Kompetisie & resensie: Treffer na treffer Vol 7- Verskeie Kunstenaars

Treffer-na-treffer-7

Treffer na treffer volume 7 spog met ‘n lekker verskeidenheid van Afrikaanse musiek. Foto: Verskaf.

Hierdie kompetisie is gesluit: WEN! Vyf Maroela Media lesers kan elk ʼn Treffer na treffer Vol 7-CD wen. Stuur vir ons ʼn e-pos na [email protected] en sê watter twee sangers se liedjies op dié album verskyn. Gebruik “DEKADE” in die onderwerpsveld van die e-pos en onthou om ook jou naam en posadres in te sluit! Die kompetisie sluit Dinsdag 28 Julie om 12:00 en wenners sal per e-pos gekontak word.

As daar een soort album is waarvoor daar altyd ʼn mark sal wees, is dit versamelalbums met treffers van verskillende kunstenaars.

Een van die mees suksesvolle Afrikaanse reekse tot dusver was Treffer na treffer en die sewende volume in hierdie reeks is onlangs vrygestel. Dit is ʼn dubbele versameling en die eerste snit op die eerste CD is die titelsnit van Adam Tas se mees onlangse Afrikaanse album, “Want jy is boer”.

Die volgende snit is “Dorings vir Ma”, die eerste enkelsnit vanaf Manie Jackson se jongste album. Andriëtte se gewildheid het die afgelope tyd geweldig toegeneem, en haar nuwe album word blykbaar binnekort vrygestel. Intussen is een van die treffers van haar mees onlangse album, “Welkom in my hart”, hier ingesluit.

Een van die gewildste groepe in Suid-Afrika op die oomblik is Blackbyrd. Hulle het al twee albums uitgereik en die eerste treffer vanaf hul debuutalbum, “I feel good today”, is ook deel van die album se speellys.

Adam se trefferliedjie, “Sal oorlog vir jou maak”, het die Ghoema-toekenning as Liedjie van die Jaar gewen. Dit was ʼn groot treffer, maar of dit die waardige wenner van hierdie toekenning was, weet ʼn mens nie.

Kurt Darren stel elke jaar ʼn nuwe CD vry en dit gebeur selde dat hy met iets werklik oorspronkliks vorendag kom. “Cowboys en crooks” was ʼn uitsondering; ʼn lekker snit wat nie naastenby so gewild was as wat dit moes wees nie. Daarom is dit goed dat dit hier ingesluit is.

Snotkop het dwarsdeur sy loopbaan ʼn aantal bekende liedjies in Afrikaans gesing en gewoonlik is dit beter as die swak vertalings wat soms in ons kele afgedruk word. Een voorbeeld is die huidige treffer vanaf sy nuwe album, naamlik “Rock my Amadeus”, die Afrikaanse weergawe van Falco se nr. 1-treffer “Rock me Amadeus”.

DJ Ossewa is een van daardie groepe waaroor óf mal is óf niks van hou nie.  “Briljantjie” is ʼn lekker partytjieliedjie, maar eintlik het dit niks om die lyf nie.  Nicholis Louw se jongste album, Só rock ons die wêreld reg, is sy beste in baie jare en die titelsnit, wat hier ingesluit is, behoort ʼn treffer te word.

Ricus Nel is die tweede kunstenaar wat nie ʼn Afrikaanse snit op die album het nie; “I believe in you” kom van sy suksesvolle album Ricus Nel sing Don Williams. Dozi het na ʼn lang stilte teruggekeer tot die musiektoneel en “Kruispad” is een van die treffers vanaf sy album Hande vol genade.

Hennie Jacobs is nie net Diederik van 7de Laan nie, maar ʼn uiters talentvolle sanger met ʼn lae basstem. “Dit is die land” is die titelsnit vanaf sy mees onlangse album en verdien meer radiolugtyd as wat dit al gekry het.

Johan Oberholzer en Wilmari Rautenbach was die twee lede van die sangpaar Hulle, wat ongelukkig net een album vrygstel het. Johan het homself intussen as liedjieskrywer gevestig. “Al wat jy gaan kry” is beslis een van die beste snitte vanaf hul album; dis goed dat hierdie snit, eerder as “Laaste asem”, ingesluit is. Die laaste snit op die eerste CD is “Dat jy myne is” deur die uiters talentvolle Joshua Na Die Reën.

