Van Coke Kartel neem bekende snitte op

Van-Coke-Cartel-se-Here-man-toer

Van Coke Cartel vertrek binnekort op hulle ‘Here man’ toer. Foto: Verskaf.

Van Coke Kartel is ’n groep wat beslis nie gras onder sy voete laat groei nie.

Hoewel Francois van Coke se eerste solo-album pas uitgereik is, is hy en die res van die groep op pad terug ateljee toe om ’n EP (extended play) op te neem wat op 1 September beskikbaar sal wees. Die groep is ook besig om aan ’n oorspronklike liedjie saam met die hiphop-vervaardiger pH te werk, maar meer inligting hieroor sal later bekendgemaak word.

Van Coke Kartel het in die verlede al vier keer hul eie weergawe van ander kunstenaars se liedjies opgeneem.  In 2010 het hulle “Cocaine”, geskryf deur JJ Cale en wat ook ’n treffer vir Eric Clapton geword het, opgeneem. Een van die vergete treffers van die 1980’s wat hulle ook opgeneem het, is “Maniac” uit die rolprent Flashdance, wat oorspronklik deur Michael Sembello gesing is.

Die derde snit wat hulle in daardie jaar opgeneem het, was die titelsnit van Koos du Plessis se debuutalbum, Skadu’s teen die muur. Al drie dié snitte is ingesluit op Van Coke Kartel se album Skop, skiet en donner.

In 2012 was die groep deel van Ray-Ban se Legend Live-veldtog en hulle is gevra om Bow Wow Wow se treffer “I Want Candy” op te neem.  Hulle het dit verander na “I Want Brandy” en hierdie opname het 5FM se speellys gehaal.

Op hierdie stadium wil Van Coke Kartel nog nie te veel inligting bekendmaak oor die vyf liedjies wat hulle hierdie keer gaan opneem nie, maar liedjies van Thin Lizzie, The Beatles, Lana del Ray, Johannes Kerkorrel en James Brown is op die kortlys.  Van Coke vertel dat hy ’n groot aanhanger van Thin Lizzie is en dat die liedjie van dié groep wat hulle gaan opneem, een van sy gunsteling-liedjies tot nog toe is.

Volgens Wynand Myburgh, Van Coke Kartel se kitaarspeler en bestuurder, voel hulle dit het tyd geword om minder ernstig te raak en ’n bietjie pret te hê.

Die EP gaan in die vervaardiger Theo Crous se ateljee, Bellville Studios, opgeneem word.

Benewens die kortspeler beplan Van Coke Kartel ook die Here Man-toer, wat reeds op 6 Mei afskop. Die volledige toerprogram lyk soos volg:

6 Mei:  Aandklas, Birdstraad 43a, Stellenbosch

7 Mei: Die Mystic Boer, James Morokastraat, Potchefstroom

8 Mei:  Rumours Lounge,  Shop 20 Palm Court, Corneliusstraat, Weltevreden Park

9 Mei:  Arcade Empire,  The Highwaystraat 256, Equestria, Pretoria

Meer inligting oor die toer is op Van Coke Kartel se Facebook-blad beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.