‘Aanvaar ons net, wees geduldig,’ vra outisme-gemeenskap

melt-olckers

Melt Olckers. Foto: Verskaf.

Deur Melt Olckers

April is die internasionale maand van outisme. Dit is die maand waarin die “verf dit blou”-veldtog jaarliks deur outisme-organisasies gehou word met hoofsaaklik twee doelwitte:

  1. Om bewustheid van outisme by die algemene publiek te bevorder, en
  2. Om geld in te samel vir die finansiering van hierdie organisasies.

Daar heers ʼn groot onkundigheid by die algemene publiek oor wat outisme is. Die meeste mense se kennis oor outisme spruit uit die rolprent Rain Man, wat glad nie die werklike beeld van outisme uitdra nie.

In die brosjure “Outisme Praktiese Aspekte” (gratis aflaaibaar vanaf www.aut2know.co.za) word drie hooftipes outisme beskryf:

  1. Asperger-sindroom

OSV veroorsaak nie altyd verstandelike gestremdheid nie. Mense wat deur OSV geraak word, kan oor normale of bogemiddelde verstandelike vermoëns beskik, met byna normale spraakontwikkeling. Daar word gesê dat hierdie mense Asperger-sindroom het. Ongeveer 25% van mense met OSV het Asperger-sindroom.

  1. Klassieke/Kanner-outisme

Wanneer OSV met verstandelike gestremdheid en/of leerprobleme gepaardgaan, word gesê dat hierdie mense “klassieke” of “Kanner”-outisme het. Altesaam 75% van mense met OSV het verstandelike gestremdheid of leerprobleme.

  1. Savant-vorm van outisme

Ongeveer 5% van mense met OSV het die “savant”-vorm van outisme. Hierdie subgroep kan beskryf word as individue wat oor byna “bomenslike” vermoëns in een gebied beskik, tesame met ernstige gebreke in ander gebiede. Byvoorbeeld, ʼn persoon wat nooit geleer het hoe om klavier te speel nie, kan dalk ʼn volledige klavierstuk speel nadat hy of sy slegs een keer daarna geluister het, maar kan nie eenvoudige daaglikse take uitvoer nie.

Outisme word in die algemeen uitgeken aan ʼn drietal gebreke, wat ook die vereiste insluit waarin voldoen moet word om as OSV gediagnoseer te word. Dit is die ontwikkeling van taal en kommunikasie, sosiale interaksie en gedrag en verbeelding.  Buiten die drietal kenmerke is daar ook verhoogde/verskerpte sensoriese persepsie wat deur Carina Verwey beskryf is in haar artikel oor haar seuntjie wat vroeër die maand in Maroela Media verskyn het.

Outisme is in 1943 gelykertyd vir die eerste keer omskryf deur twee navorsers aan verskeie kante van die Atlantiese Oseaan. In die VSA het dr. Kanner agtergekom dat van die kinders in sy hospitaal aan ʼn tipe afwyking ly wat in die literatuur van die tyd onbekend was. In Duitsland het dr. Hans Asperger ʼn studie gedoen onder kinders waarin hy vertoë gerig het aan die Nazi-regering dat hierdie kinders nie geklassifiseer moet word as onwaardig om te lewe nie. Asperger het die aanbeveling gemaak dat hierdie kinders opgelei en aangewend kan word om die Britse en Amerikaanse militêre kodes te ontsyfer. Die Nazi’s het nie ag geslaan op hierdie aanbeveling nie. Nie lank daarna nie, ontsyfer oftewel “breek” dr. Alan Turing, ʼn volwasse persoon met Asperger-tipe outisme, die Nazi’s se Enigma-kodes, nadat hy die eerste rekenaar, bekend as die Turing-masjien, gebou het (Silberman: Kindle-aanwysing 3709).

Outisme was vir ʼn lang tyd onbekend en beskou as ʼn rare toestand. Dokters het toe geglo dat dit veroorsaak word deur wat hulle genoem het “vrieskas-moeders”. Dit is ma’s wat nie genoeg liefdevolle aandag aan hulle kinders gee nie. Latere navorsing het die teendeel bewys. Dit was ook eers in 1995 dat Asperger-outisme erken is as ʼn tipe versteuring. Onlangs, ná lang gesprekvoering onder kenners, is besluit om die drie hooftipes van outisme saam te klassifiseer as Outisme-spektrum-versteuring.

Die algemene publiek het eers in die 1980’s werklik bewus geword van outisme, en dit was veral die rolprent Rain Man met Dustin Hoffman en Tom Cruise wat dit onder die publiek bekend gemaak het.  Die rolprent het egter ʼn baie skewe beeld van outisme geskep wat nou eers en tog stadig verander. Dit word nie meer beskou as ʼn baie rare toestand nie. Daar word gereken een uit 68 mense het die een of ander vorm van outisme. ʼn Meer positiewe beeld word ook deur Hollywood uitgedra soos die hoofkarakters van die televisiereeks The Big Bang Theory (behalwe Penny wat “normaal” is), Sherlock Holmes in die Britse reeks Sherlock, Adrian Monk in Monk, dr. Gregory House in House MD, Spock in Star Trek en meer onlangs Christian Wolff in The Accountant.

Ongelukkig is daar ook “con artists” wat geld uit die toestand wil maak deur te beweer dat hulle ʼn geneesmiddel het vir outisme. Dit sluit in: ʼn Bleikmiddel wat deur middel van ʼn enema toegedien word. Hierdie metode kan lewenslange mediese probleme of selfs die dood van die kind veroorsaak. Sommige predikers beweer ook dat outisme deur duiwelsbesetenheid veroorsaak word.

Kinders met veral Asperger-outisme is ook gereeld slagoffers van afknouery wat ook langtermyn psigiatriese probleme kan veroorsaak soos post-traumatiese stresversteuring. Tog, al wat ons in die outisme-gemeenskap aan die publiek vra, is: Aanvaar ons en wees geduldig met ons. Ons kan ʼn baie positiewe bydrae lewer, net soos Alan Turing gedoen het.

Bronne:

Autism South Africa.  Outisme Praktiese Aspekte. www.aut2know.co.za

Silberman, S. Neurotribes; The Legacy of Autism and How to Think Smarter About People who Think Differently. Avery. 2015

  • Melt Olckers is self met outisme gediagnoseer en is ‘n lid van die uitvoerende komitee van Autism South Africa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Vragie ·

Dit is waar. Waneer met.my kinders winkel.toe gaan word ons so aangastaar dit is skoon hartseer. Dan kry ons some mense wat verstaan en dadelik weet en so liefdevol toon!.

L. HAVENGA ·

Ek vermoed dat ek outisties kan wees. ‘n Mediese dokter het my ingelig dat ek moontlik kan wees maar ek wou dit nie aanvaar nie. Is dit moontlik? Hoe gaan ek te werk om vir seker vas te stel?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.