Die nuwe BMW 3-reeks – opgekikker en verfyn

BMW 3-reeks 2015 Foto: Bernard K Hellberg

BMW 3-reeks 2015 Foto: Bernard K Hellberg

‘n Mens kan skaars glo dat die BMW se topverkoper nou reeds 40 jaar lank deel van die motortoneel is. Hierdie topverkoper uit die BMW-stal (14 miljoen eenhede) het waarskynlik sy sukses te danke aan die feit dat deur die generasies heen (al ses van hulle) veranderinge aan veral die bakwerk nooit radikaal of dramaties was nie.

Dit sou die eienaars van die pas vervangde (vorige) model net nukkerig gemaak het.

En steeds, na al die jare, is dit steeds BMW-beleid om elke nuwe geslag so na as moontlik na die vorige te laat lyk wat die uiterlike betref. Dis ‘n gesonde beleid wat blitsveroudering teenwerk, eienaarslojaliteit behou en die markwaarde in stand hou.

Maar wat is dan anders aan die jongste geslag BMW 3-reeks?

Die kopligte, om mee te begin, vertoon ietwat smaller en is verder uitmekaar om tot ‘n breër voorkoms by te dra, tesame met die groter en meer aggressiewe voorste luginlate wat die macho-beeld verder aanhelp. Agterlangs lyk die ligte darem ook ietwat anders as by die vorige generasie.

Tydens die onlangse wêreldbekendstelling in Duitsland en Oostenryk waar joernaliste met die 340i te midde van ‘n hittegolf te make gekry het, het hierdie gespierde weergawe (249 kW) weer eens getoon waarom BMW so gewild onder kopers is wat van sportiewe werkverrigting hou. BMW se mediaspan het verder tot die pret bygedra deur ‘n roete te beplan wat van die Autobahn afgewyk het en die Suid-Afrikaanse groep van München af suidooswaarts tot in Achenkirch (‘n ski-oord in Oostenryk) op die sogenaamde Bundesstrasse laat ry het. Hierdie smaller paadjies en snelhede so laag as 30 km/h deur antieke dorpies in die Beierse Alpe het die BMW 3-reeks se inherente dinamika na vore laat kom.

En dis dan ook onder hierdie omstandighede dat die nuwe 3-reeks se 8-gang outomatiese ratkas hom bewys het as waarskynlik die beste nog onder die BMW-vaandel. Oorskakeling is so glad dat dit geensins waargeneem kan word nie. Geen huiwering of rukkerigheid nie, en met die verdere voordeel dat wanneer spoed verminder word, hierdie ratkas so geprogrammeer is dat dit dadelik twee ratte laer af terugskakel – bv 8ste word dadelik 6de, ens.

Hierdie briljante kombinasie van feitlik die volmaakte ratkas en die tradisionele in-lyn BMW 6-silinder 3-liter enjin gee aan die 340i sy unieke dubbele persoonlikheid – ‘n witwarm, ooppad toer-sportmotor wat die 0-100 km/h versnelling in 5.1 sekondes kafdraf en in staat is tot ‘n ware 250 km/h (net op die Autobahn, verstaan) – maar wat terselfdertyd rats genoeg vir die kleinste gangetjies en stegies so kenmerkend van Duitse kleindorpies.

Persoonlik het ek saamgestem met BMW se uitgangspunt dat ‘n mens nie moet karring aan ‘n wenresep nie. Die buitevoorkoms is steeds ietwat wigvormig en elegant, terwyl die binneruim dramaties herontwerp en meer verbruikersvriendelik is.

Vir die BC (before computers) generasie soos ek was alle kontroles intuïtief en maklik om te verstaan, die Harman Kardon-klankstelsel van topgehalte, terwyl die gehalte leerbekleedsel in Saddle Brown aansienlik meer prakties was as die ligte Veneto Beige waarmee sommige motors toegerus was. ‘n Mens dink onwillekeurig aan kinderhandjies en sjokolade wanneer sulke ligte sitplekke oorweeg word. Van die sitplekke gepraat: Kantsteun is uitstekend deur hoë snelheid kronkelpaaie, beenruimte agter is heeltemal voldoende, en die volle elektriese verstellings van die twee voorste sitplekke is wat ‘n mens van ‘n motor van hierdie gehalte verwag.

Vanselfsprekend is die stuur ten volle verstelbaar – hoogte en reikafstand – vir ‘n volmaak gemaklike ry-ervaring. Die remme – skywe reg rondom – is dodelik doeltreffend en het geen tekens van oorverhitting getoon nie, terwyl die ses lugsakke, ABS-remme en vastrapbeheer ook tot die gevoel van veiligheid en gehalte bygedra het.

Ten slotte:
Hierdie 6e generasie van BMW se topverkoper 3-reeks is weliswaar nie goedkoop nie (R661 335) maar dit bied heelwat aan die eienaar. Klankdemping is buitengewoon goed (die binneruim is doodstil, selfs teen hoë snelhede) en daar is geen sprake van bakwerkrammel nie. Die 340i – en ek aanvaar sy goedkoper maatjies ook – word met sorg gebou. Tradisionele Duitse vakmanskap sorg vir eienaartrots. Die 3-reeks word gebou om te hou en sal voortgaan om verkoperekords op te stel. Selfs die amptelike verbruiksyfers – wanneer beskaafd gery word – kom op 6.8 liter/100 km te staan, wat nie te versmaai is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Paul ·

Hierdie is nie die “nuwe geslag” 3-reeks BMW nie. Dis slegs ‘n geringe aanpassing, die sogenaamde “mid-life facelift” van die model. Dis steeds die F30-geslag.
In 1975 die E21
In 1982 die E30
In 1992 die E36
In 1999 die E46
In 2005 die E90
en in 2012 die huidige F30.

Cobus ·

Dis nie mid-life facelift nie maar word wel genoem die LCI model

Life Cycle Impulse – BMW term for facelift or update to existing series.

Paul ·

Daar bevestig jy dit, dankie Cobus.
Maak nie verskil watter lawwe, pretensieuse afkorting die vervaardiger uitgedink het daarvoor nie, dit bly die algemeen bekende “facelift” wat die meeste motors kry so drie of vier jaar in hul siklus – glad nie ‘n nuwe “geslag” nie.

Paul ·

Hier kan mens die uiters geringe verskille werklik sien: http://www.carscoops.com/2015/05/how-much-has-facelift-changed-bmw-3.html

Ek verstaan ook nie hoe hierdie artikel die volgende kan skryf nie: “…terwyl die binneruim dramaties herontwerp … is.”

Dit lyk dan presies dieselfde as voorheen!
Vergelyk die foto’s van BMW se eie webwerf:
http://www.bmw.co.za/products/automobiles/3/3series2012/design_interior.asp
en:
http://www.bmw.co.za/com/en/newvehicles/3series/sedan/2015/showroom/design.asp

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.