Fliekvlooie staan reg: die Silwerskermfees is hier

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Fliekvlooie kan regmaak vir die kykNET Silwerskermfees waartydens Kampsbaai jaarliks omskep word in die Suid-Afrikaanse weergawe van die bekende Cannes-rolprentfees. Ou én nuwe talent is vanjaar weer op dié fees te sien.

Vanjaar maak 15 kortprente hul debuut op die fees: onder meer ’n verwerkte radiodrama, ’n kortverhaal en ’n verwerkte studentedrama. En dan is daar ook nog van komedie tot rillers.

Verskeie vollengte rolprente soos Dis ek, Anna, Die Pro en Anel Alexander se nuwe rolprent, Sink, het hul première op die fees.

Volgens Karen Meiring, M-Net se direkteur van Afrikaanse kanale, is die samekoms is iets besonders. “Hier word diep in die nag gekuier en gepraat, maar nuwe idees kry ook vorm en gestalte en dan word daar besigheid gepraat. En soms, net soms, word langverwagte drome waar.”

Al die kortprente kom in aanmerking vir die toekennings wat op Saterdagaand 29 Augustus aangekondig word. Soos in die verlede is daar ’n paneel kundiges wat nie net die keuringsproses behartig het nie, maar ook gaan toesien dat die bestes in die verskeie kategorieë weer vereer gaan word.

“Die fees is ’n belangrike forum waarmee kykNET nuwe idees en konsepte kan vind om te ontwikkel. René van Rooyen was byvoorbeeld in 2012 ’n wenner met die kortprent Nantes en vanjaar was sy die regisseur van die nuwe reeks van Getroud met rugby. Corné van Rooyen se Hollywood in my huis het ’n werklikheid by die Silwerskermfees geword. Bennie Fourie, verlede jaar se wenner met Vuil wasgoed is besig met teksontwikkeling vir ’n nuwe komediereeks vir kykNET en was ’n skrywer van Sterlopers onder leiding van Deon Opperman,” sêKaren. Volgens haar is die 2015 Silwerskermfees beslis die plek om raakgesien te word.

Die Silwerskermfees word van 26 tot 29 Augustus by The Bay Hotel in Kampsbaai aangebied. Kaartjies is hier beskikbaar.

Vir meer oor die fees of om na lokprente van die kortprente te kyk, besoek die Silwerskermfees se Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.