Dit is nou sommer baie maklik om ʼn slaggat aan te meld danksy die webwerf, Ogaats.co.za.
Die webwerf is ʼn privaat inisiatief en bied ʼn eenvoudige manier om slaggate en ander pad- en stormwaterverwante foute anoniem aan te meld.
Ogaats.co.za verwys die probleem na die korrekte staatsdepartement.
Al wat jy hoef te doen is om ʼn foto van die slaggat te neem, op ʼn klein kaartjie aan te dui waar die slaggat voorkom (of tik bloot die adres in).
“Al wat jy benodig is ʼn kamerafoon of rekenaar en toegang tot die internet,” sê Pierre du Toit, woordvoerder van Ogaats.co.za. “Daar is geen voorvereistes soos om ʼn app af te laai nie en jy hoef ook nie te registreer nie.”
Volgens Du Toit is die fokus op die gebruiker en daarom behoort dit jou nie langer as 30 sekondes te neem om ʼn fout aan te meld nie.
Ogaats.co.za is tans beskikbaar in al Suid-Afrika se 226 munisipaliteite.