Wortels en vleuels: Hendrik Christo Viljoen (1937-2023)

Prof. Christo Viljoen (Foto: Universiteit Stellenbosch)

Soms knoop ʼn begaafde mens se aktiwiteite só ʼn muurtapyt dat ʼn mens daarna kyk en patrone in die lewe van ʼn volk verstaan. Dit geld ook vir die lewe en loopbaan van prof. Christo Viljoen, wat op Vrydag, 13 Januarie 2023, op 85-jarige leeftyd oorlede is.

Hendrik Christo Viljoen is op 31 Augustus 1937 gebore in Graaff-Reinet. Sy ouers was Hent Viljoen en Anna Pienaar, beide onderwysers. Graaff-Reinet was ver van die Afrikaner-kultuursentra van Paarl en Stellenbosch, ʼn Karoo-dorp naby die Vallei van Verlatenheid. Die Volkskool daar het na ʼn plaaslike taalstryd egter een van die land se eerste Afrikaanse skole geword.

Viljoen was ʼn gedrewe man wat graag nuwe dinge opgebou het. In 1979 het hy dekaan van die fakulteit ingenieurswese by die Universiteit Stellenbosch (US) geword en in die tydperk 1993-1998 was hy ook die viserektor (bedryf). Hy was ʼn gekwalifiseerde onderwaterduiker en hy kon ʼn helikopter vlieg. Viljoen het egter ook sy kulturele wortels gerespekteer en versorg en sy wetenskaplike en ondernemende vleuels wyd gesprei.

Universiteit met ʼn houding

Die historikus Hermann Giliomee beskryf die destydse Universiteit van Stellenbosch as ʼn universiteit met ʼn houding. Dit het in 1918 ontstaan uit die Viktoria-Kollege en was die eerste volwaardige universiteit wat oorwegend in Afrikaans as medium klas gegee het. Engelstalige dosente en studente het ʼn klein minderheid gevorm. Tussen 1919 en 1978 was alle premiers US-alumni. Die Vlaamse historikus Wim Blommaert was onder diegene wat Afrikaans as akademiese taal by die universiteit bevorder het en was 1926 tot 1933 selfs rector magnificus van die universiteit.

By die universiteit het opeenvolgende geslagte akademici doelbewus Afrikaners vir die lewe voorberei en vir die professies, die sakewêreld, en die domein van natuurwetenskappe en tegnologie bemagtig. In die vakgebied van ekonomiese en bestuurswetenskappe was dit voor Viljoen se geslag mense soos prof. CGW (Christiaan) Schumann, wat ook die Vlaamse ekonoom Maria de Lange aangestel het. Later het Viljoen en van sy tydgenote, insluitende my pa – Johan Matthee, hul bydraes gelewer.

Toe Viljoen in 1966 aangestel is as dosent, was die meeste universiteitsdepartemente meer hiërargies en mededingend as kollegiaal. Etlike van die akademici het ook buitemuurs organisasies op die gebiede van kultuur, sport, welsyn en die bedryfslewe uitgebou. Soms het ʼn geheime organisasie, die Afrikaner-Broederbond (AB), wat as teenvoeter vir die Vrymesselaars opgerig is, hierin ʼn rol gespeel. Volgens Hans Strydom se boek The Super-Afrikaners, is Viljoen in 1971 as AB-lid aangeneem.

Universiteit en gemeenskap

Heelwat studente in die 1950’s en 1960’s was die eerste geslag Afrikaners wat universiteite bygewoon het. Die studentelewe was soos oral vol vermaak en dinamiek, maar studente se gedrag en kleredrag tydens klasse moes aan konserwatiewe standaarde voldoen. Matieland, die universiteit se alumniblad, was vir dekades ʼn eentalig Afrikaanse publikasie.

Die universiteit en Stellenbosch, met sy skole, besighede, omringende boerderye en berge naby die see, was destyds ʼn Afrikaner-oorheersde kultuursentrum. Die universiteitskampus was ʼn grootliks aaneengeslote terrein in die middel van die dorp. Mense in die gemeenskap het mekaar dikwels geken.

Om hulle het die republiek se staatsbou en Westerse konsentrasies redelike veiligheid meegebring. ʼn Europese besoeker wat tussen die eikebome en Kaaps-Hollandse argitektuur geloop het, het opgemerk dat die hemel en die aarde in Stellenbosch bymekaarkom. Dit was maklik om die stryde waarop alles berus het of die uitdagings van Afrika-politiek verkeerd te lees of te ignoreer.

Wetenskap in Afrikaans

Viljoen het in 1955 by die US begin studeer. In 1957, toe Sowjet-Rusland die eerste kunsmatige satelliet lanseer, was hy een van die mense wat ʼn toestel gebou het om die seine van Spoetnik 1 te kan ontvang. Hy is in 1966 as dosent by die US aangestel, waar hy in 1970 professor geword het.

As viserektor (bedryf) van 1993 tot 1998 het Viljoen die verdere ontwikkeling gestuur van die Neelsie-studentesentrum, vernoem na die Afrikaanse skrywer CJ Langenhoven. Hy het ook die oprigting van die gebou vir biologiese wetenskappe gesteun, vernoem na Jan Smuts, premier en ʼn denker oor holisme en ewolusie.

