Aksie in Afrikaans

afrikaans

Argieffoto.

Deur Annelize Jansen van Rensburg

Gedink ou honde kan nie nuwe truuks leer nie? Wel, Afrikaans kán. Sy is 91 jaar oud en is gedurig besig om te vernuwe en te transformeer. Haar arms is lank, haar boesem is groot: daar is plek vir almal. Hier is 16 redes, oud en nuut, wat jou sal laat onthou hoekom jy so van haar hou.

1. Afrikaans.com – www.afrikaans.com

Alle paaie van en na Afrikaans kom bymekaar by hierdie splinternuwe bielie van ʼn webtuiste met inligting oor en skakels na alles wat jou Afrikaanse hart begeer. Lees hier oor feeste, organisasies, die Taalwet, ʼn woordspeletjie, inligting oor boek-toepassings vir kleuters, blogs, stories, sêgoed, Afrikaans in die sakewêreld en taaldebatte. As iets in Afrikaans gebeur, gaan jy dit hier vind.

Hulle is tans besig met die veldtog Hoe lyk JOU Afrikaans? Stuur inskrywings in die vorm van foto’s, stories,klankopnames/videos of enigiets unieks om te wys hoe jou Afrikaans lyk en wen dalk ʼn prys. Besoek die webtuiste vir meer inligting.

2. Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) – www.atkv.org.za

Die ATKV is deel van Afrikaanssprekendes se DNS en kan beskryf word as die steunpilaar van die Afrikaanse taal en kultuur. Hulle is al vir 86 jaar lank op verskeie terreine van die samelewing betrokke by projekte en organisasies om Afrikaans te bewaar en uit te bou, hetsy as beskermheer, borg, vennoot of op ʼn direksie. Van hul projekte behels die immergewilde redenaarskompetisies, ʼn spelathon, olimpiades, kinderboektoekennings en gedigtekompetisies. Daar is ook ʼn projek wat fokus op die bevordering van Afrikaans in Soweto. Sluit aan teen ʼn billike fooi as lid om afslag by hul vakansieoorde te kry, asook ʼn kwartaallikse gratis tydskrif van topgehalte, die Taalgenoot.

3. Afrikaanse Wikipedia – www.af.wikipedia.org

Maak gerus deurstoppers van jou ou ensiklopedieë, want al daardie inligting is nou aanlyn op Wikipedia beskikbaar. Die Afrikaanse Wikipedia vorder fluks met reeds meer as 41 000 artikels wat deur vrywilligers geskryf is. Indien die inligting waarna jy soek, nog nie in Afrikaans beskikbaar is nie, skryf sommer self ʼn artikel. Jy kan ook bestaande artikels vertaal of wysig. Maroela Media het ʼn inligtingsvideo wat jou wys hoe om dit alles te doen. Doen navraag by www.maroelamedia.co.za.

4. Beter Afrikaans –www.beterafrikaans.co.za

Diegene wat op skool uitgeblink het in spel- en grammatikatoetse, sal hierdie blad waardeur. Nee, nie waardeur nie, waardéér. Toets hoeveel taal- en spelkennis jy nog het, poets jou bestaande kennis of leer iets nuuts deur daagliks ʼn kort aanlyn toets in te vul. Jy kry jou resultate dadelik en jy kan dit meet aan die gemiddeld van ander spelers. Daar is verskillende moeilikheidsvlakke. En niemand hoef te weet van jou foutjies nie.

5. Die tale wat ons praat. Radio – www.rsg.co.za

Taalkundiges deel hul kennis op ʼn manier wat meer klink na jou oupa se lekkerluisterstories as taallesse. Hierdie halfuurlange radioprogram op RSG Sondagoggende om elfuur is gans te kort, want nes jy lekker luister na antwoorde op luisteraars se taalnavrae, aktuele taalsake, die oorsprong en herkoms van woorde en korrekte taalgebruik, dan is dit verby. Gelukkig is dit op RSG se webtuiste as potgooie beskikbaar om weer te luister.

6. Facebook – Afrikaanse graffiti op virtuele mure.

Daar is vele virtuele sitkamers waar jy in en oor Afrikaans kan gesels, raad oor taalkwessies kan uitruil, giggel, skinder en soms vurig debatteer. Onthou, op sosiale media moet jy jou woorde tel en jou sensitiewe vel bêre. Besoek gerus die volgende groepe: Taalgoggas en Balbyters (taalsake), Carpe Noctem (vir poësieskrywers), Argaïese Afrikaanse uitdrukkings is cool! (ou sêgoed word onthou), Radiorillers en Groepgruwels (as jy wil skinder oor ander se taalgebruik), Taaltameletjies (vir akademici) en Lekkerlees Boekrak (bespreek boeke).

7. Filmverse – ATKV

Hoe kry jy jongmense sover om belang te stel in poësie? Jy sit prentjies by. Filmverse 2 is onlangs bekend gestel en is die tweede aflewering van die ATKV se digkuns-animasieprojek. Twaalf Afrikaanse gedigte is deur kunstenaars geanimeer. Hierdie films is ook oorgeklank na Engels, Zoeloe en Sesotho. Dit gaan te sien wees by Aardklop en daarna by al die nasionale kunstefeeste in 2017. Kontak [email protected] om die DVD te bestel.

