Herinnerings aan Sias Reinecke

Sias-Reinecke-se-Sproetjies

Sias Reinecke se treffer Sproetjies was die gewildste liedjie in 1981 op radioprogram, Afrikaanse treffers. Foto: Youtube.com

Die bekende Afrikaanse sanger en voormalige lid van Groep Twee, Sias Reinecke, is op hierdie dag in 1940 gebore.

Sias het sy Groep Twee-sangmaat Gert van Tonder in 1963 ontmoet toe hulle by die SAUK in onderskeidelik Johannesburg en Durban gewerk het. Toe Gert na Johannesburg verplaas is, het hulle saam begin sing en Groep Twee is in 1964 gestig.

Nadat hulle lank gesukkel het om ‘n platekontrak te kry, het hulle hul eerste kortspeler, “Die oukraalliedjie”, in Desember 1966 opgeneem.  “Die padda wou gaan opsit” was op die keersy. Op 10 Maart 1967 het “Die oukraalliedjie” in die dertiende plek tot Springbok Radio se Top 20 toegetree; dit sou die hoogste plek van toetrede deur enige Afrikaanse liedjie in die geskiedenis van dié treffersparade, gegrond op werklike plateverkope, wees. Hulle het die derde plek gehaal en vyftien weke op die Top 20 gebly. In Oktober van daardie jaar het hulle ‘n goueplaattoekenning vir verkope van meer as 25 000 eksemplare ontvang.  Die volgende jaar het hulle saam met Min Shaw in die rolprent Jy is my liefling opgetree.

Toe die Günther Kallmann-koor deur Suid-Afrika getoer het, het Groep Twee  in die voorprogram  opgetree. Sias het met twee van die koorlede bevriend geraak en hy het besluit om van Groep Twee weg te breek en die groep The Treble Airs saam met hulle gestig. Dit was egter nie ‘n sukses nie; binne twee jaar het Sias weer saam met Gert begin optree en Groep Twee het weer sukses behaal. “Daar’s niks soos ware liefde”, ‘n wysie van Udo Jürgens waarvoor Heine Toerien die Afrikaanse woorde geskryf het, het  Springbok Radio se Top 20 op 27 Augustus 1971 gehaal, die derde plek bereik en agttien weke op die Top 20 gebly.

Sias se eerste solo-album, My geskenk aan jou, het in 1972 verskyn en Gert het die woorde van die titelsnit geskryf. Die groot treffer van dié album was “Die seewind bring heimwee”, ‘n komposisie van Hansie Roodt en André Viljoen.

Ander treffers op dié album was “Speel ‘n liedjie van die see” en “Wat verby is, is verby”.  Op 17 November van daardie jaar bereik Groep Twee weer Springbok Radio se Top 20, hierdie keer met “Dink jy darem nog aan my?”. Hulle haal net die 20ste plek en sak die volgende week weer uit.

Sias se tweede album, Klein Karoo, verskyn in 1977 en die titelsnit, wat deur Sias en André Viljoen geskryf is, word onmiddellik ‘n treffer. Ander snitte wat radiolugtyd gekry het, was “Suidersee”, “My hart sing van liefde” en “Die lewe sonder jou”, wat oorspronklik deur die A Capella-koor gesing is.

Een van die belangrikste gebeurtenisse in die geskiedenis van Afrikaanse musiek was die ontstaan van die Musiek-en-Liriek-beweging in 1979.  Sias is saam met Des Lindberg, Mynie Grové en Laurika Rauch gekies om die liedjies wat uit dié beweging ontstaan het, in die gelyknamige televisiereeks aan die publiek bekend te stel.

In dieselfde jaar het Sias die album Want ons is bymekaar saam met Joanna Field opgeneem. Hierdie album het, naas die titelsnit, ook die treffers “Op ‘n plasie in die Boland”,  “Tesame”, “Liefde is net ‘n spel” en “Waarom is maar net ‘n woord”, wat onlangs ook deur Burgerd en Zita opgeneem is, ingesluit. Groep Twee het die volgende jaar hul laaste kortspeler opgeneem, naamlik “Pale toe”, wat opgeneem is om saam te val met die Britse Leeus se rugbytoer na Suid-Afrika.  Sias se volgende album, Ek en my kitaar, is die volgende jaar vrygestel.  Hierdie album het ‘n spul treffers opgelewer, onder meer “‘n Lang pad huis toe” en “Ons lag en ons sing en ons dans”.  Daar was egter één snit wat bo die res uitgestaan het.  Gert van Tonder het die Afrikaanse woorde vir “Sproetjies” geskryf en dit was so gewild dat dié album binne ses maande heruitgereik is met “Sproetjies” as titelsnit. In 1981 het dit die Treffer van die Jaar op die radioprogram Afrikaanse Treffers geword.

In 1982 is die platemaatskappy Decibel gestig en Sias se album Meisie was die eerste album wat deur dié platemaatskappy vrygestel is. Weer eens het Gert van Tonder die woorde vir die titelsnit geskryf, en die ander treffers vanaf dié album was “Herinnerings aan jou”, “Parstyd in die Boland”, “My langvlegselnooi”, “Sing ‘n lekker liedjie” en “Wie sal kom nagsê”?

Sias het later daardie jaar “Die rugbyonthaal” saam met Leon Schuster geskryf en Leon het dit op sy gelyknamige debuutalbum ingesluit. Dit sou egter Sias se heel laaste bydrae tot Afrikaanse musiek wees, want hy is op 8 Oktober 1982  in die ouderdom van 42 jaar aan ‘n hartaanval oorlede terywl hy op toer was.

Die jaar nadat Sias oorlede is, het Rina Hugo die liedjie “Sanger sing vir my” ter nagedagtenis aan hom op haar debuutalbum ingesluit, terwyl Amanda Luyt nog een van sy treffers, “Die seewind bring heimwee”, vyf jaar later opgeneem het.  “Sproetjies” is ook deur die Belgiese sangeres Dana Winner opgeneem.  Selfs al is Sias meer as dertig jaar gelede reeds oorlede, sal sy musiek vir altyd voortleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

George van Centurion ·

Ons sal Sias se immergroen musiek nooit ontgroei nie.

Tina ·

Ek wens die platemaatskappy wat die regte besit op Sias se musiek wil al sy musiek op cd vrystel. Daar is wel 2 cd’s met van sy grootste treffers, maar daar is nog van sy musiek wat nog nooit op cd vrygestel is nie. Byvoorbeeld ‘Riemrympies’, ‘Luister na my storie’ en die pragtige snit ‘Melanie’.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.