Welkom-bejaarde steeds vermis: ‘Ons sal nie moed opgee nie’

Die 82-jarige Karl Reich word beskryf as lank, slank en fiks en weeg sowat 80 kg. Foto: Facebook

“Dis nou drie weke; 21 dae. Dit voel soos ʼn leeftyd.”

So skryf Karl Reich, die 82-jarige vermiste van Welkom in die Vrystaat, se dogter, Belinda Ferreira, in ʼn inskrywing op die Facebook-groep Karl Reich Missing.

“Ek sou so graag daardie irriterende ‘Beeeeelllinda’ wou gehoor het wanneer pa wou hê ek moes ophou vloek, sterk wees en baie ander dinge,” skryf Ferreira.

“Dit gaan nou beter met my; nie goed nie, maar [ek staan] sterk. Ek het nog mense genader vir inligting. Geduld was nog nooit een van my sterk punte nie, maar ek leer!”

Ferreira en haar man, Johan, Reich se skoonseun, het sedert die bejaarde se verdwyning ʼn hofbevel gekry wat Absa gedwing het om inligting bekend te maak wat aangedui het dat die bejaarde se kredietkaart op 25 September, die dag nadat hy as vermis aangemeld is, onsuksesvol vir drie transaksies in Johannesburg gebruik is.

Beeldmateriaal van die veiligheidskameras by die vulstasie op die hoek van Volks- en Tempestweg in Jim Fouchépark, naby Reich se huis, het gewys hoe mense daar ry met sy wit Kia Cerato en goudkleurige Honda Civic.

Beeldmateriaal van kameras by die tolhekke tussen Kroonstad en Johannesburg het egter niks opgelewer nie.

Intussen het hulle nog geen leidrade gekry om op te volg nie, skryf Belinda. “Geen nuus van karre, banktransaksies, niks … Maar, pa, ons soek nog na jou. Ons probeer absoluut alles. Ons sál jou opspoor! Ons sal nie moed opgee nie. Ek weet pa sou nie.”

Die Ferreiras het sowat tien dae gelede ʼn privaat speurder, Brad Nathanson, aangestel om hulle in hul soektog te help. Enigeen met inligting wat die polisie in hul ondersoek kan help, word gevra om Nathanson by 083 250 2007 te bel of AO Tilla Hamman van die Welkom-polisie by 057 391 6011.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

leser ·

wat ‘n verskriklike hartseer moet daar nie wees nie, geen antwoorde maak ‘n mens rasend
sterkte aan karel se familie, hoop daars spoedig goeie nuus

LouE ·

Sies vir ABSA. Kon gerus die kinders gehelp het. Hoekom is dit nodig om ‘n privaatspeurder te huur? SAPS sal mos graag wil help?

Lee ·

Ai dis so hartseer. Hoop julle kry julle pa spoedig en dat hy ok is. Baie sterkte met die soektog xx

Gesiggie ·

Belinda ek staan agter jou, ek kan net dink wat als deur jou gedagte moet gaan? daar moet iemand wees wat sal kan help… ek bid en Glo saam jou dat daar spoedig antwoorde gaan wees. Sterkte en bly sterk, God is in Beheer.

Petro ·

Het die verdwyning van oom Karl nie genoeg meriete om n wyer media dekking te regverdig nie bv.Kyknet Nuus Etv en SABC 2 ens. Sterkte aan sy kinders.

Elaine ·

daar was nie lank terug ‘n Tracker in sy kar gewees nie dalk sy eie of die van ‘n vorige eienaar ?
probeer dit dalk ? my verloofde werk by ‘n tracker MKY en soms al is die ‘n gekanselleerde polis kan hulle nog steeds die voertuig sien/ track

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.