“Ballade vir ‘n enkeling” se treffers herleef

Ballade-vir-n-enkeling-se-poster

Die gewilde televisiereeks, Ballade vir ‘n enkeling, herleef nie nou net op die grootskerm nie, maar die musiektreffers uit die reeks kry ook ‘n splinternuwe baadjie. Foto: Verskaf.

Op 20 Maart vanjaar word die rolprentweergawe van een van die gewildste Afrikaanse televisiereekse tot nog toe vrygestel.

Ballade vir ‘n enkeling het in 1987 kykrekords laat spat, en die rolprent vertel hierdie legendariese verhaal op ‘n vars en nuwe manier.

Benewens die storie is daar nog ‘n rede hoekom dié reeks so gewild geword het, naamlik die treffer-klankbaan wat destyds baie goed verkoop het. Om saam te val met die bekendstelling van die rolprent is ‘n nuwe weergawe van een van die groot treffers uit die reeks pas vrygestel.

Voshaarnooi kan seker as die liefdestema uit die reeks beskou word. Dit is ‘n toonsetting deur Louis van Rensburg van ‘n gedig deur Boerneef. Hierdie snit is aanvanklik in 1981 vrygestel, maar dit het eers ‘n treffer geword nadat dit in dié reeks voorgekom het. Kort daarna was dit die titelsnit van een van Louis se albums, terwyl Jakkie Louw en Kevin Leo dit in die rolprent Liefling gesing het. Dit is ook in die nuwe FAK-sangbundel ingesluit. Joshua Na Die Reën het nou ‘n nuwe weergawe vir die rolprent opgeneem, en die musiekvideo daarvan sal binnekort op die kykNet-program Jukebox te sien wees.

https://soundcloud.com/steve-van-deventer/joshua-na-die-reen-voshaarnooi

Later in Februarie word ‘n nuwe weergawe van nog ‘n treffer uit dié reeks vrygestel. Richard van der Westhuizen was die komponis en sanger van die temaliedjie uit die reeks, Enkeling. Die musiekvideo van Die Heuwels Fantasties se nuwe opname sal in Maart te sien wees.

Onder die bekende akteurs wat in die rolprent te sien sal wees, is Armand Aucamp as Jacques Rynhard, Donnalee Roberts as Carina Human, Rolanda Marais as Lena Aucamp en Jacques Bessenger as Jan-Paul Otto.

Hier is Ballade vir ‘n enkeling se lokprent:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Asjas ·

Ek kan nie wag vir die rolprent nie. Ek wil dit bitter graag gaan sien, ek hoop net Die Heuwels Fantasies stel my nie teleur nie, ek is glad nie ‘n fan van hulle nie. Ek luister nog gereeld na Enkeling, dit herhinner my aan die lekker ou dae.

emile ·

Agge nee. Die lokfliek is oorvol onoortuigende popgesig skoolakteurs. Waar’s die ruwwe rou intensie van die oorspronklike Gavin, Selma, Brumilda…?

Saartjie ·

Ek wil graag weet waar kan ‘n mens die musiek koop wat tydens die TV-reeks Ballade vir ‘n Enkeling gespeel is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.