Wetenskap en fantasie ontmoet in hierdie kinderreeks

Die Zinzi en Saffraan-reeks laat meisies van sewe jaar en ouer se verbeelding oortyd werk. Die opwindende stories, wat oor ses boeke vertel word wat elk 88 bladsye beslaan, kweek nie net ’n lewendige belangstelling in die wetenskap nie, maar die fantasie-elemente daarin vervat sorg vir ’n onvergeetlike leeservaring.

Magiese diere, monsters, avonture en raaisels word vernuftig vermeng met interessante feite en wetenskaplike eksperimente. Die handige woordelyste agterin die boeke help om lesers se woordeskat uit te brei.

Asia Citro, die outeur, en Marion Lindsay, die illustreerder, is ’n formidabele span wanneer dit kom by lekkerlees kinderfiksie wat tegelykertyd opvoedkundig en vermaaklik is. Zinzi is ’n speurder en ’n wetenskaplike en sy kan, nes haar ma, towerdiere sien wat niemand anders kan sien nie. Zinzi se getroue kat, Saffraan, is altyd aan haar sy, en saam beleef dié twee die wonderlikste avonture. Hierdie oulike reeks laat kinders lees-lees leer én droom.

Drake en malvalekkers

Zinzi se ma versorg towerdiere vandat sy as klein dogtertjie ’n gloeiende pers padda genaamd Pip se lewe gered het. Zinzi is skoon verstom toe sy hierdie ongelooflike ontdekking maak. Haar ma gee aan haar haar ou wetenskapjoernale om deur te blaai en ’n wonderwêreld gaan vir Zinzi oop. Haar ma moet vir ’n week lank weggaan en Zinzi bied aan om die towerdiere te versorg wat na die skuur in die agterplaas kom vir hulp. Sy het egter nooit kon droom dat haar eerste ‘pasiënt’ ’n babadrakie sou wees nie!

Uittreksel: Ek dra die diertjie tot by ’n houttafel en sit hom daarop neer. “Jy is nogal swaar vir so ’n klein dingetjie.” Ek vryf hom weer saggies. Stadig strek hy hom uit, en twee vlerkies en ’n lang stert skiet uit. Hy is ’n draak! En hy is so klein, hy is beslis ’n baba.

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Monsters en muf

Gorp, ’n yslike bosmonster, wil baie graag die jaarlikse Monsterbal bywoon. Gorp het egter ’n probleem waaroor hy vreeslik verleë voel. Hy klop by Zinzi aan vir hulp. Zinzi is vol vertroue dat sy Gorp sommer tjop-tjop sal kan help, maar o wee, niks wat sy doen los die arme woudmonster se probleem op nie. Gorp huil naderhand dat die trane spat! Gaan Zinzi se eksperimente vrugte afwerp of sal Gorp maar net in sy grot moet bly en nie die bal bywoon nie?

Uittreksel: “Wat sal ons volgende probeer?” prewel ek terwyl ek teen my Dinkbril tik. “Aha! Ek moet ’n klomp dinge probeer. Ek moet ’n eksperiment doen!”

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Meerperdjies en borrels

Daar is groot fout by die stroompie in die bos en van die meerperdjies en ander watergoggas is in groot gevaar. Zinzi en haar ma neem ’n watermonster om vas te stel wat moontlik fout kan wees. Sal hulle die probleem kan oplos en die meerperdjies en eendagsvliegies kan red voordat dit te laat is?

Uittreksel: ’n Oomblik lank staar ek oopmond na die toneel voor my. Meerperdjies. Reënboogklippies. Dis so ongelooflik! Maar dan onthou ek my maniere. Ek kyk elke meerperdjie in die oë en sê: “Baie dankie vir die pragtige geskenk.”

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Katjievlinders en ys

Dit sneeu en dis yskoud in die woud. Die diere kry vreeslik koud en is baie nat. Die towerdiere in die bos kry ook swaar. Katjievlinders het hulle eiers op kattekruid gelê, maar toe word dit so koud dat hulle die eiers by die gasheerplante moes wegvat en dit in ’n grot gaan versteek het. Zinzi en Saffraan moet die katjievlinder-eiers red, maar dit is beslis makiker gesê as gedaan en hulle eerste reddingspoging loop byna lelik skeef.

Uittreksel: Ek vryf my oë. Sjoe. Dit lyk soos piepklein groen katjies met ses pote en groot vlindervlerke so wit soos sneeu … met klein pienk kolletjies daarop!

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Paddas en plante

Die magiese pers padda, Pip, bring vir Zinzi ’n gloeiende saadpeul. Zinzi en Saffraan moet die seldsame tower-saadpeul identifiseer, want die saad het baie spesiale sorg nodig om tot  towerplante te groei. Indien hulle nie betyds uitvind hoe om die ideale groeitoestand vir die sade te skep nie, gaan dit tot pers stof verkrummel.

Uittreksel: Ons sluip nader en kyk. Terwyl die fwiepe sing, groei die plante, en nog blomme gaan oop. Natuurlik! Hulle liedjie laat die plante selfs beter groei as myne – of die radio s’n. Die fwiepe land versigtig op elke blom. Dit lyk asof hulle iets in die blomme eet. Soet nektar, miskien? En elke keer as ’n fwiep op ’n blom land, kan jy iets soos blinkertjies op haar pels sien glinster.

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Towerponies en kieme

Zinzi-hulle se huis skud van ’n aardbewing – of is dit dalk ’n towerponie-bewing? ’n Reusagtige towerponie genaamd Kleintjie verkeer in erge pyn en soek dringend hulp by Zinzi en Saffraan. Sal Zinzi-hulle daarin slaag om hulle nuwe vriend gesond te dokter? Moontlik. Maar wat het bakterieë en petribakkies daarmee te doen?

Uittreksel: Kleintjie is wakker, maar dit lyk of hy regtig aaklig voel. Sy oë is pofferig en hy lig skaars sy kop van die grond af op.

Koop die boek nou by Graffiti Boeke

Die Zinzi en Saffraan-reeks word deur LAPA Uitgewers uitgegee. Die boeke is by toonaangewende boekhandelaars beskikbaar, maar kan ook direk op LAPA se webblad (www.lapa.co.za) bestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.