Resensie: Bring die liefde terug – Gerrie Pretorius

Gerrie-Pretorius-bring-die-liefde-terug

Gerrie Pretorius se album, Bring die liefde terug. Foto: Argief.

Sedert hy in 2003 die erste keer op die musiektoneel verskyn het, het Gerrie Pretorius een van ons land se gewildste kunstenaars geword.

Gedurende hierdie tyd het hy nie net gewone Afrikaanse albums vrygestel nie, maar ook ‘n paar konsep-albums, onder meer Ek sing vir jou Bles, Swing (sy heel beste album tot dusver) en Onthou die goue oues. Nou is hy terug met nog ‘n nuwe vrystelling wat miskien as ‘n konsep beskou kan word, naamlik Bring die liefde terug.

Die titelsnit is die eerste splinternuwe snit in ‘n paar jaar wat Gerrie opgeneem het; hy het dit saam met Don Kelly, en van die grootbase van sy platemaatskappy, geskryf, en dit is reeds besig om ’n treffer te word. Dit behoort nie ‘n verrassing te wees nie, want die meeste mense kan met die lirieke identifiseer. Die enigste ander nuwe snit op die album is Altyd maar net jy, wat Gerrie weer eens saam met Don Kelly geskryf het. Beat of my heart is ‘n snit wat al deur Bles Bridges opgeneem is; Gerrie se weergawe is nie te sleg nie.

Room full of roses was nog een van Bles Bridges se Engelse treffers; hy het dit altyd by vertonings gesing terwyl hy rose vir die dames in die gehoor uitgedeel het. Een van die snitte wat hy op Onthou die goue oues ingesluit het, is Alan Garrity se groot treffer Home isn’t home anymore. Vier woorde is oorspronklik dertig jaar gelede in Afrikaans deur Louise Senekal en Jaco Pieterse opgeneem en dit het die Treffer van die Jaar op die radioprogram Afrikaanse Treffers geword. Dit is eintlik die Afrikaanse weergawe van Andy Borg se Duitse treffer Die berühmte drei Worte. Met Louise en Jaco se opname het ‘n mens aan ‘n vrouestem gewoond geraak; daarom sou dit dalk nog beter gewees het as Gerrie dit as ‘n duet saam met ‘n sangeres opgeneem het. Nog ‘n Bles Bridges-treffer wat Gerrie ingesluit het, is seker die heel beste Engelse snit wat Bles ooit opgeneem het, naamlik Fight for love. Een van die ouer treffers op die album is Baby blue van George Baker Selection, wat die nr. 1-posisie op Springbok Radio se Top 20 gehaal het.

Nog ‘n sangeres wie se eerste treffer Gerrie ingesluit het, is Cornelia. Picking up pebbles is oorspronklik deur Matt Flinders opgeneem, maar Cornelia het in 1968 ‘n nr. 1-treffer daarmee gehad. Daar is twee keurspele op die album. Die eerste een bestaan uit Kruidjie-roer-my-nie, Stille rivierstroom en When Irish eyes are smiling. Soos baie mense sing Gerrie die woorde van Stille rivierstroom ongelukkig verkeerd. Die tweede reël van dié liedjie is “my hart is leeg geween”, en nie “ my hart was leeg gewees” nie. Dié onvergeeflike fout kom selfs in die nuwe FAK-sangbundel voor. Engiemand wat dié liedjie wil opneem, moet oor en oor na Nick Taylor se oorspronklike opname gaan luister. ‘n Mens vervies jou sommer as ‘n kunstenaar wat ‘n bestaande liedjie opneem, die woorde verkeerd sing, maak nie saak wie dit is nie. Die tweede keurspel bestaan uit Sproetjies, Trans-Karoo en Donkerbruin oë. ‘n Verrassing op die album is die byna vergete treffer van Rina Hugo, Los my alleen. Die laaste twee snitte op die album is twee van Gerrie se meer onlangse treffers, Daardie oomblik en Dan sê ek weer.

Ten spyte van die kritiek wat teen sommige snitte gelewer moet word, sal hierdie album sekerlik byval vind by Gerrie se aanhangers, veral dié wat om een of ander rede nie al sy musiek in hul versameling het nie. Die titelsnit gee ‘n mens hoop dat Gerrie weer binnekort splinternuwe musiek sal vrystel, en ‘n mens hoop dat dit gou sal gebeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tina ·

Ja ek stem saam, Juanita het ‘Blouberg se strand’ opgeneem, en alhoewel sy dit pragtig sing het sy ook ‘ n fout gemaak. Ek het al gewens sy wil dit oor opneem en dit regstel. Sy sing ‘dit is koel IN die lang nag, en ons groet die dag’. Dit moet wees ‘dit is koel NA die lang nag, en ons groet die dag’.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.