[Resensie] Aardklop: ‘Grootdoop’ in Sandton is ’n doop soos min

Hannah-Borthwick.jpeg

Hannah Borthwick is vanjaar te sien as Lisa in Sandton City grootdoop by Aardklop.

Sandton City grootdoop, vanjaar te sien by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees, met sy briljante teks en uitstekende toneelspel, is gemik op hardebaard-teatergangers.

Die storielyn handel oor ’n ma en haar twee dogters wat vir die eerste keer in ’n lang tyd bymekaarkom om die oudste, Danél, se verjaardag by Sandton City in Johannesburg te vier. In die proses begin die trio mekaar se verlede, gevoelens en emosies oopkrap, met eerlike en soms skreeusnaakse gevolge.

Kara, vertolk deur Joanie Combrink, is ’n aktrise wat haar man en kinders op ’n jong ouderdom verlaat het om haar groot droom om wêreldberoemd te wees te gaan navolg. Sy erken dat sy nie bevoeg of beskore was vir moederskap nie, maar probeer tog om tot hulle deur te dring en hul vertroueling te wees.

Haar oudste dogter, Danél, vertolk deur Roeline Daneel, is ’n lyer aan bipolêre gemoedsversteuring wat ná ’n onlangse selfmoordpoging weer by haar vervreemde ma bly. Danél is naïef en emosioneel en val maklik vir haar ma se manipulasie.

Haar suster, Lisa, gespeel deur Hannah Borthwick, is ’n uitgesproke lesbiër wat haar ma verwyt omdat sy tot dusver niks van waarde met haar lewe gedoen het nie. Sy is baie kwaad, kras en rou en wil graag haar ma skok met haar belaglike uitrustings en uitlatings oor seks, maar ’n mens kom agter dat sy eintlik rigtingloos en kwesbaar is.

Die minimalisme van die stuk – slegs drie karakters en die minimum rekwisiete – bind jou en hou jou vasgenael tot die einde. Uitmuntende toneelspel en Wessel Pretorius se skryftalent speel ook ’n rol daarin om die gehoor mee te sleur.

Wat jou bybly, is die gedagte dat mense maar net mense is; dat versoening deel van menswees is; dat stukkende mense mekaar kan help heel word, en dat familie tog familie bly – ondanks omstandighede, persoonlike keuses en uitdagings.

Te sien op 10 Oktober om 12:30 by Boys High in Potchefstroom. Kaartjies is hier beskikbaar teen R110,00.

Luister hier na Maroela Media se gesprek met Roeline Daneel en Hannah Borthwick oor die produksie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.