Wes-Kaap bekommerd oor duisende uitstaande aansoeke vir skooltoelating

Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys (Foto: Facebook)

Die Wes-Kaapse LUR vir onderwys, Debbie Schäfer, is bekommerd oor die meer as 85 000 aansoeke vir plekke in skole vir volgende jaar wat nog nie bevestig is nie.

“Dit beteken die aansoeke was suksesvol, maar die ouers het nie hulle finale keuse op die stelsel aangedui nie,” het Schäfer Maandag gesê.

Meer as ʼn miljoen leerlinge in die Wes-Kaap keer môre, ná die wintervakansie, terug skool toe.

“Die derde kwartaal van die akademiese jaar is een van die belangrikstes vir leerders, onderwysers en amptenare, want dit is wanneer eksamens en toetse afgelê word.”

“Dit is ook wanneer amptenare begin met die enorme taak om te verseker die departement is gereed vir die begin van die 2020-akademiese jaar deur aansoeke wat op die nippertjie ingedien is, te finaliseer en te verwerk,” het Schäfer gesê.

Sy het gesê ouers het tot Donderdag om aansoek te doen vir ʼn leerder se plasing by die skool van hulle keuse. As hulle dit nie doen nie, doen die departement outomaties die plasing.

“Ouers moet (hulle keuse) verkieslik direk op die stelsel aandui. Dit is veel vinniger en aansoekers kan dadelik sien wat die uitkoms (van die aansoek) is,” het Schäfer gesê.

“As ouers die plasing nie direk op die stelsel kan bevestig nie, kan hulle ʼn e-pos stuur, of ons distrik- of hoofkantoor skakel vir hulp.”

Schäfer het ʼn beroep op ouers gedoen om kalm te bly as hulle aansoeke nog nie na wense verwerk is nie en het gesê die departement is nou besig met die tweede fase van die toelatingsproses.

“Die doel van dié gedeelte van die proses is om soveel as moontlik aansoeke so gou as moontlik af te handel, sodat plekke by skole kan oopgaan waar dieselfde kinders twee of drie keer suksesvol geplaas is. Deur aansoeke nou te bevestig, laat dit ons toe om te bepaal waar openinge by skole is, sodat leerders op waglyste ook geakkommodeer kan word.”

Die matriekeksamen begin oor 107 dae en hierdie is ʼn belangrike kwartaal vir veral graad 12’s.

“Die departement steun skole en matrieks op verskillende maniere terwyl hulle vir die eindeksamen voorberei. Daar was onder meer ʼn winterskool gedurende die vakansie. In dié stadium is die grootste fokus om die leerplan vir die termyn af te handel,” het Schäfer gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.