Welsynsorganisasies trek reeds swaar met weggooi-diere

Een van die honde wat onlangs by Mdzananda afgelaai is. (Foto: Verskaf)

Terwyl die feesseisoen vir meeste mense en organisasies ʼn gelukkiger tyd van die jaar inlui, is dit gewoonlik die begin van die moeilikste tyd van die jaar vir welsynsorganisasies wat met diere werk, soos die Mdzananda-dierekliniek en Woodrock.

Marcelle du Plessis, die fondsinsameling- en kommunikasiebestuurder by die Mdzananda-kliniek in Khayelitsha, Kaapstad, sê dat hulle reeds ʼn instroming van hawelose diere dié maand gehad het en dat hulle tans 33 rondloperkatte in hul fasiliteit asook 28 katte in pleegsorg het.

Dié niewinsgewende organisasie wat al in 1996 gestig is, is nie ʼn troeteldierskuiling nie, maar ʼn veeartsenykliniek wat net spasie vir 15 honde en 15 katte op sy perseel het.

Du Plessis sê dat 11 honde sonder heenkome die afgelope naweek by die organisasie aangemeld is.

“Van nou, ʼn maand voor Kersfees, tot Januarie, word baie diere verwaarloos, aan ons oorhandig of oor ons mure gegooi wanneer ons saans nie hier is nie. Hoewel dit beter is dat hulle hier by ons is, as dat hulle in die strate is, kan Mdazanda nie met die instroming van diere volhou nie,” sê Du Plessis.

Dit, meen sy, plaas baie druk op die kliniek se werkers, ruimte en hulpbronne. “Dit kos R1 530 om een weggooi-hond vir twee maande te onderhou, dan dek dit net die sterilisering, inentings, ontwurming, vlooi- en bosluisbehandeling en kos. Dit sluit egter ander koste soos werkers, water en elektrisiteit uit.”

Mdzananda se oudste inwoner, Tandjies. (Foto: Verskaf)

Sy verduidelik dat hulle deur hul Facebook-blad en webwerf lede van die publiek bewus maak van die weggooidiere wat by die kliniek is en dat sommige diere baie vinnig ʼn nuwe heenkome vind, maar dat ander weer baie langer by hulle bly. “Arme Tandjies is al hier sedert Desember 2018,” sê sy.

Die probleem is egter nie net beperk tot die Wes-Kaapse gemeenskap nie, maar kom oral in die land voor.

Estelle Meldau, medestigter van die Woodrock-welsynsorganisasie in die Hennopsriviervallei, vertel dat die skuiling reeds tot barstens toe vol is met al die diere waaraan dié organisasie ʼn heenkome moet bied. Die organisasie het in Januarie vanjaar talle diere ingeneem nadat ʼn brand by die Purrpaws for Life-diereskuiling gewoed het. Hulle het ook nóg ʼn klomp diere ingeneem nadat die Irwin’s-diereskuiling in Vereeniging toegemaak het.

Boonop het die organisasie heelwat ander diere, soos donkies, ganse, hase en varke en in totaal huisves hulle tans 300 diere. “Die probleem met die feesseisoen is dat baie mense op vakansie gaan en nie weet wat om met hul diere te maak nie, of nie lus het om die geld te betaal vir mense om na die troeteldiere om te sien nie. Baie van die diere eindig dan by ons op, net vir daardie gesin wat hul hond weggegooi het om weer ʼn baba-hondjie in Januarie te kry.”

Sy sê ook dat talle gesinne hulself daaraan skuldig maak om ʼn sak hondekos en ʼn bak water vir hul troeteldiere uit te sit en dan vir ʼn maand lank weg te gaan. In hierdie gevalle lei dit na troeteldiere wat begin rondloop op soek na kos, aandag of omdat hulle bang is. Hierdie diere eindig dan ook by diereskuilings.

Vir albei die organisasies, en die honderde ander troeteldierskuilings in Suid-Afrika, is die grootste nood om geld in te samel om die bedryfskoste te dek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Bizza ·

Dis hoekom ek meer van honde as van mense hou. Mense is wreed en selfsugtig. Daai hond wat weggegooi word sal sy lewe vir ‘n mens gee.

JohanL ·

Dis eintlik tragies hoe gou en maklik iemand R200 se drank koop maar nie beried is om R200 te skenk aan ‘n diere welsynsorganisasie nie.

Kan MM nie genoemde welsynsorganisasies se bankbesonderhede plaas vir skenkings nie?

Anja van der Merwe ·

Dagsê JohanL

Dankie vir jou kommentaar. Besoek gerus die skakels wat in die berig gevoeg is vir meer inligting oor skenkings.

Dankie!

Groetnis
Anja
nms Maroela Media

Vra maar net ·

Ekskuus dat ek dit hier noem. Ek weet dit het niks met die berig uit te waai nie, maar kan M/media nie asb die advertensies afhaal nie. Dit is baie steurend.

Se net... ·

Steurend ja….maar onthou dit betaal die rekeninge sodat ons gratis nuus kan lees

Diereliefhebber ·

Ek ken vir Estelle persoonlik, ‘n meer onbaatsugtige mens kry jy nie sommer nie. Haar en Nicholas (haar man) en personeel is mense wie se toewyding en liefde vir diere ‘n inspirasie is. Ondersteun asb. die diere shelters, die diere kan hulleself nie help nie.

Duifie ·

Vrydagaand word dier oor dierevereniging se muur gegooi. Saterdag gaan ons op ons jaarlikse jollie holiday. Januarie kom ons terug. Kinders “pa ons soek n anner hond” pa en ma “ja my beste kinders enige iets. Pa sal Maandag een vir my kabouters gaan kry.” Volgende paasnaweek word n hond weer oor muur gegooi. Dan wonner ons oor die wêreld!!!!!

Heksie ·

As jy ‘n dier so kan behandel, sê dit vir my presies wie en wat jy is as mens, en vir jou soek ek nie naby my nie!

Sandy ·

Diere-eienaars moet wetlik verplig word om hul diiere te steriliseer. Dan sal hierdie probleem verminder word. Baie mense is sielloos en wreed. Geen ander siel is so lojaal soos ‘n hond nie…..en jy gooi hom weg as dit jou nie meer pas nie.

Angelique ·

Baie dankie Maroela Media dat julle dit deel, baie mense is nie bewus hiervan nie. Vir jare is dit die tyd van die jaar wat my pa hulle by die Spca ook vrees. Nog is daar ook ander dinge waarvan die plubiek nie bewus is nie en glo my dit is ‘n gruwel,die goed wat aan diere gedoen word in die feestyd is soos “horror movie”.

Attie. ·

ek bly oor die feestyd en veral Nuwejaar by my honde. My groot wens is dat klappers en vuurwerk verbied word. Wonder hoekom vuurwerkr se belasting nie verhoog kan word nie. Daar is 1000e honde te veel in elke dorp. Om vir almal ‘n nuwe heenkome te vind is nie haalbaar nie. Ek glo as hondelisensies weer ingestel word maar dubbel prys vir ‘n vrugbare teef, dan sal dinge begin beter gaan. Hoe dit ookal mag klink sê ek wat ‘n dierevriend is, moet oortollige troeteldiere eenvoudig deur ‘n veearts uitgesit word. Dit is die minste wreed teenoor die diere. Baie weggooihonde eindig weer by arm mense. Ek sien gereeld honde aan kort oskettings vasgemaak sonder skuiling. Dit is wreder as om uitgesit te word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.