Manie Jackson maak geen geheim daarvan dat hy ʼn onbeskaamde Bles Bridges-aanhanger is nie.  Sy stem is by Bles sʼn gevoeg vir Marie van Zyl se treffer “Sien jou weer”, wat op die Bles Bridges-huldeblykalbum Dankie vir alles ingesluit is.

Daar is verskeie snitte op die tweede CD wat nog nêrens anders beskikbaar is nie.  Die eerste daarvan is “Asemloos” van Liezel Pieters.  Dit is wel ʼn Europese melodie met Afrikaanse woorde, maar dit is so ʼn lekker snit dat dit nie saakmaak nie. Hopelik sal Liezel se eerste volledige CD binnekort vrygestel word.

Die getroude sangpaar Anders het die temaliedjie vir die rolprent Knysna opgeneem en totdat hul nuwe CD vrygestel word, is hierdie versameling die enigste album waarop dit beskikbaar is.

André Venter was voorheen lid van die groep Romanz en deesdae is hy die aanbieder van die televisieprogram Jam op kykNet.  Sy eerste solo-opname, “Ek sal by jou bly”, is eksklusief op hierdie versameling beskikbaar.

Pierre Rossouw was die wenner van die kompetisie Ons soek die sanger en sy eerste album is omtrent drie jaar gelede vrygestel.  Dit is nog nie bekend wanneer sy tweede album vrygestel word nie, maar “Feitlik ordentlik” is  solank eksklusief op hierdie versameling beskikbaar. Dit is ʼn lekker snit wat die dansvloere gou vol sal kry.

Die reeks Krone-konserte wat die afgelope jaar of wat gehou is, het groot aftrek gekry en dit is op CD en DVD vrygestel. Dit is egter ʼn ope vraag of die “Klein bietjie wyn”-keurspel vanaf daardie konsert op ʼn album soos hierdie een hoort.

Carike Keuzenkamp en Nianell span saam vir “As ek droom”, wat al deur Janita Claassen en Manuel Escorcio opgeneem is.  NRG se tweede album, Roulette, het al drie treffers opgelewer, waarvan “Onvoorwaardelik” die mees onlangse een was.

Die volgende snit gaan die gewildheid van hierdie album verseker. Brendan Peyper was verlede jaar nog in matriek, maar hy het die musiektonel soos ʼn bom getref met sy debuut-enkelsnit “Stop, wag, bly nog ʼn bietjie”.  Hy het hierdie snit saam met Neil Schoombee geskryf en hoewel die lirieke effens oppervlakkig is, is dit meer geloofwaardig as die pogings van ouer en meer gevestigde kunstenaars wat soortgelyke liedjies probeer sing het. Die video is al derduisende kere op YouTube gekyk en dit is seker ʼn uitgemaakte saak dat sy debuutalbum ʼn groot sukses sal wees wanneer dit die dag vrygestel word.

Desmond Wells is al byna tien jaar in die bedryf, maar hy het nog nie regtig ʼn groot treffer gehad nie. “Bloubergstrand” kan alles dalk net verander.  Vegas se album, Beste tyd van my lewe, is vroeër vanjaar vrygestel en hoe minder ʼn mens daarvan sê, hoe beter. Die titelsnit is hier ingesluit.

Heuning is seker die naaste wat enigiemand tans aan Afrikaanse country-musiek kom, maar die vraag is of daar so iets bestaan. Hul bydrae tot hierdie versameling is “Bietjie langer bly”, die Afrikaanse weergawe van Jason Aldean se treffer “Don’t you wanna stay”.

Rinel Day het haarself die afgelope paar jaar in die musiekbedryf gevestig, en “DJ speel dit weer” is tot dusver op albei haar albums ingesluit.  Die vrouesanggroep Mwah het nog net een album vrygestel en sedertdien is een lid van die groep met ʼn ander een vervang. “Gee gee gee” was seker hul grootste treffer tot dusver.

Dirk van der Westhuizen het vir groot omstredenheid gesorg toe hy Psy se treffer “Gangam style” by sy eie liedjie “Supercool” ingesluit het. Met die eerste treffer vanaf sy nuwe album, “Deur jou oë” het hy egter gewys dat ʼn mens hom dalk net ernstig kan opneem.

Hierdie album het weereens die potensiaal om baie gewild te word, veral omdat daar soveel snitte is wat nêrens anders voorkom nie en daarom is dit dalk net die moeite werd vir diegene wat op hoogte wil bly van die jongste verwikkelinge in Afrikaanse musiek.

https://youtu.be/Af4Q1mQ65Lw

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.