Resensie: ‘Onthou my’ – Manie Jackson

Manie Jackson. Foto: Manie Jackson se Facebookblad.

Manie Jackson. Foto: Manie Jackson se Facebookblad.

Sedert Manie Jackson se debuut, Wie sal weet?, in 1998 uitgereik is, het hy een van ons land se gewildste kunstenaars geword. Daar was nietemin ook mense wat hom gekritiseer het omdat hy te veel na Bles Bridges klink.

Ná sy suksesvolste album tot dusver, Tydlose treffers, het sy vierde Afrikaanse album, Onthou my, onlangs verskyn, en die vraag is of hy sy kritici se monde met hierdie album gesnoer het. Soos die meeste snitte op die album is die titelsnit ’n Europese melodie met Afrikaanse woorde. Dit het een van die treffers op die album geword.

Die volgende snit, “Vier woorde”, is nie die een waarme Louise Senekal en Jaco Pieterse 30 jaar gelede ’n treffer gehad het nie, maar is ’n liedjie op die wysie van die Italiaanse liedjie “Il mondo”.

Ter viering van die 15de herdenking van Bles Bridges se dood is ’n album uitgereik waarop bekende hedendaagse kunstenaars se stemme by syne gevoeg is, en een van die twee snitte waarop Jackson deur middel van tegnologie saam met Bridges sing, is Marie van Zyl se treffer van die 1970’s, “Sien jou weer”. Hoewel Bridges en Jackson se stemme duidelik van mekaar onderskei kan word, kan ’n mens agterkom watter invloed Bridges op Jackson se loopbaan gehad het.  Jackson maak in elk geval geen geheim van die feit dat hy ’n groot aanhanger van Bridges is nie.

Engelbert Humperdinck was een van die gewildste kunstenaars van die 1960’s en Jackson het besluit om sy groot treffer van 1968, “A Man without Love”, op hierdie album in te sluit.

“Dorings vir Ma” was die eerste treffer op die album, en Jackson het dit saam met die legendariese Dennis East geskryf. Dit gebeur deesdae selde dat ’n kunstenaar op ’n liedjie praat én sing, maar Jackson doen dit hier. Hierdie soort liedjie was vroeër jare baie gewild, en dit sal dalk snaaks klink vir jonger luisteraars.

Aan die ander kant is Jackson se musiek hoofsaaklik op ’n ouer gehoor gemik. “Bly in my lewe”, nog ’n Europese melodie voosien van Afrikaanse woorde, is ’n moontlike treffer, en dalk een van die beste snitte op die album. “Antwoord my” is nog ’n snit wat Jackson saam met East geskryf het, en weer eens is dit ’n goeie snit wat ’n treffer kan word.

Bridges se dogter, Sunette, het die woorde vir “Hier” geskryf, ’n liedjie oor ’n slagoffer van ’n plaasmoord. Sunette het ook die woorde van die volgende snit, “Miskien”, geskryf. “Ek mis jou ’n bietjie” is nog ’n Europese melodie waarvoor Jackson Afrikaanse woorde geskryf het.

Die Ierse sanger Joe Dolan was die komponis van “Ek sal jou al my liefde gee” en Jackson het weer eens die Afrikaanse woorde geskryf. Dit was egter nie een van Dolan se groot treffers nie. Die meeste mense sal sy treffers “More and More”, “It’s You, It’s You, It’s You”, en “Hush Hush Maria” onthou.

Die derde en laaste snit waarvoor Sunette Bridges die Afrikaanse woorde geskryf het, is “Hemel en aarde”.

Die laaste snit op die album is die bekende “How great Thou art”, waarop Jackson aan die Here die eer gee vir die seëninge in sy lewe.

Met hierdie album gee Jackson sy aanhangers weer presies wat hulle wil hê, maar dit is te betwyfel of dit by ’n groter gehoor as enige van sy vorige albums byval gaan vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gina ·

Manie, jy is n ster. Jy sal dit nog ver bring in die lewe. Want jy lewe nie net vir jou medemens nie, JY lewe vir GOD. Maak nie wat jy sing nie, dit kom so uit jou hart uit. Hou so aan Manie, ons boere in Brits geniet jou musiek

Violet ·

Manie jy sing pragtig, daar is genoeg sangers wat vir die jong mense sing, so doen so voort en sing vir ons wat jou sang geniet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.