Meertaligheid vertraag Alzheimer

Argieffoto (Foto: malibuunites.com)

Argieffoto (Foto: malibuunites.com)

ʼn Studie wat aan twee Vlaamse universiteitshospitale gedoen is, toon aan dat die ontwikkeling van Alzheimer se siekte met tot vier en ‘n half jaar vertraag kan word by diegene wat aktief tweetalig leef.

Hierdie studie laat die debat oor hoe meertaligheid ’n invloed op die vorming van Alzheimer het, weer wipplank ry. Die debat het in 2010 momentum gekry toe verskeie Kanadese navorsers ’n artikel in die vaktydskrif, Alzheimer Disease and Associated Disorders, geplaas het. Hulle het bevind dat ’n vroeëre studie dat tweetaligheid Alzheimer kan vertraag, nie altyd steek hou nie, maar dat meertaligheid wel Alzheimer met tot byna vyf jaar kan vertraag.

Hierdie navorsers het ’n groep meertalige Kanadese, hoofsaaklik immigrante, met gebore Kanadese vergelyk wat Kanada se twee amptelike tale magtig is. Onder die meertaliges was daar bepaald ’n vertraging van byna vyf jaar vir die vorming van Alzheimer se siekte. Onder die tweetaliges, het Franssprekendes wat ook Engels magtig is, ook ’n effense vertraging met die vorming van Alzheimer beleef. Onder die Engelssprekendes wat Frans magtig was, was daar bykans geen vertraging nie.

Die volgende jaar het die Nederlandstalige Gezondheid.be weer uit ’n jonger Kanadese studie aangehaal wat weer bewys het dat tweetaligheid geheuesiektes soos Alzheimer kan vertraag. Die korteks van die brein is gemeet en is vasgestel dat by meertaliges, die brein twee keer so erg aangetas moet wees om dieselfde vlak van Alzheimer te hê as by die eentalige.

In 2012 het ’n Amerikaanse studie opnuut daarop gedui dat tweetaligheid die vorming van Alzheimer met tot vier jaar kan vertraag, en het die Internationale Stichting voor Alzheimer Onderzoek daaroor verslag gedoen. Nou het De Standaard weer oor die jongste navorsing berig.

Dit is geen wonder dat die Vlaamse media verwikkelinge oor tweetaligheid se voordele so nougeset volg nie. Die Vlaminge is oor die algemeen besonder twee- en meertalig, terwyl hul Waalse, Franssprekende landgenote onder die mees eentalige volke ter wêreld beskou word.

Lees die uitslae van die verskillende navorsingsverslae:  Alzheimer Disease & Associated Disorders, Gezondheid.be, Alzheimer.nl en Standaard.be gelees word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.