Aardklop: Hier is die bestes

unnamed.jpg

Tinarie van Wyk-Loots ontvang haar toekenning. Foto: Burger Meyer

Twee produksies het uitgetroon tydens die prysoorhandiging op vanjaar se Clover Aardklop Nasionale Kunstefees – die klassieke Moeder Moed en haar kinders en die eietydse Son. Maan. Sterre.

Moeder Moed en haar kinders het die Clover Soveel Beter-prys vir die beste aanbieding (R60 000) ingepalm en Jerry Mofokeng het die OFM-prys vir beste regisseur (R15 000) gewen.

Dit het ook duidelik geblyk dat Laurika Rauch se terugkeer na Aardklop, ná ‘n afwesigheid van nege jaar, met ope arms en opgewondenheid deur feesgangers ontvang is. Nie as ek sing nie – Laurika Rauch het die Clover Soveel Beter-prys vir gewildste aanbieding (R40 000) gewen.

Son. Maan. Sterre. het weggestap met die Clover Soveel Beter-prys vir beste akteur en die Clover Soveel Beter-prys vir beste aktrise, albei ter waarde van R15 000. Wilhelm van der Walt het dit gekry vir sy vertolking van Ollie en Tinarie van Wyk-Loots het dit gewen vir haar vertolking van Megan, sowel as vir haar vertolking van Mariaan in Hemelruim.

Die ATKV Aartvark-prys vir grensverskuiwende werk is toegeken aan die woordkunsprojek, Byderhand, wat aangebied is in die botaniese tuin, by die Boeke-oase en by die Hoër Tegniese Skool Potchefstroom. Die prys is R15 000 en ‘n beeld van Sanna Swart.

Saam met Moeder Moed en haar kinders is nog twee stukke benoem in die kategorie beste aanbieding: Son. Maan. Sterre. en People Are Living There.

Moeder Moed is deur die beoordelaars beskryf as ‘n produksie sonder weerga en wat met flair al die registers trek – dié van kabaret, drama, patos en komedie; ook ten opsigte van dekor en kostuums en spel wat deurgaans goed is.

Geskryf as Mutter Mut und ihr Kinder deur die Duitse dramaturg Bertolt Brecht tydens die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog, verbeeld dié drama die mens se tweeslagtige houding jeens oorlog. Moeder Moed is die smous wat met haar wa en drie kinders munt slaan uit die oorlog en wat terselfdertyd diep deur die oorlog gekwes word. Saartjie Botha het die vertaling gedoen.

Volgens die beoordelaars blaas Mofokeng nuwe lewe in ‘n klassieke stuk. Waar Brecht gefokus het op historiese konflik bied Mofokeng ‘n blik op die universele verskrikking van oorlog. Dit bewerkstellig hy onder meer deur ‘n klankbaan wat ‘n parallelle werklikheid skep – dié van grommende helikopters, runnikende perde en wegtrekkende motors. Hy skep poëtiese oomblikke wat ‘n mens op ‘n visuele vlak bybly.

Saam met Mofokeng was die ander benoemdes in dié kategorie André Odendaal (People Are Living There) en Christiaan Olwagen (Son. Maan. Sterre.).

Wat die beoordelaars veral beïndruk het van Van der Walt is die manier waarop hy in Son. Maan. Sterre. oop en bloot ongesiens sy karakter ontwikkel van voorbeeldige, dog gefolterde jong man tot ‘n ysingwekkende kindermolesteerder. Dis die gefikseerde glimlaggie teen die einde van die produksie wat jou snags wakker sal laat lê… Sy medebenoemdes was Francois Jacobs (People Are Living There) en André Roothman (Moeder Moed en haar kinders).

Volgens die beoordelaars slaag Van Wyk-Loots daarin om ‘n besonder veeleisende rol in sowel Son. Maan. Sterre. en Hemelruim met groot gemak te vertolk. In haar vertolking van die rol van Mariaan in Hemelruim wys sy dat sy op die oog af moeiteloos van toneel tot toneel van gedaante kan verwissel: van guitige verleidster tot oorstelpde verloofde tot sterwende kankerlyer.

In Byderhand, ‘n projek aangebied deur die Vakgroep Skryfkuns aan die NWU, kry poësie, kort- en kinderverhale en spookstories gestalte in ‘n digitale era buite die raamwerk van woorde op papier. Bowenal word die omgewingspesifieke moontlikhede wat digitale tegnologie bied ten beste aangewend. Lesers kry die geleentheid om interaktief in kontak te tree met skrywers se werk – om die werk te lees, te hoor en in sommige gevalle na animasie en toonsettings van die werk te kyk en te luister.

Die paneellede, uitgesluit vir die gewildste aanbieding en vir die Mama Afrika-prys, was Diane de Beer, Theo Kemp, Danie Marais, Johan Myburg en Deborah Steinmair.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hantie Kruger ·

Ek is hoogs ingenome met die toekennings by Aardklop, waarvan die hoogtepunt vir my die Byderhand-projek is. Ek het soveel daaruit geleer. Dis opwindend en ek sien uit na die verdere verloop van hierdie besonderse navorsingsprojek van die NWU Skool vir Tale. Die Wêreldwye Web is sonder perke. Doen julle ding!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.