Toe die benoemings vir die Huisgenoot Tempo-toekennings vir 2015 in die kategorie vir beste nuwe kunstenaar aangekondig is, was Stiaan Reynierse se naam op die lys.
Stiaan se debuutalbum, Sonde, is in Maart vanjaar vrygestel en die musiekvideo van die enkelsnit, “Blomkind”, is pas uitgereik. Stiaan bring ʼn nuwe en unieke klank na die mark toe in titelsnit en ander oorspronklike snitte op die album.
Benewens die oorspronklike snitte het Stiaan ook ʼn paar bekendes ingesluit, onder meer Louis van Rensburg se bekende “Voshaarnooi”, “Genadewater”, waarop Richard van der Westhuizen saam met hom gewerk het, Simon and Garfunkel se “Bridge over troubled water” en Johnny Cash se treffer “Hurt”.
Stiaan het in Middelburg, Mpumalanga, grootgeword en was van 1997 tot 1999 lid van die Mpumalanga Prestige-jeugkoor en tot in 2000 ook lid van die Mpumalanga Prestige-orkes. Tussendeur het hy by verskeie feeste en privaatfunksies opgetree. Hy was egter eers ʼn amateurbokser voordat hy besluit het om hom op musiek toe te spits. Hy hou van ʼn wye verskeidenheid musiek, van rock tot blues en ʼn tikkie country.
Hoewel Stiaan reg laat geskied aan bekende kunstenaars se komposisies, is dit sy eie musiek wat ʼn mens ʼn kykie gee op sy siening oor die lewe en die liefde. Hy beskou dit as ʼn groot voorreg om op feesverhoë soos Aardklop, Innibos en Oppikoppi op te tree en hy het al die verhoog met kunstenaars soos Dozi, Deon van der Merwe en Koos Kombuis gedeel. Hoewel hy sedert 2011 gereeld in kuierplekke in Pretoria, Nelspruit en Middelburg optree, sien hy daarna uit om binnekort deur die land te toer.