Na ʼn tydperk as besoekende professor in Hsinchu, Taiwan in die 1980’s, het Viljoen die vader van die Tegnopark buite Stellenbosch geword. Hy het destydse rolspelers oorreed om grond en infrastruktuur te help ontwikkel, met die visie van ʼn tegnologiepoort na die res van Afrika. Vandag is dit ʼn aktiewe sentrum vir kennisinstellings en prominente bedrywe, hoewel dit nog baie potensiaal het vir ontwikkeling.

Viljoen het die eerste Afrikaanse woordeboek oor elektronika in 1971 geskryf, en later ʼn taalwoordeboek oor kubertegnologie. Hy was ook ʼn medeskrywer van die eerste woordeboek oor ruimtetegnologie. Gedurende sy hele lewe sou die aanpak van wetenskapsuitdagings in Afrikaans ʼn tema bly.

Gelyke kanse

Viljoen se ouers was beide afstammelinge van die 180 Franse Hugenote wat na vervolging in 1688 in Frankryk na die Nederlandse VOC se Kaapse kolonie gevlug het. Die Hugenote se afstammelinge het later leierskapsposisies binne die Afrikaner-samelewing ingeneem buite verhouding tot hulle getalle. Viljoen se belangstelling in genealogie het daartoe gelei dat hy die Viljoens en Pienaars se familieregisters geskryf het.

Meer as vyftig jaar na Viljoen by die US as dosent begin het, was Suid-Afrika ʼn ander politieke orde met ʼn ander demografiese profiel. Die hervormings en debatte van die 1980’s en die Afrikaner-beheerde republiek was weg. Die Afrikaners se kulturele ekostelsel wat te nou met regerings gekoppel geraak het, het verdeel en na 1994 platgeval. Te midde van staatsverval en onbeheerde geweldsmisdaad het talle afgestudeerde studente en jong gesinne emigrasie oorweeg.

Nelson Mandela het in 1996 in Stellenbosch genoem dat minstens een universiteit onder die vele veral Afrikaans moet dra. Hierdie weg het uiteindelik weens politieke druk en swak leiding deur sommige US-besture begin doodloop. Viljoen, visepresident en president van die US-alumni se Konvokasie in die tydperk 2006-2016, het saam met Hermann Giliomee, AfriForum, en andere veldtogte gevoer dat Afrikaans ʼn gelykberegtigde posisie beklee by die US.

Die US het nietemin beweeg na ʼn plek met ʼn meerderheid Engelssprekende studente en baie Engelssprekende dosente uit alle rassegroepe. Matieland, die alumniblad, het eentalig Engels geword. Die meerderheid bruin sprekers van Afrikaans en jong Afrikaners geniet tans in die praktyk nie gelyke kanse om deur hul moedertaal universiteitsopvoeding te ontvang nie.

Universiteitsdebatte om die natuurwetenskappe en tegnologie te dekoloniseer gaan gepaard met protespolitiek en die verval van Suid-Afrika se infrastruktuur en elektrisiteitstelsel. Viljoen het reeds sedert 2015 in Litnet adviesstukke begin skryf oor hoe huishoudings en gemeenskappe rugsteunstelsels vir elektrisiteit kon oprig.

Vleuels vir Afrikaans

Toe die SA Ruimte-Agentskap in 2015 aankondig dat dit net Engels en twee swart tale as amptelike tale gaan gebruik, het Viljoen daarteen beswaar gemaak. Die swart tale het nie voldoende vakterminologie bevat nie, wat outomaties Engels se oorheersing sou verseker. Daarenteen het die Internasionale Ruimte-Agentskap in 2011 in sy veeltalige woordeboek verkies om Afrikaans in te sluit as die mees ontwikkelde taal in natuurwetenskappe en tegnologie in Afrika.

Viljoen se boodskap destyds sein ook iets oor sy kultuurhouding en die toekoms: “Dit is vir Afrikaanssprekendes om te sorg dat Afrikaans nie uit sy ruimtelike wentelbaan ontwentel word deur die onverklaarbare en duidelik polities geïnspireerde besluite van owerheidskant nie.”

Afrikaans het eers in die sentrum van die US gestaan, maar dit kan uiteindelik daar ʼn eensame grenspos word in ʼn Engelse Vallei van Verlatenheid. Die Wes-Kaap self behou egter sterk Afrikaanse konsentrasies. Instellings soos Akademia en ander gaan intussen voort met die vorming van kultuurlonge en ʼn gemeenskapsuniversiteit.

Moet kleiner tale in die sakewêreld en natuurwetenskappe noodwendig buig voor Engels se oorheersing as wêreldtaal? Die historikus Jaap Steyn bespreek in Ons gaan ʼn taal maak hoe mense op vele terreine gewerk het om Afrikaans tot volwaardige akademiese en wetenskapstaal te ontwikkel. Christo Viljoen was een van daardie baanbrekers. Hy laat sy vrou, drie kinders en vele kleinkinders na.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Heinrich Matthee

Dr. Heinrich Matthee beklee die ere-leerstoel in veiligheidstudies by Akademia en is ʼn politieke ontleder in Nederland vir bedrywe in die Midde-Ooste.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

‘n Merkwaardige en navolgingswaardige lewe. Ons eer u nalatenskap, prof. Viljoen. Tragies dat die Universiteit van Stellenbosch besluit het om sy Afrikaans wortels uit te trek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.