Resensie: ‘Die tyd is nou’- Amor Vittone

Amor Vittone se jongste album met een van die snitte "Alles net oor jou". Foto: Facebook.

Amor Vittone se jongste album met een van die snitte “Alles net oor jou”. Foto: Facebook.

Dis moeilik om te glo Amore Vittone al meer as vyftien jaar in die plaaslike musiekbedryf bedrywig is.

Sy het bekendheid verwerf as sangeres en televisieaanbieder, terwyl sy ook met die oud-Springbok-skrumskakel, Joost van der Westhuizen, getroud is. Dinge in haar persoonlike lewe het haar sangloopbaan onderbreek, maar sy het pas haar eerste album in ses jaar, Die tyd is nou, uitgereik, nadat sy ʼn kontrak by ʼn nuwe platemaatskappy onderteken het.

Haar nuwe platekontrak beteken sy het ook saam met nuwe liedjieskrywers begin werk. Een van hulle is Carla Oberholzer, wat ook besig is om haarself as sangeres te vestig. Die titelsnit is die eerste snit op die album wat Carla geskryf het en dit gaan beslis ʼn treffer word. Die boodskap van dié liedjie sluit ook aan by twee van haar vorige treffers, “Voluit lewe” en “Glo altyd aan môre”, maar miskien is hierdie een meer geloofwaardig.

Nog ʼn liedjieskrywer saam met wie sy die eerste keer werk, is Connell Cruise, wat treffers soos “Not just friends” en “I ought to tell you” as sanger gehad het. Hy en Amor het “Sprei my vlerke”, die eerste treffer op die album, saam geskryf. Hierop kom ʼn mens agter dat Amor die verlede wil agterlaat en vorentoe kyk.  Hierdie liedjie sou dalk nóg gewilder gewees het as dit nie haar eerste nuwe snit in soveel jare was nie.

Carla se tweede bydrae tot die album is die huidige treffer, “Alles net oor jou.” Dis maklik om te verstaan waarom hierdie snit ʼn treffer is. Vaughan Gardiner het die afgelope tyd groot sukses behaal met liedjies soos “Ver van my”, “Jou hart klop in my ritme” en “Sit vanaand op herhaal.” Hy was die komponis van “Te laat vir tot siens,” en enigiemand wat al vasberade was om ʼn verhouding te verbreek, sal met hierdie snit kan identifiseer.

Amor was nog altyd bekend daarvoor dat sy musiek gesing het wat die dansvloere vol kry en met “Voel my” doen sy daardie reputasie gestand. “Voel my” is ʼn komposisie van nóg ʼn liedjieskrywer saam met wie sy vir die eerste keer werk. Anki Delport se broer en skoonsuster is Wynand en Lindi Delport, die twee lede van die sangpaar Anders en sy het onder die naam Lokka Vox die eerste tien in die Afri-Visie-liedjiekompetisie met “Na na hey” gehaal. Hier is beslis ʼn snit met trefferpotensiaal!

Carla het die Afrikaanse woorde geskryf vir die volgende snit, “Vure”, nog ʼn snit wat ʼn treffer kan word. “Nie reg om reg te maak” sal dadelik bekend klink, want dit is die Afrikaanse weergawe van The Dixie Chicks se treffer “Not ready to make nice.” Soos wat ʼn mens ook op “Te laat vir tot siens” kan agterkom, lyk dit asof sy genoeg gehad het van mense wat met haar mors.

Kevin Britz is nog ʼn nuwe liedjieskrywer wie se werk vir die eerste keer op ʼn album van Amor voorkom. Hy was verantwoordelik vir “Versoen om te lewe.” Carla en Amor het die Afrikaanse woorde van “Sê net jy kom huis toe” geskryf en al is dit effens rustiger as die meeste ander snitte , verdien dit radiolugtyd.

Daar is een Engelse snit op die album, naamlik Carla se komposisie “You don’t know me.” Hierop wys Carla dat sy ewe goed in Engels as in Afrikaans kan skryf. Dit behoort ʼn treffer te word op radiostasies wat nie gewoonlik Afrikaanse musiek speel nie.

Deur die jare moes Amor baie kritiek verduur en sommige mense het nie veel van haar as sangeres gedink nie. Met hierdie album wys sy egter wat in haar steek. Dalk was ʼn goeie span liedjieskrywers al wat sy nodig gehad het en daarby is die musikale verwerkings op die album baie goed. Amor is terug met mening, en dit het tyd geword om haar ernstig op te neem!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.