Winter het aangebreek in die Kaap

Koue weer word vir die Wes-Kaap verwag (Foto: Verskaf)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het Sondag ʼn waarskuwing uitgereik vir gevaarlike weerstoestande in die Wes-Kaap. Temperature in die Wes- en die Oos-Kaap het ook Maandag beduidend gedaal.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAW) voorspel stormsterk winde van 65-80 km/h vir die suidwestelike gebiede en suidkus van die Wes-Kaap en die Oos-Kaap. Rowwe seetoestande met golwe van tot 9 m hoog tussen Kaap Columbine en Plettenbergbaai word vir Maandag voorspel. Dit sal na verwagting weer teen Dinsdagoggend bedaar. Chapmans Peak was reeds Maandagoggend gesluit weens gure weerstoestande.

Stormvloede word ook langs die kus tussen Kaap Agulhas en Oos-Londen verwag.

Die SAW voorspel ligte sneeuval asook reënval vanaf Maandag oor die westelike hoogliggende dele van die Wes-Kaap. Die sneeu sal Maandag laatmiddag na verwagting na die oostelike hoogliggende dele van die provinsie en ook na die suidelike hoogliggende dele van die Noord-Kaap, digby Sutherland en Calvinia, uitbrei.

Die sneeu gaan teen Dinsdagoggend na die noordelike binneland van die Oos-Kaap, Lesotho, Qwaqwa en die KwaZulu-Natalse Drakensberg versprei. Dit volg na sneeu reeds verlede week oor dele van die Oos-Kaap en Lesotho asook in gebiede soos Qwaqwa in die Vrystaat begin val het.

Volgens ʼn verslag van die Snow Report kan die meeste gebiede in dié provinsies tot 10 cm sneeuval verwag. Die swaarste sneeu word van Dinsdag in die Klein-Karoo, in die hoogliggende gebied digby Uniondale, verwag.

Bergpasse in die wynland-distrik van die Wes-Kaap en die Klein-Karoo gaan gesluit wees weens die sneeuval.

Maroela Media het vroeër berig die kouefront wat die Wes-Kaap Sondagaand getref het, kan ook lei tot reënbuie oor die suidwestelike gedeeltes van die Wes-Kaap. Die kouefront word voorafgegaan deur winderige toestande in die meeste gebiede, met stormsterk wind oor die Wes-Kaapse binneland.

Volgens Bransby Bulo, weervoorspeller by die SAWD, bring die sneeu en kouefront dié week bitter koue dagtemperature vir die hele land. Temperature in die Oos-Kaap, Noord-Kaap, Vrystaat en Lesotho kan op plekke tot -10 ˚C daal.

Bulo sê temperature in die Wes-Kaap en Oos-Kaap sal na verwagting Maandag en Dinsdag beduidend daal, maar teen Woensdag weer begin styg. Maksimum temperature van tot 14 ˚C kan tot Dinsdag in dié provinsies verwag word.

Die suidelike gebiede van die Noord-Kaap se temperature gaan ook daal, met Sutherland wat Dinsdag ʼn maksimum van 7 ˚C en Calvinia ʼn maksimum van 12 ˚C kan verwag.

Volgens die weerdiens gaan die koue die noordelike dele van die land Dinsdag tref. Gauteng en KwaZulu-Natal se maksimum temperature gaan ook tot tussen 16 ˚C en 18 ˚C daal. Temperature sal teen Donderdag weer begin herstel.

Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê die voorspellings vir reën en sneeu dui daarop dat die winter in die Wes-Kaap aangebreek het.

“Ons verwelkom die nat weer as gevolg van die jare se droogte in die provinsie. Die kommer is wel dat dié toestande verdere uitdagings ten tyde van die afsondering kan veroorsaak. Ons doen ʼn beroep op die publiek om in hierdie tyd ekstra voorsorg te tref,” sê Bredell.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Mieke ·

Eers volgende week -dus hulle gaan ten minste die ergste koue weer vryspring!

Scalla ·

Hulle het nie voorheen gesmelt nie en behoort nou ook nie Willem, die natuur sorg vir homself.

Charl ·

hoe weet jy dis die koue wat dit ramspoedig gaan maak? Niemand het bewyse nie

Grassie ·

Die Kaap het heerlike weer in die somer maar as ‘n mens in die winter daar kom verstaan jy waarom het die Voortrekkers hul ossewaens ingespan en noord getrek.

Jaco ·

hulle het uit die Oos-Kaap getrek. Bitter min, waarskynlik geen, Voortrekkers was uit die Boland en Kaapstad

Oom Hennie Pennie ·

Dis die Kaap, as hy nie nat is nie dan is dit nie winter nie.

Gawie ·

Lees ek daai tweede paragraag reg?
“Rowwe seetoestande met golwe van tot 9 m hoog . . . . .word vir Maandag voorspel. Dit sal teen die middag na Port St Johns en die sentrale Karoo . . . versprei.”
Het iemand die Karoo-boere gewaarsku dat daar sulke groot golwe by hulle gaan wees? Ek dink nie baie van dié boere kan branderplank ry nie.

Megan Swart ·

Dagsê Gawie
Ons vra om verskoning vir die verwarring, die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.