Gedagte vir die dag: Vreugde

boekevat-blydskap-spring-van-vreugde

Foto: blisshabits.com

Vir die regverdiges sal daar blydskap wees, hulle sal juig voor God, hulle sal vrolik en bly wees. (Ps 68:4)

Lees Psalm 68:1-7

God is die bron van alle ware vreugde. C.S. Lewis het geskryf dat God ons nie anders as deur Homself vreugde en vrede kán gee nie omdat daar eenvoudig nie iets is soos blydskap sonder God nie. Vreugde behoort dus ’n wesenskenmerk van God se kinders te wees. As jy God liefhet, kán jy mos nie anders as om ’n vreugdemens te wees nie: Jy weet dan seker dat jy verlos is, dat God altyd by jou is, dat Hy vir jou alles goed sal laat uitwerk en dat die hemel vir jou wag. Christene kan dit selfs regkry om soos Habakuk te getuig: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder” (3:17-18).

As jou eie vreugdevlammetjie op die oomblik laag brand, kan jy iets daaraan doen: ware vreugde is altyd aansteeklik. As jy iemand anders gelukkig maak, sal jy self in die geluk deel wat so ’n persoon ondervind. God wil graag sy vreugde vir jou gee – bly naby Hom en maak ander mense bly. Dan sal jy elke dag in die son van sy vreugde kan leef.

Hemelse Vader, ek loof U vir die vreugde wat ek ondervind omdat U by my is, omdat ek U ken. Help my om hierdie vreug de deur te gee aan elke ander mens wat my pad kruis. Amen

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

malcolm ·

Dankie vir die pragtige boodkappie. Dit maak my dag. Here seën Maroela Media vir hulle mooi gebaar wat hulle toon. Beskem hulle te alle tye. Amen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.