8. In die bed met Bibi – Televisie – VIA

ʼn Bed en boeke hoort saam, nie waar nie? Die joernalis en digter Bibi Slippers bied ʼn nuwe boekeprogram aan waarin sy onderhoude voer met lesers, skrywers en lede van ʼn boekklub. Van die onderhoude word in haar bed gevoer. In die bed met Bibi is Woensdagaande om 20:00 op VIA (DSTV-kanaal 147) te sien. Skop jou pantoffels uit en kuier saam.

9. Litnet – www.litnet.co.za

Litnet is inderdaad “ʼn Huis met baie wonings”, aldus hul slagspreuk. Dwaal en verdwaal na hartelus tussen al hierdie wonings met nuus oor boeke en skrywers, resensies, skrywersonderhoude en skryfkompetisies. Sien sake vanuit verskillende hoeke in meningsvormers se briewe, rubrieke en blogs. Lees ander hangkasskrywers (soos jy) se kortverhale, gedigte en artikels en stuur sommer joune ook in. Bly op hoogte van gebeure in die kunste, teater, fliek en musiek. En dan is daar Lênet…

LitNet Akademies is, volgens hul webwerf, “ʼn geakkrediteerde akademiese aanlynjoernaal wat Afrikaanse navorsingsartikels publiseer” oor onderskeidelik godsdienswetenskappe, natuurwetenskappe, opvoedkunde en regte.

10. Mieliestronk – www.mieliestronk.com

As die kinders net na aandete op ʼn Sondagaand onthou van ʼn taak wat die volgende dag ingehandig moet word, bly kalm en raadpleeg Mieliestronk. Hulle spesialiseer in skooltake en die ensiklopediese inligting op hulle webwerf sal jou nie teleurstel nie.

11. Op die Spel 2017 – Televisie – Kyknet

Hier word die uitblinkers van die goue-sterkandidate geskei. Vier deelnemers gaan weekliks die Afrikaanse grammatika en alfabet laat kreun tydens vrae oor onder andere spelling, idiome, hoofletters, los/vasskryf, meervoude. Hou Kyknet en die media dop vir aankondigings oor wanneer die program begin.

12. Roekeloos – www.roekeloos.co.za

ʼn Gholfballetjie het 336 kuiltjies. Hierdie inskrywing kom voor onder die opskrif Trivia op hierdie webtuiste, een van vele interessante en eienaardige feite wat alfabeties gelys is. Daar is ook inligting oor boeke, feeste, die kunste, spreekwoorde en gesegdes en algemene nuusbrokkies. Lesers kan verhale en gedigte instuur vir moontlike plasing.

13. Jy wou nog altyd skryf? – natuurlik kan jy!

Bring daardie geheime skryfsels in jou laai na die ATKV-Skryfskool van die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Hulle bied kort skryfkursusse aan tydens die jaarlikse Lenteskool (3 dae) en ʼn Winterskool (5 dae). Bekendes uit die skryfwêreld tree as aanbieders op en gee raad oor verskillende genres. Kontak Kobie by [email protected] vir inligting.

As ʼn aanlyn kursus jou beter gaan pas, is www.skryfgeheime.com een van die opsies. Kies ʼn kursus en werk teen jou eie tempo. ʼn Ervare kursusleier gee terugvoer en leiding oor jou werksopdragte.

Boeke oor die skryfkuns –  kyk gerus na die Afrikaanse skryfgids en Stylboek – riglyne vir paslik skryf.

14. Varsgebek – www.varsgebek.org

Skryf jou ouma of jou 6-jarige se snaakse, unieke of nuwe sêgoed in en staan ʼn kans om ʼn prys te wen. In die eerste afdeling van hierdie kompetisie, Sêgoed, word nuwe of bestaande sêgoed, woorde, uitdrukkings, terme en idiome ingestuur wat nog nie voorheen in ʼn woordeboek opgeteken is nie. ʼn Paneel besluit watter inskrywings vir opname in woordeboeke oorweeg gaan word. In die tweede afdeling, Kykgoed, moet woorde, uitdrukkings, terme en idiome grafies uitgebeeld word.

15. Virtuele instituut vir Afrikaans (VivA) www.viva-afrikaans.org

As nuweling op die taallandskap, het VivA ten doel om, as ʼn digitale navorsingsinstituut en diensverskaffer, die gebruik en gehalte van Afrikaans uit te bou, te beskryf en te bestudeer, digitale hulpbronne en platforms te ontwikkel en om ʼn Afrikaanse taaldiens te lewer. Daar is gratis woordeboekfunksies en ook ʼn adviesportaal waarheen jy taalnavrae kan stuur wat deur ʼn ervare taaladviseur beantwoord word.

16. WAT en HAT: Vinkel en koljander?

“Sê WAT jy wil, ouderdom is maar net ʼn getal, dis die ondervinding WAT tel.” Dís hoe die prokureursfirma Cluver Markotter die WAT gelukwens met sy 90ste verjaarsdag in Beeld. Die WAT is ʼn omvattende verklarende woordeboek met ʼn groot versameling uitdrukkings. Elke woord bevat uitgebreide inligting.

Die HAT is ook ʼn verklarende woordeboek, maar die inligting by elke woord is meer kompak. Beide is aanlyn beskikbaar.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.