‘Verkragting’ by Bloem-skool: Seuns gedreig

hof-hamer

Argieffoto.

Die drie seuns wat daarvan beskuldig word dat hulle ʼn 14-jarige meisie verkrag het terwyl hulle ʼn video van die voorval gemaak het, moet nou vir hul eie veiligheid in aanhouding bly.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat, het aan Maroela Media gesê die drie seuns, onderskeidelik 15, 16 en 17 jaar oud, het Maandag in die kinderhof in Bloemfontein verskyn. Volgens Shuping staan al drie op ʼn aanklag van verkragting tereg, terwyl een van die seuns ook vir die vervaardiging en verspreiding van pornografie aangekla word.

Maroela Media het vroeër berig ʼn groep meisies het op 7 Junie ekstra klasse by die Hoër Tegniese Skool (HTS) Louis Botha in Bloemfontein bygewoon. Die meisies het glo alkohol gekoop en dit op die skoolterrein gedrink. Die slagoffer het weens die alkohol haar bewussyn verloor en haar vriendinne het haar daar op die skoolterrein agtergelaat.

Die seuns, wat almal leerders by die skool is, het vermoedelik op haar afgekom waarna hulle haar na bewering met hul vingers verkrag het. Een van die seuns het na bewering ʼn video van die voorval gemaak en dit op sosiale media versprei. ʼn Polisiewoordvoerder het vroeër gesê die meisie was aanvanklik nie bewus van die voorval nie omdat sy bewusteloos was. Sy het egter later die video op sosiale media gesien en dit op 13 Junie by die polisie aangemeld.

Shuping het gesê die seuns se saak is tot 27 Junie uitgestel, maar hulle sal in aanhouding bly omdat hulle dreigemente ontvang het. “Dit is nie duidelik wie die seuns gedreig het nie, maar iemand het gedreig om hulle leed aan te doen. Hulle word dus by die Thabo Mofutsanyana-veiligheidsentrum in Qwaqwa in die Oos-Vrystaat aangehou tot hul volgende hofverskyning,” het hy gesê.

Hy het gesê die ondersoekbeampte in die saak is ook opdrag gegee om die dreigemente te ondersoek.

Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse departement van onderwys, het Maandag gesê die departement sal berading aan die slagoffer en enige ander leerders wat deur die voorval geaffekteer is beskikbaar stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Stellie ·

Alhoewel dit n uiters slegte voorval is, is ek BAIE dankbaar ek het nie sulke vriendinne nie!

Magda ·

Yip, duidelik kan jy hulle nie vriendinne noem of opregte vriendinne noem nie. Sterkte aan haar, maar los maar die drankies vir heelwat later hoor.

Nettie ·

O gaats, nóú gaan daardie seuns darem régtig veilig wees – danksy die media wat die naam van die Sentrum waar hulle “vir hul eie veiligheid aangehou sal word” uitgeblaker het! Eish!

Anoniem ·

Wel ek hoop maar al die betrokke partye word verwyder by bogenoemde skool sodat hul onkunde nie versprei na ander leerlinge nie.

kitta ·

onkunde? jy bedoel verseker ongehoorsaamheid en disrespek teenoor hulle skool en medemens. sussie ek sê nie jy het dit verdien nie maar kies jou vriende met oorleg. snaaks hoe tandloos die polisie geraak het behalwe wanneer weerlose vroue met diensrewolwers geskiet word.

cor ·

Opvoeding dit is die wagwoord, indien die ouers by hulle kinders se opvoeding betrokke was sou so iets nie gebeur het nie. Elkeen loop met n selfoon en dink die lewe is n groot grap, so kry vir julle, sy kan haar gesig nie in die samelewing wys nie en die drie is seker klaar verkrag in die sogenaamde plek van veiligheid en bewaring.

kitta ·

indien hulle reeds verkrag is, hoop ek die ouers lê n klag teen die persone wie na hulle moes omsien. as aangehoudenes aangerand, gemolesteer of verkrag word moet hulle vrygelaat word. dan is hulle mos reeds gestraf. nie eers die laagste slegste g uitvaagsel moet aangehou word as hulle veiligheid nie gewaarborg kan word nie. die grondwet behoort ook so te sê. wielie en judith hulle het seker by die antie of oempie by n sjebeen geholpe geraak.

Boeremeisie ·

Kitta dis van so uitkyk dat die gespuis verkrag. Siestog hulle arme menseregte miet tog net nie tenagekom word nie! Wat van die slagoffer? Tronke is nie vyfster hotelle nie en dit behoort ook nie te wees nie! Sê jy nou wragtie as ‘n moordenaar of pedofiel verkrag word in die tronk moet hy vrugelaat word?

wielie ·

14 jaar oud en alkohol gekoop? Nou vra ek HOE en WAAR koop n 14 jarige alkohol???

judith ·

Stem saam met Wielie, sal graag wil weet waar kry kinders die alkohol op so ouderdom? soos drugs? seker van die straat? vriendinne?? kyk na mekaar, kon ‘n onderwyser verwittig het of haar ouers. voel jammer vir die jong kind. leer uit jou foute.
ALKOHOL IS VIR GROOT MENSE!

Ken ·

Dit is baie maklik om drank in die hande te kry, kry net ‘n “japiekop” (iemand wat die goedkoop wyne drink) en hy sal bereid wees om vir jou te koop vir die geld van ‘n “litertjie”. En vir ‘n meisie van 14 is dit ook nie snaaks om te drink nie, jy’s
nie cool as jy dit nie doen nie! Voor die opvoeding in die huise nie beter is nie, sal dit nooit verander nie.

Nettie ·

@Ken, Judith & m hierbo – jy kan ‘n kind opvoed en pakslae/preke gee soveel as wat jy wil, maar as hulle wíl verkeerd foeter en met verkeerde maats verkeerde dinge doen – o.m. seks te hê of drank te koop en hul daaraan te vergryp – dan gáán hulle. En enige een kan drank koop – hulle vra net ‘n vriend wat ouer is. Gelukkig IS daar uitsonderings en hierdie uitsonderings sal jy vind in huise waar daar finansiële- en emosionele stabiliteit, respek, dissipline en goed soos “elke daad het ‘n gevolg” vind. Ek was eens ook jonk en was eers die mees-voorbeeldigste dogtertjie (‘n “little Miss Goody Two Shoes’), maar toe ek eers uit onder Ma en Pa se oë is, het ek goed laat waai – maar ek was darem toe al 19, mag ek byvoeg.

Mense moet onthou dat in vandag se gemengde skole. kom kinders van verskillende agtergronde bymekaar. Jou kind kom dalk uit ‘n stabiele, onafhanklike huis met goeie waardes en dissipline, maar langs haar sit ‘n kind wat uit ‘n huis kom, waar die ouers staatsgeld trek vir die kinders, nie werk nie, of dwelm/drank-afhanklik is (nie dat mindergegoede mense noodwendig swakker waardes het nie) – sulke kinders is dikwels die voorbokke met verkeerde dinge, want hulle ervaar dit daagliks en sien niks verkeerd daarmee nie. Dit is die realiteit daar buite ……

anton ·

Dit is waarom die gemengde goed/dinge net n totale gemors is in die wêreld.

Chivago ·

Ag foeitog, nou voel die bloedjies seker hul demokratiese menseregte word geskend in hierdie polities korrekte land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.