Foto’s: Motor van die Jaar-finaliste

Een van die finaliste vir die 2015 WesBank/SA Motorgilde Motor van die Jaar (Foto aan Maroela Media verskaf deur SA Motorgilde)

Een van die finaliste vir die 2015 WesBank/SA Motorgilde Motor van die Jaar (Foto aan Maroela Media verskaf deur SA Motorgilde)

Die finaliste vir die 2015-WesBank/SAGMJ-Motor van die Jaar (MVDJ) kompetisie is Donderdagoggend aangekondig tydens ‘n opwindende geleentheid wat aangebied is deur WesBank, die kompetisie se hoofborg. Die aankondiging volg na 29 lede van die Motor van die Jaar-jurie vir die kompetisie se 40 semifinaliste gestem het.

Die elf finaliste vir die 2015-WesBank/SA Motorgilde Motor van die Jaar-kompetisie, Suid-Afrika se vooraanstaande motorbyeenkoms, is (in alfabetiese volgorde):

• AUDI A3 SEDAN 1.4T SE S TRONIC
• BMW M4 COUPE AUTO
• CITROËN C4 PICASSO E-HDI 115 INTENSIVE
• HONDA ACCORD 3.5 V6 EXCLUSIVE
• LEXUS ES 250 EX
• MERCEDES BENZ C-CLASS C 200 AUTO
• NISSAN QASHQAI 1.6DCI ACENTA AUTO
• PORSCHE MACAN S DIESEL
• RENAULT DUSTER 1.5DCI DYNAMIQUE 4WD
• SUBARU WRX PREMIUM
• TOYOTA COROLLA 1.4 D-4D PRESTIGE

Die volgende stap in die proses is ’n tweedaagse evalueringsessie wat vroeg in Maart 2015 in Gauteng gehou sal word. Toetse wat by die wêreld-erkende Gerotek-toetsterrein naby Pretoria gehou word vorm die mees belangrike deel van die hierdie beoordelingsdae.

Die roetes en modules wat tydens hierdie aspek ingespan word, is ontwerp om die jurielede in staat te stel om die finaliste in alledaagse toestande waaraan die gemiddelde verbruiker blootgestel sou word, te toets.

Die beoordeling bied die jurielede die geleentheid om hulle met elke voertuig te vergewis, maar ook om spesifieke aspekte soos voorkoms, bougehalte, ergonomie, brandstofverbruik, omgewingsbewustheid, veiligheidseienskappe en waarde vir geld van elke finalis-motor te oorweeg.

Die jurie sal toegang hê tot onafhanklike toetsdata, vergelykende pryse- en toerustingsdata, sowel as vergelykende onderdeelpryse wat deur Malcolm Kinsey van Durban saamgestel is.

Alhoewel elke finalis beskou kan word as ʼn voorbeeld van uitmuntende voertuigingenieurswese, kan daar slegs een wenner wees, en sal daardie wenner in die oë van die jurie, die motor wees wat die beste algemene voertuiguitnemendheid verpersoonlik. Hierdie is die grootste enkele vereiste waaraan die Motor van die Jaar moet voldoen.

Die wenner van die 2015-WesBank / SAGMJ Motor van die Jaar-kompetisie sal by ʼn glansgeleentheid op 18 Maart 2015 aangekondig word, wat ook deur WesBank aangebied sal word. Motul en Hollard Versekeringsmaatskappy verskaf ondersteunende borgskappe.

Volg die gebeure op Facebook of op Twitter. Nog inligting oor die kompetisie en die finaliste is hier beskikbaar.

(Maroela Media se motorskrywer, Bernard K Hellberg, sal, soos by nagenoeg 12 vorige geleenthede, een van die jurielede wees.)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.