Resensie: ‘Is duidelik’ – Emo Adams

Is-Duidelik-Emo-Adams

Emo Adams. Foto: Kknk.co.za

In 2007 het die musiekbedryf van Emo Adams begin kennis neem toe sy debuutalbum, Tall, Dark & Afrikaans, uitgereik is.

Sedertdien het hy ook bekendheid verwerf as aanbieder van die program Jou Show, wat op kykNET uitgesaai word. Nou het hy sy eerste konsert-DVD, Is duidelik, uitgereik. Dié vertoning is in die All Star-teater in Kaapstad opgeneem en hy word, soos op Jou Show, deur die Take Note Band begelei.

Die inleiding op die DVD, wat deur die orkes gespeel word, is dié van Paul Simon se groot treffer, “You Can Call Me Al”.

Adams het al saam met Alta Joubert en Minki Burger op die Lollos-DVD Bons dat dit gons verskyn, en die eerste liedjie wat Adams op hierdie DVD sing, is “Ons is lief vir jou Suid-Afrika”, geskryf deur Burger.

Die titelsnit van dié DVD het onlangs die eerste plek op Groot FM se trefferslys, die Groot 20, behaal en dis maklik om te verstaan waarom. Op dié snit spot Adams lekker met homself, en hy het seker gemaak dat niemand anders dit ooit weer sal kan opneem nie. Adams het Groep 2 se bekende “Oukraalliedjie” nuut verwerk, en hy noem dit “Die nuwe Oukraalliedjie”. Hy het ook gehelp om nuwe woorde daarvoor te skryf, maar hy sing nie die hele liedjie nie.

Met Kupido se treffer “Was ek maar ’n digter” bewys Adams dat hy nie net ’n grapjas is nie, maar ook dat hy regtig kan sing. Hy maak vir Bles Bridges ook perfek na en ’n mens kan nie anders as om lekker daarvoor te lag nie.

Die volgende snit is ’n keurspel van legendariese soul-liedjies, onder meer “My Girl” van The Temptations, “Heaven Must Be Missing an Angel” van Tavares, “I Swear” van All 4 One en “Billie Jean” van Michael Jackson. “Pom Pom Song” is miskien nie baie bekend nie, maar die refrein klink baie soos die Klaxons se “Clap Clap Sound”. Hier bewys Adams dat hy ook kan rymklets.

“Juffrou de Kock”, tot dusver een van Adams se grootste treffers, is ook op dié DVD. Hoewel Snotkop dit gewoonolik saam met hom sing, is Adams alleen in dié liedjie op dié opname..

“Tarantula”, nóg een van Adams se groot treffers, is ook op dié DVD.

Die volgende snit is ’n keurspel van Afrika-liedjies waarvan “Shosholoza” die bekendste is, en weer eens besef ’n mens watter goeie komediant hy is. Hy spot ook lekker met Gerhard Steyn se treffer “Baby tjoklits”.

Die laaste snit op die DVD is Adams se groot treffer “Gums kawielie wams”, maar die orkes speel ook ’n stukkie van Michael Jackson se “Billie Jean”.

Emo Adams wys op hierdie DVD dat hy ’n skerp humorsin het en nie op platvloerse “humor” hoef staat te maak om snaaks te wees nie. Hierdie DVD sal nie net by Adams se aanhangers byval vind nie, maar by enigeen wat van goeie musiek hou. ’n Mens sien uit na sy volgende CD.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.