging aan die maak van tradisionele medisyne gekoppel kan word. Ons vermoed die doel was om die aasvoëls se liggaamsdele te versamel sodat dit vir moetie gebruik kon word,” sê Tate.

Tog vermoed hy dat die aasvoëls moontlik net ʼn onbedoelde slagoffer was, en dat die eintlike teiken leeus in die Krugerwildtuin is.

“Dit was moontlik net opportunisties want die voëls is baie diep in die wildtuin aangetref.”

Volgens Tate word aasvoëls se liggaamsdele dikwels deur tradisionele geneesheers voorgeskryf vir mense wat glo hulle benodig ekstra geluk wanneer hulle byvoorbeeld die Lotto speel.

“Sommige mense is oortuig dat aasvoëls in die toekoms in kan sien omdat hulle so hoog kan vlieg. Dit is waarom van hierdie liggaamsdele, dikwels in ʼn vorm van ʼn poeier, ingeneem word,” sê hy.

“Daar word ook geglo wanneer jy die liggaamsdele van ʼn dier inneem, jy die eienskappe van daardie dier aanneem. Dit is hoekom leeus veral geteiken word – om mense so sterk soos ʼn leeu te maak.”

Maroela Media het vroeg die week reeds navraag aan die polisie gestuur oor dié bewerings, maar het teen die naweek nog geen terugvoer ontvang nie.

SANParke het aan Maroela Media gesê dat hulle ook nog geen terugvoer van die polisie in dié verband gekry het nie, maar dat alle pogings intussen aangewend word om stropingsvoorvalle in die Krugerwildtuin te bekamp.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.