Willie Strauss is Cullinan se eie diamant

Willie Strauss (Foto: Theana Breugem)

Deur Elize Perrin 

Willie Strauss skitter as televisiepersoonlikheid, akteur, sanger, liedjieskrywer en koskenner voor mense. Elke optrede is ʼn uit-die-hart-poging.

“Ek hou nie daarvan om te poer-poer nie,” sê Willie. “As ek iets doen, gaan ek groot of los dit.”

Volop bestanddele

Hierdie boorling van die Noord-Kaap, wat uitvoerende kunste aan die destydse Pretoria Technikon studeer het, kon kleintyd reeds aanklank vind by sy ma en ouma se bak- en brou-sessies in die kombuis.

Alhoewel Willie gou is om te vertel dat hy nie ʼn opgeleide sjef is nie, is daar genoeg bestanddele in sy kreatiewe koskas om ʼn verrassing op te lewer.

“My fonteintjie het gelukkig nog nie opgedroog nie,” sê hy. “Ek word geïnspireer deur ander mense en navorsing wat ek doen. Ek sal iets proe en probeer om ook ʼn gereg te maak, maar op my eie manier en in my eie styl.”

Niemand kan Willie se passie vir kos miskyk nie.

“Ek maak baie foute,” sê hy en vertel graag van sy ma se sjokoladepoeding en sous wat tydens ʼn opname van Kos is op die tafel drie keer geflop het. “Dis ʼn resep wat ek baie gereeld maak,” sê hy, “maar daai dag wou dit net nie uitwerk nie. Ek het later maar net gelag. Tot vandag toe weet ek nie waarom die resep nie wou uitwerk nie. Ons het maar later so in die middel ʼn stukkie uitgeskep vir die kamera om af te neem.”

Wanneer so iets Willie tref, gaan hy maar net aan en probeer weer.

“My kop is altyd besig en op soek na nuwe idees en goed om aan te pak om my kreatiwiteit te stimuleer.”

Resep vir sukses

Of dit in sy Sinkhuisie op Cullinan of êrens in ʼn vreemde lokaal of kombuis iewers in die land is, dit bly vir Willie lekker om mense te vermaak en sy koskennis met hulle te deel.

“Alles wat ek doen het vir my ʼn eie bekoring en lekkerte,” sê hy. “Ek dink dit is hoekom mense die Kook en sing-produksie so geniet. Ek kook ʼn gereg, demonstreer hoe om ʼn fondant-roos te maak en sing bekende liedjies, en nuutskeppings, onder begeleiding van Henry-John Williams.”

Willie Strauss en Henry-John Williams. (Foto: Theana Breugem)

Vir Willie is dit die kersie op die koek as hy sien hoe sy gehoor sy kos geniet.

“Om te kook aan ʼn nuwe resep maak my opgewonde om die eindresultaat te proe,” sê hy. “Ek kuier letterlik saam met die gehoor en dit is lekker informeel.”

Kook op ʼn verhoog op vreemde plekke het hom geleer om aan te pas by enige situasie en veral om op sy voete te dink.

“Ek moet vinnig ʼn plan maak as iets sou verkeerd gaan,” sê hy.

Willie noem dat hy nog altyd lief was vir kosmaak, maar dat die kosding, soos hy daarna verwys, ʼn organiese iets is wat gebeur het.

“Magda Swart het my gevra om vir Rapport Tydskrif bydraes te skryf vir die kosrubriek. Dit was baie gewild. Ek het toe begin om meer en meer kos te maak. Toe ek weer my oë uitvee, praat ek elke Saterdag op Pretoria FM met Jacques Botes oor kos.”

Daarna het sy kookboek en gereelde praatjies met Amore Bekker op RSG, gevolg. Dit was alles die voorloper tot die geboorte van sy Kook en sing-produksie.

“Vandag is ek so dankbaar vir Magda en Jacques wat my uit my gemaksone gevat het. Ek glo dat wanneer jy ʼn kans kry, jy dit moet vat en voluit gaan.”

Vir Willie is sy kookboek ʼn hoogtepunt in sy loopbaan.

“Dit was ʼn droom van my,” vertel hy. “Dan moet ek byvoeg om op RSG en Pretoria FM insetsels te doen, is nog ʼn droom wat waar geword het.”

Op die spyskaart

Februarie is die maand van die liefde. Vir Willie is ʼn bottel vonkelwyn ʼn moet op die tafel tydens ʼn romantiese ete.

“En dan ʼn restaurant waar ek weet die kos goed is,” sê hy. “Verkieslik nie ʼn plek waar daar ʼn speelpark vir kinders is nie. Dit moet ʼn rustige aand met lekker kos wees.”

Wanneer jy jou geliefde tuis wil onthaal, stel Willie voor dat tyd spandeer word om die tafel, en jouself, mooi te maak. Alhoewel rooi meestal met die liefde geassosieer word, is wit ook ʼn kleur wat vir Willie die liefde versinnebeeld.

“Wit is so ʼn rein en skoon kleur waarmee jy enigiets kan doen,” sê hy. “Dit skep moontlikhede.”

Willie beveel aan dat resepte vooraf getoets word indien jy self gaan kook.

“Moenie ʼn dis aanpak wat jy nog nooit gemaak het nie,” waarsku hy.” Jy plaas onnodige spanning op jouself. As jy graag ʼn spesiale aand by die huis wil spandeer en jy kan nie kook nie, bestel die kos en bedien dit net. Maak dit eerder ʼn onthou-aand as wat jy die hele aand gaan wonder of jou maat jou kos gaan eet. Niemand hoef te weet jy het dit nie self gekook nie.”

Willie Strauss (Foto: Theana Breugem)

ʼn Ekstra proeseltjie vir die jaar

Aanhangers kan nog na heelwat uitsien die jaar.

“Ek is op die oomblik besig om aan twee manuskripte te werk waaroor ek opgewonde is,” vertel Willie. “Die ene is ʼn kookboek en die ander ʼn boek met dagstukkies oor dankbaarheid. Dankbaarheid is vir my só belangrik. Ek noem elke aand drie goed waaroor ek dankbaar is op Facebook en dit het my lewe verander, want jy kyk nou anders na goed in jou lewe.”

Goeie nuus is dat daar ook ʼn nuwe teaterproduksie, Stories van Strauss, kom.

“Daar is soveel bekendes met die van Strauss, maar daar is net een Willie Strauss,” sê hy. “In die vertoning is daar ʼn nuwe liedjie of drie en ook nuwe stories wat ek en my begeleier, Henry-John Williams, self geskep het.”

Wonder ʼn mens of daar iets is wat die mense nie van Willie weet nie, verseker hy jou dat hy ʼn oop boek is.

“Ek vertel vir almal alles en het nie regtig geheime nie,” sê hy. “Ek dink nie mense besef hoe skaam ek eintlik is nie. Ek hou van alleentyd en op my eie wees by my Sinkhuis.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.