Skildery – Nadine

Nadine-Skildery

Nadine se nuutste album is beslis een van haar bestes nog, meen Daantjie Dinamiet. Foto: Argief.

Deur die jare was daar verskeie kunstenaars wat as tieners (of jonger) tot die musiektonel toegetree het, maar min van hulle het die deursettingsvermoë gehad om met hul musiekloopbane voort te gaan.

Lauren Copley en Lindie Roux het opgehou sing voordat hulle hul twintigerjare bereik het, terwyl Gwyneth Ashley-Robin net 15 jaar oud was toe sy in ‘n vliegongeluk oorlede is. Daar is egter een uitsondering: Nadine het op die toneel verskyn toe sy 14 jaar oud was, en haarself intussen as kunstenaar en televisieaanbierder gevestig.

Haar jongste album, Skildery, is onlangs vrygestel. Die titelsnit is ‘n komposisie van Johan Oberholzer, en Nadine het blykbaar so van hierdie liedjie gehou toe sy dit die eerste keer gehoor het, dat sy dadelik besluit het om dit die titelsnit van die album te maak. Dit is reeds ‘n groot treffer, en dit is maklik om te verstaan hoekom. Daar is ‘n plek in dié liedjie waar ‘n hoë noot wat sy probeer sing, effens skril is, maar dit doen min afbreuk daaraan. Tyd is nog ‘n komposisie van Johan Oberholzer wat ‘n treffer kan word. As ‘n mens na Hout op die vure luister, kom jy agter dat sy al hoe meer besig is om haar Krappies-en-krefies-beeld af te skud. In die manier kom ook op die album Afrikaans is groot Vol. 7 voor, maar dit beteken nie noodwendig dat dit ‘n treffer gaan word nie. Dit is nogtans goed genoeg om radiolugtyd te kry.

Soen-my glimlag is die eerste snit op die album wat nie deur Johan Oberholzer geskryf is nie; dit is ‘n komposisie van Ernie Bates, wie se debuutalbum onlangs vrygestel is. Dit is nog een van die moontlike treffers vanaf die album. Nege lewens klink heeltemal anders as die res van die album; hierop wys Nadine dat sy ook rustige ballades kan sing en hoewel daar byna niks anders as klavierbegeleiding is nie, klink dit baie goed. Daar staan nêrens geskrywe dat ‘n trefferliedjie noodwendig ‘n ritme moet hê nie, en dit sal goed wees as daar radiostasies is wat hierdie een by hul speellyste kan voeg. Vaughan en Nerine Gardiner het twee snitte op die album geskryf; Daai liefde is die eerste daarvan en dit is nog ‘n snit met trefferpotensiaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.